Die skrywer en digter Clinton V. du Plessis is onlangs met 'n rare toekenning, wat nog net enkele ander skrywers beskore was, vereer.
Du Plessis het verlede naweek gedurende die Etienne van Heerden Veldsoirée in Cradock Die Orde van die Windpomp ontvang.

Die naam van die toekenning laat toe om die verbeelding aan te gryp, iets soos 'n toekenning aan 'n held miskien?
Inderdaad.
Volgens Izak de Vries, die organiseerder van die fees, is die toekenning 'n erkenning aan iemand wat die gees van die Veldsoirée in hul aktiwiteite beliggaam, as mens die gees van die soirée verteenwoordig en iemand wat as mens gerespekteer word.
Die Orde van die Windpomp is voorheen ook al aan Darryl David, Fanie Olivier en Elise Bishop toegeken.
Du Plessis is 'n inkennige mens wat nie van die kollig hou nie.
Sy beste werk lewer hy as hy skryf oor die bitter verlede waarin hy grootgeword het."
— IZAK DE VRIES
Hy is baie bekend vir sy snydende gedigte en kortverhale. Van sy onderwerpe in sluit anti-apartheid, seks, armoede en prostitute wat hy in sy werk as mense en nie net bloot as objekte nie beskryf.
"Die outsider, die underdog is sy fokus," sê De Vries.
"Sy beste werk lewer hy as hy skryf oor die bitter verlede waarin hy grootgeword het, dit slaat jou vir 'n ses."
"Hy is 'n stil mens.
"Sag.
"Sal soms wegkruip.
"By 'n vorige Veldsoirée is hy genooi om gedigte voor te lees. Toe die mense in die saal kom, is die gedigte orals opgeplak, en Clinton is skoonveld!"
Hy publiseer self.
Soms is sy werk byna traktaatagtig en hier en daar is wel 'n kleiner uitgewery betrokke, maar Du Plessis dryf bewustelik na die periferie, teen die hoofstroom in.
Etienne van Heerden, wat die toekenning aan hom oorhandig het, het genoem dat Du Plessis hom na Facebook wend om die gewone mens met sy werk te bereik.
Dit gaan nie soseer oor finansiële gewin nie, maar oor die uitpraat teen onreg.
Du Plessis woon en werk in Cradock as 'n rekenmeester.














