Skeppers van kuns só gevier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die unieke gees en diversiteit van kunstenaars in die Baai word dié somervakansie met 'n besonderse opwipwinkel in die Donkin-reservaat in die stad gevier.

Plaaslike kunstenaars word daar 'n geleentheid gebied om hul handewerk uit te stal en te koop aan te bied.

Kunswerke soos dié deur Lookout Sibanda kan by die opwipwinkel in die Donkin-reservaat in Gqeberha besigtig word. Foto: Willemien Green
Kunswerke soos dié deur Lookout Sibanda kan by die opwipwinkel in die Donkin-reservaat in Gqeberha besigtig word. Foto: Willemien Green

Die handewerk-opwipwinkel word in samewerking met die Nelson Mandelabaai-metro, die direktoraat vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme en die departement van sport, ontspanning, kuns en kultuur aangebied.

Die meeste van die kunstenaars is bekendes en het al aan sowel verskeie groep- as solo-uitstallings deelgeneem.

Die kunswerke is spesiaal uitgesoek en gehalteprodukte soos juwele, keramiekkuns, draadwerkkuns en borduurwerk deur Aphelo Koelman, Asanda Ntwana, Ayanda Mji, Bonita Cerfonteyn, Kholiswa Zigula, Kuhle Ntsoto, Layola Ndzamo, Lookout Sibanda, Ncebakazi Xuma, Nokuzola Ngcangca, Nolubabalo Tom, Nonkosazana Johnson, Nonkululeko Ngcwana, Nozuko Mangkwana, Nwabisa Mnqumevu, Phumelela Citwa, Ronell Barendse, Thandile Woji en Thenyiswa Magabela word daar uitgestal.

Sowel plaaslike inwoners as toeriste, wat insluit passasiers van plesierbote wat in die Baai anker gooi, kan die uitsonderlike kunswerke besigtig en aankoop wanneer hulle die Donkin-reservaat in Sentraal in Gqeberga besoek.

Die kuns-opwipwinkel kan andersins elke Saterdag tot einde Februarie in die nuwe jaar besoek word.

In die Donkin-reservaat, wat een van die bekendste historiese besienswaardighede in die stad is, kan onder meer die piramide besigtig word wat deur sir Rufane Donkin ter herinnering van sy vrou, Elizabeth, opgerig is en 'n roerende boodskap bevat, asook die lighuis wat in 1861 opgerig is.

Dan is daar op dieselfde terrein ook "Roete 67", 'n kunsroete wat spesiaal geskep is om die talent van plaaslike kunstenaars bekend te kan stel.

Daar sal vir die duur van die opwipwinkel veiligheidspersoneel aan diens wees en daar is ook genoegsame parkering beskikbaar.

Skakel die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum by 041 506 2000 of die Donkin-toerisme-kantoor by 041 585 8884 vir meer inligting.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

CTA