’n Polisiekonstabel is ongedeerd in Gqeberha gevind nadat hy tydens ’n rooftog by ’n gastehuis ontvoer is.
Die rooftog het Maandagaand kort voor middernag by ’n gastehuis in Mount Croix in Gqeberha afgespeel.
Drie rowers het volgens die polisie se inligting op die gastehuis toegeslaan waar hulle geld geëis het. Toe hulle nie geld by die gastehuis vind nie, het die rowers geëis dat die gastehuis se kamers oopgesluit word sodat hulle goedere by gaste en in die kamers kan buit.
Terwyl die kamers deurgegaan is, het die rowers besef een van die gaste is ’n polisiebeampte. Hy was nie aan diens nie. Die rowers het die polisielid se goedere afgevat, hom vasgebind en geblinddoek voordat hulle hom in hul voertuig gelaai en met hom weggery het.
Die polisielid is later vrygelaat, het kol. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens ’n betroubare bron is die polisielid iewers in Noordeinde vrygelaat. Hy was met kabelbinders vasgebind, maar kon daarin slaag om homself los te wikkel en het hulp gaan soek.
Mawisa het Dinsdag gesê die polisielid kry tans die nodige ondersteuning ná die traumatiese voorval.
’n Ondersoek is aan die gang om die presiese omstandighede en motief te bepaal. Die drie rowers word steeds gesoek.
Enigeen met inligting kan die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.










