Die Liedmakersgilde “sing opnuut”, sê die Stellenbosse pianis José Dias, wat die mantel as artistieke direkteur by Esthea Kruger oorgeneem het.
Dias se ondervinding in en bydrae tot Suid-Afrika se sanglandskap maak hom die ideale keuse vir die taak.
Dié pianis, oorspronklik van Portugal, het vier jaar lank Kaapstad Opera (KO) se sangers afgerig en “met omtrent ál die sangers in die land en die heel bestes opgetree”.
“Ek het verhoogproduksies op die planke gebring, baie premières van liedere deur onder andere Hendrik Hofmeyr uitgevoer, talle kunsliedprogramme gelewer en ons het verskeie pryse gewen.”
Hy sê sy doelwit is om van die gilde “ ’n aktiewe en bedrywige platform vir sang en die liedkuns te maak”.
Dias gesels met groot geesdrif oor sy planne vir die jaar. ’n Projek wat hom na aan die hart lê en nuut is op die Gildeplatform, is die Protégé-program.
“Dit is ’n unieke jaar lange opleidingsprogram vir kunsliedduo’s (pianis en sanger), wat deur ’n oudisieproses gekeur word. Die suksesvolle kandidate kry waardevolle leiding in ’n gekose repertorium wat Gilde-lede en kunsliedspesialiste in meesterklas-formaat aanbied.

Benewens sangdosente word kenners soos die akteur Marcel Meyer en choreograaf Jackï Job betrek om aspekte soos teksinterpretasie, deklamasie, liggaamshouding en korrekte uitspraak onder die loep te neem.
Volgens Dias is die program uniek in Suid-Afrika en een van min ter wêreld, wat “ ’n veer in die hoed van die Gilde” is. Jong sangers en pianiste moet voor 6 Maart hier vir die geleentheid aansoek doen.
Dias is ’n vryskutpianis en sit vanjaar, tesame met sy nuwe aanstelling, sy Chopin-projek met die komponis se kamermusiekwerke voort. Chopin se tjellosonate en klaviertrio word in die Endler aangebied en Die dagboek van Chopin op feeste.
“Dit handel oor Chopin se lewensverhaal, waarvoor ek werke kies wat feesgangers sal geniet,” sê Dias.
Die Gildeprogram vir vanjaar is soos volg: • 26 en 27 Februarie: My Favourite Songs onder die Homegrown-titel met Dias voor die klavier, saam met sy medebestuurslede, die soprane Marina Eramus en Paulina Malefane. Elkeen het hul mees geliefde werke gekies wat van Schubertiaanse meesterwerke tot onlangse Suid-Afrikaanse komposisies en selfs liedtranskripsies vir klavier insluit.

• 26 en 27 Maart: Die opkomende Kaapse tenoor Lunga Hallam gee ’n solouitvoering in die Prestige-program met Dias as pianis.• Mei: Die Open Mic-konserte wat verlede jaar die eerste keer gehou is, was besonder gewild en bied vanjaar weer ’n oop verhoog vir alle sangers en pianiste wat hul talent wil toon of sommer net die geleentheid wil geniet.• Augustus (datums sal nog bekend gemaak word): Ikoniese werke in die liedrepertorium kom aan die beurt. Vanjaar is dit Schubert se Winterreise met die bariton William Berger en die pianis Esthea Kruger.• Oktober: Die gekeurde kunsliedduo’s kry kans om in die Protégé-vertoonkonserte te wys hoe hulle die jaar ontwikkel het.
Die konserte word op opeenvolgende dae om 19:00 aangebied – op Donderdae in die Johnman Cottage in Stellenbosch en op Vrydae in Ian Burgess-Simpson se vertoonlokaal in Westlake by Kaapstad.
Die “merkwaardige klaviertegnikus Burgess-Simpson” is volgens Dias van vanjaar ’n volle vennoot van die Gilde. Sy vertoonlokaal word ook ’n al hoe meer gewilde musiekruimte vir Kapenaars, sê Dias.
Die Liedmakersgilde is van die stigting deur die pianis en sanger Albie en Hanna van Schalkwyk in 1994 tot 2022 deur hulle bestuur, waarna die leisels aan Kruger oorhandig is.
Meer inligting verskyn op die webwerf songmakersguild.co.za.







