Die tonnel deur Kalkoenkrans, daar tussen Ashton en Montagu in die Wes-Kaap, kan beskou word as die poort tot die Klein-Karoo.
Dis nie 'n imposante tonnel of een wat vir kilometers deur die aarde wurm nie, maar bloot 'n opening van 15 x 5m wat byna natuurlik lyk en 'n mens onkant betrap.
Van Ashton se kant af kronkel die R62 vir 'n paar kilometer langs die Kogmanskloofrivier en 'n mens verkyk jou behoorlik aan die rotsformasies. Skielik voel dit of die pad om 'n draai teen die berg gaan vasloop... en dan is Kalkoenkrans voor jou.
Die tonnel voel ook soos die grens tussen goeie en slegte weer. Ons het die afgelope winter daar gaan kamp opslaan, en toe ons uit die Moederstad weg is, het dit dae aaneen gereën en dit was kaggelvure wat gebrand het pleks van kampvure.
Maar by die Glen Eden-kampplek, enkele kilometer anderkant Montagu, is die hemel blou en kinders hardloop rond asof dit hoogsomer is.
Montagu, 85km van die see af, lê skaars 220m bo seespieël, maar dis 'n hoogte wat vinnig toeneem op pad na African Game-lodge.
Diep in die berge, nadat jy 30km grondpad gery en 'n goeie 500m vertikaal geklim het, ry jy 'n kampplek binne waar jy voel jy moes eerder vir 'n week bespreek het as net 'n naweek.
AFRICAN GAME-LODGE
Duskant die hemel

Soms werk 'n mens se kampplanne nie heeltemal uit nie. Vandag speel die weer nie heeltemal saam nie en ons kom boonop laat weg uit die stad. En niemand wil in die donkerte aanmeld by 'n kampplek waar jy nog nie voorheen was nie.
Die feit dat dit diep in die berg is en die grondpad eindeloos voel, maak dinge nie juis makliker nie.
Dis die een betondrif ná die ander, maar oor die pad self kan 'n mens nie kla nie... totdat 'n bordjie wys jy moet regs afdraai. Die breë pad verloor lyf en dan is dit knikke met motorhekke. En jy hou nie op klim nie.

Genadiglik verskyn die hek van African Game-lodge ná ongeveer 24km links (ná die vierde hek). Jy druk die knoppie vir die interkom en die hek skuif in die stikdonkerte oop. Jy weet jy het 'n stewige klim agter die blad, maar die einde is nog nie in sig nie.
Net wanneer 'n mens wonder hoe ver jy nou al van die beskawing af is, verskyn 'n paar wit geboue uit die niet. Iemand staan met 'n flitslig en beduie jou nader. In dié stadium is dit beter om nié te weet dis het einde nog niet. Jy staan nou voor die kantoor en jou staanplek is verderaan... met 'n grondpad.
Monwabisi Merile, die plaasbestuurder, kom stel hom voor en dis lekker om die gawe persoon agter die telefoonstem te ontmoet. Hy vra of jy genoeg braaihout saamgebring het, so nie is daar 'n paar sakkies by jou staanplek waarvoor jy later kan regmaak.
"Vuuraanstekers?"
Van hier af ry jy agter Monwabisi aan oor 'n kliprantjie voor jy op 'n kol links draai. Die veldbossies groei tot teen die smal paadjie en dis duidelik jy kom kamp net met jou boswa, want dié wêreld is nie bedoel vir 'n padwoonwa nie.
Uiteindelik hou Monwabisi stil by die kampplek. Hy stap om 'n gebou en skakel 'n lig aan. Hy wys hoe die gasgeiser in die badkamer werk en groet dan.

Dis dan wat 'n mens besef jy kamp nou so na aan die hemel as kan kom. Dit voel of jy bo-op die berge sit en jy sien nie net die duisende helder sterre van die Melkweg bo jou nie; dit lyk of daar enorme spookasembolle in die hemellig verweef is, byna soos spinnerakke.
As jy jou sit kry in die kampstoel langs die vuur, besef 'n mens daar is nie 'n horlosie wat sê wanneer jy moet kamp nie.
Kamptyd is enige tyd, altyd. Hier sit 'n mens laatnag en voel of jy in die heel voorste ry van die heelal se natuurvertoning sit. Dis maar net die begin, want môre is dit tyd om te sien wat regtig om jou aangaan.
Die planne wat aanvanklik nie uitgewerk het nie, word 'n seëning.Hier is net een staanplek, maar bring gerus jou vriende saam, want tot 12 mense word op die staanplek toegelaat en minstens twee boswoonwaens sal daarop kan inpas. (Geen tente word egter toegelaat nie.)
Ons kamp alleen, wat beteken dis soos 'n private staanplek. Jy het omtrent alle geriewe tot jou beskikking behalwe 'n selfoonsein en krag. Jy moet dus jou eie krag saambring, iets wat gewoonlik standaard is op boswaens (die ligte hier werk van batterye af).
As jy internet nodig het, moet jy terugry kantoor toe. Hier is die wifi gratis, maar daar is steeds geen selfoonontvangs nie.
Jy maak jou wa staan langs 'n betonvloer van 7 x 12 treë. Een wa kan maklik op die kop van die kort kant inpas en 'n ander op die lang sy soos 'n mens ingery kom. As jy mooi pas, sal jy dalk 'n derde wa inkry. Om die beton is 'n stuk wat met stene geplavei is - jy kan jou wa se een wiel hierop trek om jou stoepdak in te pas.
Vir die mense aan die kopkant is selfs voorsiening gemaak vir die stoepdak se ankertoue: daar is drie staalogies in die beton waaraan jy 'n tou kan vasmaak. Hulle is netjies gespasieer, die regte afstand van die wa af en werk uitstekend.
Rondom die plaveiselskouer is gebreekte perskepitte wat gelyk gehark is.
Oor 'n deel van die betonvloer is skadunet gespan, en agter dit is 'n staandak wat nie net die son keer nie, maar ook reën, soos ons die laaste dag ervaar het. Die een helfte tussen die dak en die vloer is met gaasnet toegespan en die oorkant is oop.
Die opwasgedeelte is in die toe hoek met 'n wasbak en groot werkblad langsaan. Dis waar die sakkies hout en 'n ekstra gassilinder staan.
Die deur regs gee jou toegang tot die badkamer - die deurhandvatsel is deel van 'n elandskelet.
Dis 'n smallerige vertrek wat net so breed is as die betonvloer, maar heeltemal ruim genoeg. Heel links is die toilet en voor jou 'n diep losstaande bad wat jy enige tyd in die badkamer van 'n spoghuis sal aantref.

Regs is 'n tafel met 'n wasbak, en hier is selfs sjampoe, seep en lyfseep neergesit, asof jy in 'n hotelkamer oornag. Agter dit staan twee paraffienlampe wat nog nuut lyk. Die stort is in 'n oop skuiling agter teen die gebou.

Rondom jou is dekgras, en al is daar nie 'n dak nie, voel dit heel privaat.
As jy kans sien om 'n vuur te stook, kan jy die houtbrandbad (of hot tub) aan die gang kry wat langs die ingang van die stort staan. Langsaan is 'n geboude braaiplek, en daar's selfs 'n toekniprooster. Hier kan jy terugsit en die Melkweg se skouspel waardeer.

Jy kamp nou op 'n plaas van 45km2, en al is hier ook ander verblyf, gaan jy waarskynlik geen ander mense sien as jy nie 'n draai maak by die kantoor nie.
Net voor die kantoor is die interessantste minigholfbaan met esse en draaie waarom jy 'n gholfbal putjie toe stuur.

By die kantoor en oorkant by die paadjie wat swembad toe loop, wag lewensgroot standbeelde jou in. Agter dit is 'n saal wat soos 'n reusesitkamer by 'n weelderige lodge lyk, met langsaan die restaurant en op die punt die speletjieskamer.

Hier is die tafeltennis, pool en minigholf gratis... ook die koffie in die restaurant.
Jy mag op die plaas gaan rondry en wild kyk, maar daarvoor moet jy 'n eenmalige bedrag van R400 betaal. Belê eerder in 'n begeleide wildrit saam met Monwabisi; jy gaan baie meer van die omgewing leer en die berge uitklim tot waar jy die verste blou berge op die horison sien.

Monwabisi sê dis eerder 'n natuuruitstappie as 'n wildrit. Jy gaan elande, swartwildebeeste, kameelperde en springbokke sien, en plante soos die botterboom en ghwarriebos.
Monwabisi se naam beteken "oorsprong van vreugde en geluk" in Xhosa, en dis presies waarvoor hy sorg op die rit. Dit kos R600 p.p. en sluit snoephappies in.
Kortliks | African Game-lodge

Kampplek 1 staanplek op 'n plaas van 4500ha diep in die berge sonder krag of selfoonontvangs. Hier kan hoogstens drie boswaens inpas en tot 12 gaste word toegelaat. Die restaurant, swembad en wifi is by die kantoor, 1,7km weg.
Ablusiegeriewe Netjiese geriewe met 'n moderne bad, buitestort en 'n onderdakkuierplek met 'n opwasplek.
Prys Vanaf R600 p.n. vir die eerste 2 mense tot R1200 vir 12; R150 p.n. vir troeteldiere.
Aankoms- en vertrektyd 12:00 en 10:00.
Kontak 023 614 3176 of 010 001 9190 | info@africangamelodge.co.za | africangamelodge.co.za
Naaste dorp? Montagu 32km.
Hoe lyk die pad? Die laaste 29km is 'n grondpad in verskillende gedaantes - van mooi tot smal en klipperig. Jy het darem nie 'n 4x4 nodig nie.

Ry & Sleep sê African Game-lodge se kampplek is nog nuut. As jy net wil wegkom van alles en almal, bespreek gerus... sommer vir die keer daarna ook, want jy gaan wil terugkom.
GLEN EDEN
Plaas toe

Op die R62, net 13km van Montagu af, is Glen Eden se hek links teen die pad. Hier kry 'n mens sekerlik die grootste afgebakende staanplekke in die land.
Elkeen het 'n rietheining om en jy slaan op 'n netjiese grasperk kamp op. Boonop is die kampplek nog nuut en alles hipernetjies.

Die enigste grondpad tussen jou en die staanplek is net 300m lank, en 'n goeie 40m daarvan bestaan uit beton en klip. Een gesin het selfs met hulle swierige Swift Coastline Deluxe-padwoonwa kom kamp.
Nog voor jy by die hek opdaag, het Carol Challis van Glen Eden reeds 'n WhatsApp gestuur met jou kampbesonderhede, soos watter staanplek jy kry en hoe jy tot daar ry.

Sy noem ook dat daar 10 sakkies hout op jou staanplek is - jy betaal net vir dit wat jy gebruik (R30 per sakkie) - en dat ys en vuuraanstekers by die kiosk beskikbaar is.
Laastens gee sy die kode vir die hek en die wifi-wagwoord. Die wifi is gratis, en al was ons op die verste staanplek van die badkamers af, was die sein steeds goed.
Die pad ná die hek loop al op die rant van 'n koppie maar saam met die kontoer tussen bloekombome deur wat lyk of hulle al donkiejare hier staan.

Regs van die pad, teen die skuinste af, is 'n langwerpige plaasdam, met die staanplekke anderkant dit op die "vlakte". Langs die netjiese grondpad is 'n paar bordjies geplant met koddige sêgoed. Van die eerstes slaan sommer die spyker op die kop: "Silence is golden; duct tape is silver."

In die middel van die grasperk tussen die staanplekke staan 'n bordjie wat sê "Geen harde musiek". Die kampplek was met ons besoek volbespreek en dit was nie nodig om enigiemand stil te maak nie.

By die laaste bord moet jy regs afdraai teen die bult af - dis waar die betonspoor begin. Die bord het 'n U-draai-pyl en wys mense wat sleep, moet die draai wyd vat. Dis 'n 90°-draai, maar daar's meer as genoeg plek om jou draai te kry. Die geboude tweespoor help natuurlik baie.

Digby die voet van die bultjie - skaars 40m verder - begin 'n rietheining links van jou.
Dis die rugkant van diékantse drie staanplekke. Ná 60m draai jy links en ry die kampplek binne. Hierdie deel van die plaas staan bekend as Little Eden.

'n Langwerpige lappie gras is oorkant die eerste drie staanplekke, byna soos 'n binneplein. Dis 20m breed en die lengte is dieselfde afstand as die drie staanplekke langs mekaar.
Anderkant die plein is nog drie staanplekke in gelid met 'n vierde op die punt (met 'n paar private kamers). Die badkamergebou staan dwars op die punt van die plein met die twee rye staanplekke soos flanke.
Op 'n Google Maps-foto van die kampplek sien 'n mens die staanplekke is almal min of meer ewe groot, gemiddeld 17 x 17m. Jy het dus 'n kampakker van net onder 300m² waarop jy beslis meer as een woonwa sal kan pas. (Tot 6 mense per staanplek word toegelaat.)
Die staanplekke is nie genommer nie, maar het name. Aan die oorkant is Elf, Fairy en Sprite, en aan die kant waar jy inry, is Gnome, Dwarf en Leprechaun.

Die boompies op die staanplekke lyk nog so jonk soos die kampplek self, maar elk van die staanplekke het 'n netjiese rietafdak met 'n betonvloer én 'n bankiestel vir 6 mense.

Agter die afdak is 'n geboude braaiplek (sonder 'n rooster), jou kraan en die kragpunt ('n dubbele huissok). Die ekstra sakkies hout staan onder die braaiplek.
Langs die ingang van elke staanplek is 'n ronde badjie bo die grond met vuurmaakplek by dit. Dis basies dieselfde idee as die houtbrandbad wat jy by African Game-lodge sien.

Jy kan die badkamers deur 'n ring trek. Dis 'n langwerpige gebou met 'n houtdek aan die voorkant. Agter die drie deure links is 'n stortvertrek elk, met die drie toilethokkies agter die deure regs. Dit voel of jy op 'n verhoog staan van waar jy die hele kampplek kan bespied.

Elkeen van die deure open direk op die dek en jy kan doer van jou staanplek af sien of 'n stort of toilet beskikbaar is. Die wasbakke is tussen die twee kante in die middel en steeds onder dak.
Die toilet- én stortvertrekke is netjies geteël. Jou stortvertrek het 'n glaspaneel omtrent in die middel wat as afskorting dien vir die oop stortgedeelte, en by die deur is 'n wasbak en spieël. Hiernaas is 'n klein rakkie vir jou badkamersakkie.
Die hake vir jou handdoek is by die stortdeur, maar hier is ongelukkig niks waarop jy jou goed kan neersit nie. Jy sukkel nie met warm water nie, want elke stort het 'n gasgeiser.
Die skottelgoedopwasplek met twee dubbelplaatgasstowe daarnaas is op die regterkantse punt van die gebou. Op die ander punt is 'n yskas en kisvrieskas.

'n Gang loop tussen Fairy en Sprite deur tot op 'n oop grasperk van nagenoeg 70 x 45m. In die middel is 'n parkie met 'n klouterraam, en hier is selfs 'n rooi trekker waarop die jongspan kan "ploeg".

Die swembad is heel links met 'n oop sitkamer langsaan.
Daar's ook 'n kroeg en in die oop vertrek daarnaas 'n pizzaoond - dis die kuierplek Beaney Peanut s'n.

Carol het haar met ons aankoms kom voorstel en gesê die plaasdiere word die volgende oggend om 09:30 gevoer. Dis 'n moet vir die kleintjies en selfs 'n lekker uitstappie vir die gryses.

'n Mens sal omtrent 'n veiling kan hou met die verskeidenheid plaasdiere: Skape, bokke, hoenders, poue, beeste, varke, alpakkas, donkies en dosyne hase.

As jy 'n teiken bo 'n plaasdier verkies, oorweeg boogskiet. Die baan is regs van die dam waar jy inry. Dit kos R180 p.p. (R140 vir kinders o.12).
Kortliks | Glen Eden

Kampplek 6 ekstraruim afgebakende en gelyk staanplekke op 'n grasperk. Jy kry jou eie afdak met sitplek onder en 'n ronde houtbrandbad.
Ablusiegeriewe Omtrent in die middel tussen die twee rye staanplekke. Dis 60m van die verste staanplek af. Almal deel die drie storte en toilette en jy kan die geriewe deur 'n ring trek.
Prys Afhangend van die seisoen R250-R350 p.p.p.n. (R150-R250 vir kinders o.12)
Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:00.
Kontak 071 100 2782 | glenedenfarmmontagu@gmail.com | glenedenfarm.co.za
Naaste dorp? Montagu 13km.
Hoe lyk die pad? 300m netjiese grondpad.

Ry & Sleep sê Enige kampeerder sal rus kan vind by Glen Eden, en die kroos kan ook sorgvry rondhardloop.














