Kunstenaar vier 2 vreugdes

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met 'n solo-kunsuitstalling vier die Oos-Kaapse kunstenaar Deidré­ Howarth haar loopbaan as kunstenaar sowel as haar verjaardag. Dit kan van vandag in die Ann Bryant-kunsgalery besigtig word.

Howarth (54) skilder al die afgelope 20 jaar heeltyds.

Deidré Howarth vier 20 jaar as kunstenaar en haar 54ste lewensjaar met 'n solo-kunsuitstalling wat vanaand in die Ann Bryant-kunsgalery in Oos-Londen open.
Deidré Howarth vier 20 jaar as kunstenaar en haar 54ste lewensjaar met 'n solo-kunsuitstalling wat vanaand in die Ann Bryant-kunsgalery in Oos-Londen open.

"Ek is in Pretoria gebore, het daar groot geword en my man daar ontmoet," vertel sy.

"Daarna het ons ses jaar in Stutterheim gewoon en toe na Queenstown verhuis."

"Dit is waar ek die kunstenaar Bob McKenzie ontmoet het wat my gevra het of ek nie een van sy kunskursusse wou bywoon nie."

"Ek het sowat drie jaar saam met hom geskilder en onder sy bekwame leiding ook begin uitstal en nog nooit weer terug gekyk nie."

Deidré Howarth se solo-uitstalling open vanaand om 18:30 by die Ann-Bryant-kunsgalery in Oos-Londen.
Deidré Howarth se solo-uitstalling open vanaand om 18:30 by die Ann-Bryant-kunsgalery in Oos-Londen.

Later het sy en haar gesin na Oos-Londen verhuis, waar sy self begin het om kunsklasse aan te bied en haar voltyds aan skilderwerk toe te wy.

Dit is Howarth se eerste solo-uitstalling en daar is 35 kunswerke wat uitgestal en te koop aangebied sal word. "Ek verkies olieverf omdat dit so 'n vergeef­like medium is wat jou in staat stel om "foute" te kan regstel en soveel tekstuur bied."

Sy skilder graag landskap­tonele en diere. "Dit is vir my belangrik, veral omdat die natuur so gou kan verander; ek probeer iets wat verganklik is op doek verewig."

'n Landskaptoneel deur Deidré Howarth. Foto: Verskaf
'n Landskaptoneel deur Deidré Howarth. Foto: Verskaf

Sy is getroud met Philip en hulle het twee seuns, Llewelyn en Eugene, 'n hond met die naam Leo, asook twee eende en agt visse sonder naam.

"Om te ontspan stap ek graag in die natuur, wat dan ook sommer as inspirasie vir my skilderye dien."

Sy het al aan verskeie groepuitstallings deelgeneem en haar werk by die Makhanda-kunstefees uitgestal.

"So tussendeur, om die pot aan die kook te hou, skilder ek op kommissie en bied soms uitstallings by my ateljee aan."

Die uitstalling open vandag, 26 Januarie om 18:30 met 'n kaas-en-wyngeleentheid by die Ann Bryant-kunsgalery in St. Marksweg 9 in Oos-Londen en duur tot 9 Februarie.

Haar kunswerke kan aanlyn op haar Facebook-blad besigtig word, asook by SouthAfrican­Artists.com en Fine­Art­America. com.

Skakel 067 008 4646 of e-pos howarth­art@gmail.com vir nog inligting.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

CTA