Radio

RSG vier Wêreld-radiodag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
RSG word op 100 tot 104 FM uitgesaai.
RSG word op 100 tot 104 FM uitgesaai.

Terwyl RSG vanjaar 85 jaar oud word, vier dié stasie Vrydag Wêreldradiodag met 'n akoestiese musiekkonsert en mense wat oor hul wedervarings in die uitsaaiwese gesels.

Unesco het hierdie dag in 2011 ingestel om dié medium jaarliks op 13 Februarie te gedenk.

Dit word aan 'n internasionale tema van die tyd gekoppel, en vanjaar is dit "Radio en vertroue".

Hoewel dit Sondag wêreldwyd gevier word, het RSG dit reeds Donderdag begin vier met 'n denkbeeldige toer van die Sentech-toring in Brixton, Johannesburg, waarin Jaap Lourens die werkinge daarvan verduidelik. Dit sal later as 'n podsending beskikbaar wees.

"In die hedendaagse wêreld waar mense se sintuie oorlaai word, bly radio 'n unieke medium waar luisteraars hul eie beeld in hul gedagtes kan skep deur die klank wat hulle hoor," sê Louise Jooste, RSG se sakebestuurder.

Coenie de Villiers
Coenie de Villiers

"Die prentjie wat ék sien, verskil van die prentjie wat jý sien wanneer ons na dieselfde radiodrama luister - dit is wat radio uniek maak. Boonop bereik radio so 'n groot gehoor - selfs in die verafgeleë dorpies waar gedrukte media of TV-opvangs nie altyd moontlik is nie, kan die publiek inskakel om inligting, nuus, vermaak, musiek en vele meer luistergenot te ervaar."

Vrydag se program:

Die liedjieskrywer en sanger Coenie de Villiers sluit hom van 10:00 tot 11:00 by Sue Pyler-Slabbert aan om weer sy uitsaaivaardighede af te stof.

In Driesestig, van 13:00 tot 15:00, word 'n akoestiese vertoning van Hilandi du Toit uitgesaai waarin radiotreffers uit die ou dae uitgevoer word.

Leon van Nierop Foto: Joanne Olivier
Leon van Nierop Foto: Joanne Olivier

Die fliekresensent, aanbieder en skrywer Leon van Nierop gesels met Willem Pelser in Spitstyd (van 15:00 tot 18:00) oor sy ondervinding in die uitsaaibedryf, waarna Haidee Muller-Isaacs om 20:00 in Oppiradio by die kunstenaar en uitsaaier Rouchelle Liedeman kuier.

Gesprekke met vorige stasiebestuurders en nuusankers sal ook deur die loop van die dag gehoor word.

'n Kykie agter die skerms, ateljeevideo's en argieffoto's is op www.rsg.co.za en RSG se YouTube-kanaal te sien.

"Die afgelope paar dekades het ons getroue luisteraars deurgaans die pad saam met ons gestap - dankie vir elkeen wat deel is van die RSG-familie," sê Jooste.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM