Dis nie verkeerd om hierdie projek as swart skouspel te beskryf en daarby geen ironiese of politiek-geteisterde bybedoelings te hê nie.
Die Zeitz Mocaa se somerseisoen-kunsaanbieding When We See Us: A Century of Black Figuration in Painting is 'n viering en 'n vervoering.
Dis kunshistories van belang. Dit sal hordes kultuurtoeriste lok en Kapenaars sal hulself tekort doen deur nie self te gaan kyk nie.
Vir al die hooghartige kulturele ambisie van die tentoonstelling is dit nie verkeerd om te sê nie dat 'n besoek aan dié waterkant-museum 'n vermaaklike en vrolike uitstappie is.
In een van die netjies-saamgestelde groeperings, ‘Joy and Revelry', byvoorbeeld, is die bacchanaalse Afrika-gees lieflik op loop. Hulle sakkie-sakkie alte lekker in Moké se nagklub en kwasa-kwasa in Vuza Ntoko se kuierprentjie. Jy vang die gees.
When We See Us het aanloklikheid ingebed: Dit omvat 'n eeu van spesifieke kuns, skilderye, tematies-gefokus in uitbeelding en vertolking, met 'n dinamiese eietydse blik van en vir ons tyd. (En het wel 'n goeie en sagte sweempie van 'n besinnende politieke bewussyn.)
Soos ons al hoe meer in vooraanstaande, versamelaar-gemikte galerye wêreldwyd sien, maar ook so avontuurlik op kunsfeeste en markte en in internasionale kunsmuseums, het swart kunstenaars die eietydse kollig. Veral dié van ons vasteland.
'n Mens kan bespiegel oor die motiewe (skuldgevoel, postkoloniale uitval, mode, die versamelaarsmark), maar dit is 'n feit dat nie-wit kunstenaars selde behoorlik en ernstige aandag getrek het.

Hierdie tentoonstelling, wat 154 kunstenaars van 28 lande betrek, vat nie kortpad met die uitdaging van regstelling nie. As dit só is, is hierdie swart ekonomiese bemagtiging in die internasionale kulturele sin eweneens pure avontuur en kykgenot. Bykans 200 kunswerke is te sien en meer as 70 versamelings van 26 lande het werke geleen.
Vanuit 'n Suidelike-Afrika-oogpunt is die saamtrek van 'n wêreldwye diaspora van die kunsbedryf ook interessant.
Tandazani Dhlakama, een van die kurators, sê hulle het probeer om 'n ware beeld voor te hou van die historiese konteks van Swart- en Afrika-kunsbewussyn.
"Die oudste kunstenaar is in 1886 gebore, die jongste in 1999. Kunsskole, style, neigings en erfenis kom onder die loep. Daardeur verbreed ons die historiese kontinuum van swart selfvoorstelling deur ook te wys op die belangrike bydrae van sommige kunstenaars tot 'n afdeling van kuns wat tot dusver nie genoegsame aandag gekry het nie."
Die museum werk reeds lank aan hierdie projek wat ook lei tot 'n vername publikasie onder die drukmerk van die beroemde kunsuitgewery, Thames and Hudson. Dit word in samewerking met die Universiteit van Kaapstad se Institute for Humanities in Africa onderneem.
Die boeiende, uitdagende titel van die projek kom van die gewilde 2019 Amerikaanse TV-reeks When They See Us van die skitterende rolprentmaker Ava DuVernay.
Dié het Swartbewussyn as't ware direk in die (Amerikaanse) middelklas se visie gesit.
Deur die "they" na "we" te verander, verskuif die metaforiese inslag na bemagtiging sowel as selfondersoek. En 'n viering.
When We See Us: A Century of Black Figuration in Painting span nie net wyd wat die aantal werke en kunstenaars betref nie, dit beoog om talle gesprekke rondom swart selfuitbeelding, subjektiewe ervaring en, natuurlik, tradisionele Swartbewussyn uit te lok. Beide ouer werk en kuns wat in Afrika en die diaspora geskep word, kom in gesprek.

Maar al kom hierdie "filosofiese" insette duidelik te sprake, het Kapenaars - en besoekers - die buitengewone voorreg om hierdie dinamiese visuele vermaaklikheid te ervaar. Met die klem op skilderkuns, een van die oudste media van die kunsbedryf, bring die tentoonstelling daardie lekkerkyk-dinamika aan boord.
Die projek nooi in sy wysheid kykers uit om saam die kreatiwiteit van Afrika en die diaspora te vier: hoe dit voorgehou, onthou (of vergeet) word en hoe die Afrika-ervaring visueel te sprake kom.
Die kurators sê die tentoonstelling huldig die standvastigheid, essensie en politieke drif van swart vreugde. En "vreugde" is 'n goeie woord hier.
Ses temas word betrek: benewens "Joy and Revelry" is daar "The Everyday", "Repose", "Sensuality", "Spirituality" en "Triumph and Emancipation". Elkeen met 'n pikante muurteks-inleiding.
Koyo Kouoh, hoofbeampte van Zeitz Mocaa, wys daarop hoe toenemend prominent swart kunstenaars, veral skilders, se werk die laaste paar jaar geword het.
"Dis gepas om hierdie soort oorsig nou aan te pak, want dit verbind die eietydse kunsbedryf van dié aard met dieper historiese konteks, asook die netwerke van ingewikkelde en onderverteenwoordigde verwantskappe. Talle geslagte van dié kunstenaars was betrokke in uiteenlopende uitdrukking en bewussyn van swartheid en Afrika-skap."
• When We See Us is tot September volgende jaar in Zeitz Mocaa in Kaapstad te sien. Kry meer inligting by 087 350 4777.






















