Luisteraars van RSG is Vrydagoggend vir die eerste keer regstreeks buite die ateljee deur die nuwe Op en wakker-omroepers gegroet.
Die nuwe ontbytprogram is sedert 1 April op die lug, maar is Vrydag amptelik aan RSG-luisteraars bekend gestel.
Die eerste uitsending van buite die ateljee is vanuit die voorportaal van die SAUK-gebou in Auckland Park, Johannesburg, gedoen.
RSG spog tans met 1,4 miljoen luisteraars oor al sy programme heen.
Die nuwe Op en wakker-span is Gustav Greyling, Robbie Kruse, Sue Pyler-Slabbert, Blaine Jones en André Kunz.

Volgens die programbestuurder, Graig-Lee Smith, werk die span goed saam en elkeen sien daarna uit om hul rol op die program te vertolk. Luisteraars kan uitsien na 'n goedvoel-program van 07:00 tot 09:00, sê hy.
"Die nuutste nuus, sport en vermaaklikheid word aangebied deur 'n span wat vir jou energie sal gee om die dag aan te pak," sê Smith.
Hy meen jonger luisteraars sal ook die program geniet.
"RSG word deur sy luisteraar besit en ons wil hê hulle moet met ons skakel. Die luisteraars moet die meeste deel van die program voel," sê Kruse, 'n aanbieder op die program wat ook die sport hanteer.
Kunz, die regisseur, sê in die twee uur van Op en wakker daagliks word daar met "interessante mense oor interessante dinge" gesels.
Pyler-Slabbert sê die program beloof om iets van alles vir die luisteraar te bied.






















