Kuns

Besoekende kunstenaar se kuns in Baai te sien

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Solo-kunsuitstalling deur Beatrix Reinhardt, 'n besoekende kunstenaar en dosent, is tans in Gqeberha te sien.

Reinhardt fokus in Geography of Belongingop binne- en buiteruimtes en ondersoek die verhouding tussen ruimte, geheue en geskiedenis.

Beatrix Reinhardt by van die voorwerpe wat op die uitstalling 'Geography of Belonging' te sien is.  Foto's: Basil Brady
Beatrix Reinhardt by van die voorwerpe wat op die uitstalling 'Geography of Belonging' te sien is. Foto's: Basil Brady

"Wanneer ek met binneruimtes werk, sien ek die manier waarop individue hulself uitdruk deur hoe hulle hul eie ruimtes organiseer, gebruik en versier, en hoe dit gesien kan word as 'n uitdrukking van kulturele waardes, geskiedenisse, ideale, oortuigings, individuele smaak en sensitiwiteite," verduidelik Reinhardt.

"As ek met buiteruimtes werk, kyk ek na wat ek charged sites noem.

"Ruimtes waar daar drama en of spanning voorgekom het. My uitbeeldings bied egter min of geen waarneembare bewyse van hierdie geskiedenis nie.''

Die implikasie is dat betekenis slegs deur menslike ervaring aangedui kan word.

'Where to' deur Beatrix Reinhardt.
'Where to' deur Beatrix Reinhardt.

"Voorwerpe roer herinnering. Hulle inspireer stories, en die oorvertelling van hierdie stories vorm geheue. Vir individue, soos vir gemeenskappe, kan gesê word dat geheue identiteit is of, ten minste, 'n noodsaaklike deel daarvan is.''

Om dus jou geheue te verloor, is letterlik om nie meer te weet wie jy is nie, meen Reinhardt. "Ek glo die meeste van ons het al die gevolge van so 'n verlies gesien.''

Reinhardt het in die stad Jena in die voormalige Oos-Duitsland grootgeword. Ná die voltooiing van haar voorgraadse studie in letterkunde aan die Freie Universität in Berlyn het sy twee jaar aan die New School for So­cial Research in New York studeer, waar sy 'n MA-graad in mediastudies behaal het.

Kunswerke deur Beatrix Reinhardt wat by die Nelson Mandela-Universiteit se Birdstraat-kunsgalery besigtig kan word.
Kunswerke deur Beatrix Reinhardt wat by die Nelson Mandela-Universiteit se Birdstraat-kunsgalery besigtig kan word. (Picasa)

Tydens haar studie in New York het sy ook fotografie begin studeer - wat sy later aan die Illinois State University voortgesit het.

Sedert sy haar meestersgraad in beeldende kunste voltooi het, leef sy in verskillende dele van die wêreld waar sy as 'n dosent en dikwels as 'n kurator werksaam is.

Die uitstalling duur tot Maandag 22 Augustus en kan in die week van 09:00 tot 16:00 by die Nelson Mandela-Universiteit se Birdstraat-kunsgalery in Sentraal, Gqeberha, besigtig word.

Stuur 'n e-pos na gallery@mandela.ac.za of visualarts.mandela.ac.za vir inligting.

Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM