Die Artec-kunsgalery en gemeenskapsentrum in Sentraal in Gqeberha was die afgelope tyd dikwels hier in die Oos-Kaap in die nuus weens die welbekende kunssentrum se stryd om te oorleef.
Dié sentrum maak steeds staat op kunsliefhebbers om die uitstallings wat daar aangebied word, te besigtig en op die manier nie net die kunstenaars nie, maar ook die sentrum te ondersteun.
Op die oomblik word daar 'n uitstalling toepaslik genoem Central op die boonste verdieping van die sentrum aangebied.
Hlumelo Dyantyi, beter bekend as Milo aan die Baai se kunsliefhebbers, het die uitstalling saamgestel sodat dit soos 'n tipiese oudmodiese kunstenaarsateljee lyk.
Die kunswerke word rondom die gestileerde installasie teen die mure uitgestal en is plaaslike kunstenaars se weergawe van Sentraal, die pragtige ou woonbuurt wat deesdae gebuk gaan onder verwering, vandalisme en misdaad.
Kunstenaars wie se werk besigtig kan word, is onder andere Lez Dor, Succeed Mathebula en Vuyisanani Ngwadla.

Nog 'n interessante toevoeging tot die uitstalling is 'n skildery deur die ontslape kunstenaar Ron Belling. Dié skildery is 'n toneel van die N1-snelweg tot in die stad soos vanuit die lug gesien.
Dit is 'n kosbare herinnering aan Belling se versameling lugvaartskilderye wat nou deel is van die Gutsche-familie se kunsversameling en by die GFI-galery in Gqeberha besigtig kan word.
Belling se 154 lugvaartskilderye en 'n aantal tekeninge is in 1989 in 'n boek, A Portrait of Military Aviation in South Africa, uitgegee.
Daar is ook drie argitektoniese sketse van die Campanile-toring in Jettystraat in die middestad by die ingang van die hawe en die spoorwegstasie wat te koop aangebied word.

Op die sketse is die toring omring met munisipale geboue en 'n burgersentrum wat op die ou end nooit gebou is nie omdat die snelweg in die 1970's tussen die toring en die hawe-ingang gebou is.
Die vierkantige toring in rooi baksteen is gebou op die plek waar die Britse setlaars geland het. Die beroemde kloktoring van Venesië het as inspirasiebron daarvoor gedien wat deur V.T. Jones en W.J. McWilliams ontwerp is.
Bel Louise Luders by 073 761 9418 vir meer inligting oor die uitstalling.




















