Die wegraping van Tannie Kleintjie du Preez, 'n verhaal deur Fanie Viljoen, is Donderdag in Radioteater op RSG te hoor.
Tannie Kleintjie du Preez, die matriarg van die plaas Galilea, kry 'n onverwagte oorval by die hoenderhokke. Sy is met die helm gebore en jaag nou almal op die plaas op hol, want vandag, glo Tannie Kleintjie, is dit die wegraping. Selfs die diere op die plaas is onrustig en kan dit aanvoel. Maar hoe maak 'n mens gereed vir die wegraping? Sal dit werklik gebeur? Wie is gereed daarvoor en wie nie? En hoe gaan die persoonlike onderstrominge op die plaas die gebeure op die spits dryf?
Viljoen sê: " 'n Vriendin het my vertel hoe haar ma angstig na haar op die plaas gesoek het. Sy het oral rondgevra, maar kon haar nie kry nie. Ná 'n lang gesoek spoor sy haar dogter toe op. Baie benoud sê sy sy was bang dit was die wegraping en dat die dogter sonder haar vort is."
Die spelers is Joanie Combrink, Dirk Stoltz, Barbara-Marié Immelman, Zenobia Kloppers, Chloe van Rooyen en Anton Treurnich; Anrich Herbst is die regisseur en Cassi Lowers behartig die klank.

Herbst sê: "Wat 'n gedagte! Die WEGRAPING! Die naaste wat ek aan die gedagte kan kom, was toe ons gedink het die rekenaar-wêreld gaan inmekaar val met die oorgang van die eeu. Daardie gevoel van onsekerheid.
"Fanie is 'n bekroonde skrywer uit die Vrystaat. Ek het dus onmiddellike respek gehad vir sy teks. Ná baie dink en baie lees, kon ek uiteindelik sin maak van Die wegraping (dit gebeur ook gereeld dat ‘die liggies' eers in die ateljee ‘aangaan' - wanneer daar vleis op die bene is). Fanie het 'n besonderse karakter geskep vir hierdie verhaal, Simon. Simon kan nie praat nie en kan net geluidjies maak. Simon is eenvoudig teenoor die hoogdrawendheid van Tannie Kleintjie. En dis waarin die wonder van die verhaal lê.
"Die akteurs het die opvoering baie geniet, en ek en Cassi het hard gewerk om die Dvorak-New-world-oorgange en agtergrond-klanke so geloofbaar moontlik te maak. Ek hoop jy geniet dit."
• Radioteater word Donderdae om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.









