Die Britse sopraan Marie Vassiliou en die veelsydige Suid-Afrikaanse pianis Nicolene Gibbons tree binnekort twee keer binne drie dae in Bloemfontein op.
Op 16 Augustus bied hulle A Songmaker's Journey aan, 'n program wat 'n keur van bekende en minder bekende kunsliedere bevat.
Op 18 Augustus sluit die Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen haar by Vassiliou en Gibbons aan vir kamermusiekwerke en liedere deur die vergete Vrystaatse komponis Jan Coetzee.
Die uitvoering word ingelei deur die musikoloog Winfried Lüdemann, 'n kenner van Coetzee se werk. Matildie Wium, 'n musikoloog aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM), sal daarna 'n bespreking oor Coetzee en sy werke lei. Coetzee word beskryf as 'n "pionier van atonale komposisies in Suid-Afrika" en was van 1961 tot 1976 'n dosent in harmonie, kontrapunt en komposisie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Vassiliou en Gibbons
Die sopraan en die pianis se uitvoering beloof om sangstudente, opkomende kunstenaars en musiekliefhebbers te inspireer en 'n nuwe waardering vir die kunslied te vestig.
Vassiliou het in sang en altviool aan die Royal College of Music in Londen studeer en geniet wye internasionale erkenning as solis en operasanger. Sy het in bekende konsertsale in Londen en wêreldwyd opgetree onder dirigente soos Martyn Brabbins, sir Andrew Davis, Edward Gardner en sir David Willcocks.
As operasanger het sy in Europa, Japan, Mexiko, die VSA en die voormalige USSR opgetree in die rolle La Calisto in die gelyknamige opera van Francesco Cavalli, Poppea in L'incoronazione di Poppea van Monteverdi, Donna Elvira in Mozart se Don Giovanni, Mimì in La Bohème van Puccini en Tatjana in Tsjaikofski se opera Eugene Onegin.

Vassiliou is tans 'n dosent in sang en 'n spesialis in historiese uitvoeringspraktyk aan die Guildhall School of Music and Drama in Londen.
Gibbons het, nadat sy 'n BMus-graad aan die UV behaal het, prestasiebeurse van Unisa, Samro en die Associated Board of the Royal Schools of Music ontvang wat haar in staat gestel het om haar studie aan die Universiteit van Kaapstad en later aan die Royal College of Music in Londen voort te sit.
Sy het ook 'n MPhil in komposisie aan die Universiteit van Cambridge verwerf.
Gibbons was langer as 30 jaar in Brittanje bedrywig as pianis, komponis, dosent en begeleier. Sy is sedert haar terugkeer 'n klavierdosent aan die OSM.
Gibbons en Vassiliou se program behels onder meer "Widmung" en "Meine Rose" van Robert Schumann, "Ich stand in dunklen Träumen" en "Lorelei" van Clara Schumann, "La courte Paille" van Poulenc, "Canción al árbol del olvido" (Lied aan die vergete boom) van Ginastera, "De los álamos vengo, madre" (Ek kom van die populiere, Moeder) van Rodrigo en "Me voglio fà 'na casa" (Ek wil 'n huis bou) van Donizetti.
• 16 Augustus om 19:00, Odeion-ouditorium, UV-kampus, Bloemfontein. Bespreek by Quicket.

Komponis Jan Coetzee
Lüdemann se lesing An Unacknowledged Bloemfontein Composer word gevolg deur 'n akademiese bespreking gelei deur Wium, asook die amptelike bekendstelling van 'n nuwe, geredigeerde uitgawe van Coetzee se oeuvre.
Coetzee (1912-1999) is gebore in Steynsburg in die Oos-Kaap en het sy aanvanklike klavieropleiding in Johannesburg ontvang by Horace Barton, Isador Epstein en Lorenzo Danza. Rosa Nepgen het hom op die orrel touwys gemaak.
Nadat hy Trinity College se onderwyslisensiaat afgelê en 'n ruk lank privaat lesse gegee het, is hy in 1950 by die Onderwyskollege in Graaff-Reinet aangestel. Van 1961 tot 1976 was hy 'n dosent aan die UV.
Daarna het hy sy studie in Londen en Parys voortgesit, onder andere by die vermaarde Nadia Boulanger, wat 'n blywende uitwerking op Coetzee se loopbaan gehad het.
Dié komponis het 'n klein maar belangrike bydrae tot moderne en atonale komposisies in Suid-Afrika gelewer.
Lüdemann het die uitgawe van sy werke geredigeer wat in die OSM se musiekbiblioteek bewaar sal word en vir navorsing en uitvoerings beskikbaar sal wees.
Gibbons, Van der Westhuizen en Vassiliou sal Coetzee se Klaviersonate, Elegie en Allegretto vir tjello en klavier, en sy Vyf liedere uitvoer.
• 18 August om 18:00, Odeion-ouditorium, UV-kampus, Bloemfontein. Toegang is gratis.





















