Kuns

Dié grootse kunstenaar weer vereer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die uitstal van kunstenaars se werke, nuut sowel as oud, is van onskatbare waarde om te verseker dat die kultuur van kuns oor die wêreld heen bevorder en bewaar word en dat kunstenaars vir hul werk vereer word.

Om dié rede is die uitstalling Umbhiyozo: Celebrating Pemba: The Art & Legacy of George Milwa Mnyaluza Pemba, wat nou by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig kan word, van groot belang.

'n Skildery deur George Pemba wat by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig kan word.
'n Skildery deur George Pemba wat by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig kan word.

Pemba was een van Suid-Afrika se belangrikste kunstenaars en het 'n uitstaande bydrae tot kuns oor die wêreld heen gelewer. Tydens dié uitstalling word 26 van sy kunswerke uitgestal.

Die skilderye is deur die GFI-kunsgalery by die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum (NMMK), die William Humph­reys-kuns­galery en private kunsversamelaars vir die doel geleen.

George Pemba se skilderye kan by die GFI-kunsgalery besigtig word. Foto: Bob Binnellon Pemba's 80th birthday
George Pemba se skilderye kan by die GFI-kunsgalery besigtig word. Foto: Bob Binnellon Pemba's 80th birthday

Pemba wat sy lewe lank 'n man van min woorde was, is op 2 April 1912 in Korsten, Port Elizabeth (nou Gqeberha) gebore en het 'n nederige lewe gelei.

Om die daaglikse lewe van mense in informele nedersettings en in die landelike gebiede op doek te verewig, was sy passie.

"Ek weet nie of ek ooit werklik 'n welbekende kunstenaar sal word nie, maar 'n kunstenaar vir my eie mense sal ek gewis wees," het hy op 'n keer gesê.

Min het hy toe geweet dat hy nie net deur sy eie mense as kuns­tenaar vereer sou word nie, maar dat hy oor die wêreld heen as kunstenaar bekendheid sou verwerf.

'n Skildery deur George Pemba. Foto: Verskaf
'n Skildery deur George Pemba. Foto: Verskaf

Dié uitstalling verteenwoordig die viering van die lewe van 'n man met 'n nederige begin wat gedryf was deur dissipline, toewyding en 'n liefde vir sy kuns wat hy daagliks van 'n jong ouderdom beoefen het.

Hy is reeds as kind deur sy pa aangemoedig om te teken en het die mure in sy ouerhuis beskilder en soms portrette van foto's af van sy pa se werknemers vir sakgeld gemaak.

'n Beurs het hom die kans gebied om sy skoolloopbaan by die Hoërskool Paterson te voltooi waarna hy ook 'n onderwysdiploma verwerf het en illustrasies vir kinderboeke geteken het.

Ná sewe jaar het hy die onderwys verlaat om 'n beter betaalde werk as 'n boodskapper van die "Native Commissioners' Court" te word.

'n Skildery deur George Pemba wat in 1948 geskilder is. Foto: Verskaf
'n Skildery deur George Pemba wat in 1948 geskilder is. Foto: Verskaf

Later het hy met nog 'n beurs wat aan hom toegeken is, kuns aan die Rhodes-Universiteit studeer en daarna vir 'n rukkie tyd deurgebring by Maurice van Essche se ateljee in Kaapstad, waar hy die kunstenaar Gerard Sekoto ontmoet het.

Gedurende dié tyd het hy ook nie net meer met waterverf geskilder nie, maar het olieverf sy voorkeurmedium geword.

Sekoto het hom aangemoedig om voltyds kuns te beoefen waarna Pemba in die 1940's deur die land begin toer het.

Sarah Hudleston, die skrywer van die boek George Pemba: Against All Odds, het gesê dat Pemba deur dié toer 'n indrukwekkende nalatenskap vir die land nagelaat het deur die omgewing, gebeure en mense te skilder.

Die skildery deur George Pemba kan by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig word. Foto: Verskaf
Die skildery deur George Pemba kan by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig word. Foto: Verskaf

"Hy het die geskiedenis van die land deur sy werk opgeneem en kan met goeie reg ‘The Painter of the People' genoem word," het sy in haar boek gesê.

Pemba het ook graag geskryf en minstens twee verhoogstukke, The Story of Nongqaouse en The Xhosa Prophet Ntsikana, die lig laat sien.

Pemba het verskeie eerbewyse in sy leeftyd verwerf waaronder die Orde van Ikhamanga (goud) in 2004 wat deur die Suid-Afrikaanse regering aan hom toegeken is vir sy pioniersgees en bydrae tot kuns en literatuur.

Pemba is op 12 Julie 2001 in Motherwell in die Oos-Kaap oorlede.

'n Skildery deur George Milwa Mnyaluza Pemba. Foto: Verskaf
'n Skildery deur George Milwa Mnyaluza Pemba. Foto: Verskaf

Die uitstalling by die GFI-galery is deur Investec geborg wat 'n belangrike ondersteuner van Suid-Afrikaanse kunstenaars is en word met die ondersteuning van die George Pemba Art Foundation, die NMMK, Mendi-kunssentrum en die Nelson Mandela-Universiteit aangebied.

Die uitstalling duur tot 3 Junie en kan op weeksdae van 10:00 tot 16:00 en op 'n Saterdag van 10:00 tot 13:00 by die GFI-kunsgalery by Parklaan 30 in Sentraal, Gqeberha, besigtig word.

Skakel 041 586 3973 of stuur 'n e-pos aan info@gfiartgallery.com of besoek die webwerf by www.gfiartgallery.com of die Facebook-blad by www.facebook.com/GFIArtGallerySA/ of op Instagram by https://www.instagram.com/gfiartgallery/.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM