Radio

Esté Gross het baie te vier ná 2023

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Esté Gross Foto: Common Ground Collective
Esté Gross Foto: Common Ground Collective

Esté Gross, sangeres, rubriekskrywer, programspesialis en omroeper by Pretoria FM, het 'n goeie jaar agter die rug.

Nie net is sy in Desember op die Telkom-radiotoekenningsaand as die beste aanbieder van 'n laatmiddagprogram by 'n gemeenskapstasie aangewys nie, in 2023 het haar rubriekbundel, Weerkaats, en enkelsnit "Weerklink" gevolg deur 'n musiekvideo die lig gesien.

"Ag, ek is baie dankbaar vir die jaar wat verby is, maar baie daarvan is ook spanwerk. Wat 'n mens behaal, hang van 'n hele span af wat saam met jou daaraan werk. Dit moet 'n mens te alle tye onthou. Een mens behaal nie sukses op sy eie nie."

Haar prys op die Telkom-radiopryse was vir haar 'n groot verrassing.

"Dis lekker om erkenning te kry. 'n Mens sit elke dag agter die mikrofoon en doen jou bes, ek is dankbaar daaroor. Maar weer eens, by Klankkoerant laatmiddag (die program wat sy aanbied) is 'n hele span betrokke wat jou as aanbieder help."

Gross het Maandag (8 Januarie) begin om Klankkoerant middag tussen 13:00 en 14:00 aan te bied.

Esté Gross is in Desember op die Telkom-radiotoekenningsaand as die beste aanbieder van 'n middagprogram by 'n gemeenskapstasie aangewys.
Esté Gross is in Desember op die Telkom-radiotoekenningsaand as die beste aanbieder van 'n middagprogram by 'n gemeenskapstasie aangewys.

Gross is ook die skepper en aanbieder van die programme Onthou om te onthou en WNDK (Wat's nuut? Dis klassiek!), wat onderskeidelik as die beste musiekprogram en beste naweekprogram by 'n gemeenskapstasie benoem is.

Op 1 April sal Gross twee jaar by die stasie werk. Sy was voorheen 'n omroeper by RSG.

"Ek dink wat vir my uitstaan van die Telkom-radiopryse is ook dat WNDK benoem is. En dit, vir klassieke musiek, is 'n baie goeie weg vorentoe. Dat ons daardie erkenning ook kry. Dit bewys dat daar 'n belangstelling is en, volgens my, 'n herlewing en behoefte daaraan dat ons klassieke musiek só aanbied dat ons mense deurlopend op die hoogte hou van wat nuut is."

Gross bemoei haar dus met sowel aktualiteit as musiek wanneer sy agter die mikrofoon inskuif.

"Ek kry te doen met uiteenlopende onderwerpe. Om met mense op WNDK in die klassieke musiekwêreld te praat is verrykend. Dis asof ek die voorreg kry om 'n meesterklas te ontvang in elke onderhoud wat ek voer.

"Jy kan iets leer uit elke mens se lewenservaring en kundigheid en ek hoop dis eintlik wat luisteraars ook daaruit put.

"Want die doel met die aanbieding van klassieke musiek is om dit toeganklik te maak. Dit moet lekker luister. Daar hoef nie altyd 'n formele styl daaraan gekoppel te word nie."

Esté Gross is in 2023 as 'n omroeper bekroon en 'n rubriekbundel het onder meer die lig gesien. Foto: Common Ground Collective
Esté Gross is in 2023 as 'n omroeper bekroon en 'n rubriekbundel het onder meer die lig gesien. Foto: Common Ground Collective

Gross is ook 'n nuusleser.

"Dit is ook 'n vaardigheid op sy eie; iets wat my baie na aan die hart lê. Maar die voorreg was om baie mentors op my pad te hê wat my leiding gegee en gehelp het.

"Ons omgewing leen hom daartoe dat jy regtig al jou passies kan uitleef."

Sy en dr. Wilhelm Lichtenberg het verlede jaar vir hul duet, "I Believe", 'n Aitsa-benoeming vir die beste klassieke liedjie ontvang.

Dit was vir haar 'n groot hoogtepunt om Weerkaats (uitgegee deur Naledi), bestaande uit rubrieke wat sy vir Netwerk24 skryf, in haar hand vas te hou.

"Ek is dankbaar oor erkenning, maar die grootste lekkerte is wanneer iemand inskakel om na jou program te luister en dit dan geniet; of jou rubrieke lees en dit beteken iets vir hulle; of na jou liedjie luister en met jou deel wat dit vir hulle beteken. Dis die groot beloning."

CTA