Die 12de FynArts-kunstefees op Hermanus in die Wes-Kaap bied 'n uitvoerige program wat strek van uitvoerings van klassieke musiek, boekgesprekke, 'n gesprekreeks oor aktuele sake, praatjies oor visuele kuns, asook kunstentoonstellings en slypskole oor kos en wyn.
Van 7 tot 17 Junie beloof die kusdorp om 'n woelige nes van kuns-en-kultuurgeesdriftiges te wees.
Onder die hoogtepunte op die visuele kunsprogram tel:
Die Legacy-eerbewys word op 8 Junie in die NG kerk in Hermanus aan William Kentridge oorhandig. Om 11:00 in die Windsor-hotel gesels van die 11 kunstenaars wat hul werk op die Sculpture on the Cliffs vertoon oor die inspirasie agter die beelde, waarna die tentoonstelling van die beelde by Gearing se Punt geopen word.
Onder die kunspraatjies wat die afslaer Strauss & Co op die fees borg, tel praatjies soos dié oor die beeldhouers Ezrom Legae en Sydney Kumalo. Die nuwe publikasie The Sculptures of Sydney Kumalo and Ezrom Legae - A Catalogue Raisonné word op 8 Junie om 15:00 in die munisipale ouditorium bekend gestel.

Die kunstenaar Gordon Froud gesels op 9 Junie om 09:30 in die ouditorium oor "Diane Victor: Prints, Drawings, Smoke".
Op 12 Junie om 11:00 gesels Felicity Jervis in die ouditorium oor die naakstudies van bekende kunstenaars, waaronder Michelangelo se Dawid-beeld en die werke van Picasso en Goya in die praatjie "Some Nudes I Have Known". Sy gesels ook op 11 Junie om 11:00 oor Wene, die stad van musiek en drome, in "Vienna: 1840-1940: The Golden Era of the Imperial City".
Die unieke kenmerke van die Suid-Afrikaanse musiekspel kom onder die loep in die praatjie "The South African Musical" deur Norman Smuts op 16 Junie om 15:00 in die ouditorium.
Op 14 Junie om 17:00 gesels Frans Meyer in die Windsor-hotel met die kunskenner Amanda Botha oor sy boek, Impossible Skies: Life with my Brother the Artist Walter Meyer. In die praatjie word Meyer se wortels verken, sy nalatenskap as gerekende landskapskilder en sy stryd met drank.

Mikhael Subotzky, die feeskunstenaar, se werk is in die FynArts-galery te sien. 'n Omvattende kleikuns- en keramiek-tentoonstelling, Chromatic Clay, is in die Windsor-hotel te sien met werke van onder andere Mark Chapman, Hennie Meyer, Charmaine Haines en Sonia Kastner. Kleiner beeldhouwerke van die kunstenaars wat tans en voorheen deelgeneem het aan Sculpture on the Cliffs is te sien in die Marine-hotel.
Besoekers kan ook gemaklik stap tussen die 21 galerye op die dorp wat vir die duur van die fees ook uitstallings aanbied. By Rossouw Modern is die werk van onder andere Leandro Solomons te sien en by die Walker Bay Modern Art-galery is die werk van Marieke Prinsloo-Rowe te sien.
Die nuwe sensuur in Suid-Afrika kom onder bespreking in die skrywer Christopher Hope se praatjie "New South Africa - New Censors" op 10 Junie om 08:30 by die Hermanus-gholfklub.
Onder die talle boeke wat bespreek gaan word in die twee weke tel Adam Welz se The End of Eden: Wild Nature in the Age of Climate Breakdown. Welz is in gesprek met Kobus du Pisani, Beverley Roos-Muller gesels met Christopher Hope oor haar boeke, Bullet in the Heart en Hunting the Seven.

Rudie van Rensburg gesels oor sy boeke Dwelm en Hans kry troukoors, Darrel Bristow-Bovey praat oor Finding Endurance, Penny Haw praat oor The Woman and the Wheel, en Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se kookboek There is a Vegan on my Verandah kom ook onder die loep.
Slypskole in selfoonfotografie, kleikuns, olieverfwerk, die skep van 'n kunsjoernaal, boekmaak, kuns met blomme en lap en die maak van kerse word ook aangebied.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of Pick n Pay-winkels.





















