Twee diverse maar ewe interessante uitstallings kan by die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum (NMMK) in Gqeberha besigtig word.
Die Rooi Lokasie-kunsgalery en die NMMK het 'n uitnodiging aan professionele kralewerk-kunstenaars (beaders) gerig om deel te neem aan Master Beadwork, 'n inisiatief wat fokus op tradisionele Oos-Kaapse kralewerk.

'n Kralewerk-slypskool met demonstrasies en praatjies deur kundiges is vooraf aan dié kunstenaars aangebied.
Phumla Matele was die fasiliteerder van dié geleentheid.
Nonongwe Celela en Amanda Qeqe het die kunstenaars meer omtrent kontemporêre tradisionele kralewerk ingelig, terwyl Steven Long sy kennis van kralewerktegnieke en kulturele kralewerk gedeel het.
Idees en kennis is ook onder die kunstenaars uitgeruil.
Elke kunstenaar kon twee werke aanbied - die eerste 'n replika van een van die stad se historiese kralewerk-versamelings en die tweede een 'n kontemporêre kralekunswerk.
Die kunstenaars se kralewerk is beoordeel op die kwaliteit van die werk, die uitbeelding van die geskiedenis en die kultuur van die Oos-Kaap en die kreatiwiteit van die werk.
Thandile Woji, Thotyiswa Mbatsha, Lungiswa Gqoba, Ncebakazi Xhuma, Nosipho Siko, Kholiswa Ziqula, Nonkumbuzo Jako, Namhla Macfarlane, Nomathemba Petshwa, Nokwayintombi (Nozuko) Willem, Nosimiselo Mbata, Priscilla Nomalizo Nopote, Nomasamariya (Samie) Mkotshana, Anita Lupuwana, Nwabisa Mnqumevu, Phumelela Citwa, Vuyo Mpondo-Hani, Sekiwe Calata, Nonkululeko Ngcivana en Zingisa Mhlekwa is die kunstenaars wie se kunstige kralewerk by die NMMK besigtig kan word.
Die uitstalling The Art and Legacy of George Pemba wat reeds geruime tyd aan die gang is, is gewis 'n besoek werd.
Hiervoor het die NMMK weer eens in samewerking met die Rooi Lokasie-kunsgalery saamgespan om 'n indrukwekkende uitstalling aan te kon bied.
Hierdeur wou hulle hulde bring aan die oorlede Oos-Kaapse kunstenaar George Pemba wat 'n enorme bydrae tot kuns in Suid-Afrika gemaak het. Kontemporêre kunstenaars is uitgenooi om werk vir die uitstalling in enige medium aan te bied wat Pemba se werk, lewe en visie reflekteer.

Die 26 kunstenaars wie se werk daarvoor gekies is, is Andrew Barber, Angie Franke Weisswange, Banele Njadayi, Bretten Anne Moolman, Bruce Gardner, Bulelani Mashiya, Gugulethu Mpofu, Karabo Marule, Lez Dor, Llise Dodd, Luthando Manga, Madoda Bethwell Honi, Mxolisi Sapeta, Nceba Ntwakumba, Ntomboxolo Nomkhalo, Phumlile Rawana, Phumla Citeko, Pilane Moapesi, Sakumzi Nyendwana, Simon Venter, Victoria Flowers, Vuyisanani Ngwadla, Wandile Msipa, Wellington Phepheng en Yvette Mey.
Daar word ook 16 van Pemba se kunswerke uitgestal wat deel is van die NMMK se permanente kunsversameling. Albei uitstallings duur tot 15 September.
In die koue weer is daar nie 'n beter manier as om kinders kreatief besig te hou nie.
Die NMMK bied in Augustus twee slypskole vir kinders van sewe tot 15 jaar aan.
Tydens die geleentheid, wat gratis op twee onderskeie Saterdagoggende aangebied word, sal kinders die geleentheid bied om te leer hoe om basiese drukwerk te doen, asook hoe om te teken en te verf. Al die materiaal daarvoor sal verskaf word.
Die drukwerk-slypskool word op 12 Augustus aangebied, en die teken- en verfwerkskool op 26 Augustus. Albei slypskole duur van 10:00 tot 12:00.
Kinders moet ou klere of 'n voorskoot wat heel moontlik met verfspatsels versier sal word, aantrek.
Bespreek daarvoor deur 'n WhatsApp te stuur aan 079 4900 690.



















