Talle kunstenaars ontgin die spesiale bande van hul herkoms, en baie vier in hul loopbane daardie heimat met 'n eiesoortige kuns wat plek en tyd pas en huldig. Willie Bester is so 'n kunstenaar en die plek is sy geboortedorp Montagu.
In Augustus keer hy letterlik en figuurlik terug na die mooi dorp aan die rand van die Klein-Karoo. Hy kom kyk en praat en bring sy kuns. 'n Tentoonstelling van sy kuns open op 13 Augustus.
Bester sal ook op 11 Augustus praat hy by 'n unieke uitstalling van leerlinge se kuns, wat deel van die Montagu Nasionale Jeugkunstefees is. Dit duur tot 20 Augustus en meer as 14 skole neem deel, en is dus werklik iets om te vier.
Alles gebeur onder die vaandel van die Montagu Kulturele en Opvoedkundige Trust (MKOT) in die historiese ou KWV-gebou wat in 1907 opgerig is.
Bester se terugkeer is deels permanent, want van sy kunswerke gaan daar bly om die dorpenaars en die karakters van Montagu met 'n spesiale uitstalling te vier. As jy Bester se kuns wil sien, kan jy Montagu toe kom.
Dit sou ook nie verkeerd wees om te sê dat hy reeds sy kleim in die pragtige gebou afsteek nie.
Een van die uitstaande plekke in dié reeds histories-argitektonies geseënde dorp is hierdie statige en eenvoudige nywerheidsruimte wat destyds die KWV gehuisves het. Netjies reggemaak deur 'n geïnspireerde plaaslike groep geesdriftiges, is dit nou 'n kultuursentrum.


Die MKOT bestuur die gebou op die hoek van Kohler- en Langstraat, en Bester het reeds in 2007 sy eerste plaaslike uitstalling hier gehou. Dieselfde jaar het hy 'n unieke trap vir die uitstalruimte geskep - iets wat vandag nog besondere aandag trek.
Letterlik 'n beeldhouwerk, is dit saamgestel uit ou en gebroke landbou-implemente en verbind die grondvloer met die galery-verdieping. Die konstruksie is saam en met plaaslike vakmanne gedoen.
Bester het dit as 'n simbool van versoening en ter viering van die ou Sendingkerk se 100-jarige bestaan geskep.
Sentraal aan Bester se kuns is juis die reeks portrette wat hy oor die jare heen van gewone mense van Montagu geskilder het.
Dié "nie-bekendes" - almal met 'n verfynde skilderkunstige deernis vasgelê - is een aspek van Bester se kuns wat sy hegte sosiale betrokkenheid oor die jare van sy loopbaan 'n menslike gesig gee. Dis uniek Willie Bester en uniek Montagu.
Die gedagte is dat verskeie werke nou permanent in die lokaal in Langstraat vertoon sal word. Soos met sy vorige uitstallings is dit ook 'n sterk toeriste-attraksie in die dorp - die kunstenaar se dorp.
Skakel 082 752 7054 vir meer besonderhede.





















