Kuns

Oos-Kaapse kunstenaar hou solo-uitstalling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carnival deur Marion Weymouth.
Carnival deur Marion Weymouth.

Diverse kunswerke wat die 77-jarige Oos-Kaapse kunstenaar Marion Weymouth se oeuvre kenmerk, is opgeneem in die solo-uitstalling The Power of Pastels wat by die Ann Bryant-kunsgalery in Oos-Londen aangebied word.

Weymouth, wat in Gonubie woon, is in Komani (Queenstown) gebore en het ook daar skoolgegaan. Sy het nooit professionele kunsopleiding ontvang nie, maar het haarself leer teken en skilder. "My belangstelling in kuns is reeds van 'n baie jong ouderdom aangewakker," sê sy. "Ek onthou die pragtige stel pastelkryte wat my pa vir my gegee het toe ek nege jaar oud geword het," sê sy.

"Hy het my regdeur my skooljare aangemoedig om aan te hou teken, en dis wat ek steeds doen.

"Ek verkies steeds pastelle, maar meng dit soms met akriel om tekstuur by te voeg sodat die werk 'n ander tipe effek sal verkry."

Weymouth put inspirasie uit die verskillende mense wat sy gedurig in die loop van haar lewe ontmoet.

"Mense fassineer my, ek hou daarvan om mense uit alle vlakke van die samelewing te teken, van 'n professor by die universiteit tot 'n werklose man op straat.

"Om kinders te teken is ook vir my baie spesiaal, maar ek vind dat dit moeiliker is om hul karakters so realisties soos dié van volwassenes in my werk vas te vang."

Sommige van die mense wat sy ontmoet en teken, is vir ewig in haar geheue ingeprent.

Sy is onlangs deur 'n winkel­eienaar genader met 'n opdragwerk.

"Hy wou gehad het dat ek sy ouers moes teken. Ek sit toe sak en pak af Transkei toe om hulle te gaan ontmoet en foto's van hulle te neem.

'Homeless 1' deur Marion Weymouth.
'Homeless 1' deur Marion Weymouth.

"Toe die werk klaar is en ek my betaling ontvang, kry ek op die koop toe 'n lewende hoender saam as geskenk.

"Dit was vir seker die interessantste betaling vir 'n kunswerk wat ek al ooit in my lewe ontvang het!"

Weymouth het al aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika deelgeneem en haar kunswerke is in private versamelings oor die wêreld heen opgeneem.

• The Power of Pastels duur tot 15 Julie by die Ann Bryant-kunsgalery in Marksweg 9 in Southernwood, Oos-Londen. Besoektye is van 09:00 tot 16:00 en op 'n Saterdag van 09:00 tot 12:00.

• Bel Leon du Preez by 043 722 4044 of 083 501 3392 vir nog inligting.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM