TV

'Ontbytsake' vier 25 jaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
‘Ontbytsake’ se aanbieders, Corli Prinsloo, Anika de Beer, Leon Gropp, Charlene Lackay en Dawie Roodt, op die kykNET-joernaalprogram se nuwe stel.  Foto: AJ Opperman
‘Ontbytsake’ se aanbieders, Corli Prinsloo, Anika de Beer, Leon Gropp, Charlene Lackay en Dawie Roodt, op die kykNET-joernaalprogram se nuwe stel. Foto: AJ Opperman

Die kykNET-joernaalprogram Ontbytsake het in Saterdag se episode sy 25ste bestaansjaar gevier.

Die eerste episode is in April 2000 uitgesaai net 'n paar maande nadat kykNET in November 1999 begin het.

Toe het die program nog as Vertoonvenster bekend gestaan.

"Dit was 'n konsep van Johann Joubert," sê die regisseur, Melinda Meyer.

"Dit het oorspronklik begin as 'n platform waar klein en middelslag-sakeondernemings nasionale televisieblootstelling kon kry. Ons het later besef dit alleen gaan nie werk nie, want dan is ons amper soos infomercials. Ons het agtergekom ons sal 'n vermaaklikheid-segment moet insluit.

"Toe begin ons met gaste en in 2003 het die ekonoom Dawie Roodt begin om 'n ekonomiese oorsig te gee. Toe volg die segment oor ekonomiese sake en die kook-segment. Sodoende het dit meer soos 'n volwaardige oggendprogram geword."

Die titel Ontbytsake het in 2003 ontstaan.

"Die kern is egter steeds sake en om sakemense te bemagtig."

Benewens Roodt is die aanbieders Charlene Lackay en Leon Gropp. Corli Prinsloo behartig die kooksegment en Anika de Beer is verantwoordelik vir die weer.

Louis Mclaren en Melinda Meyer, onderskeidelik ‘Ontbytsake' se uitvoerende vervaardiger en regisseur. Foto: AJ Opperman
Louis Mclaren en Melinda Meyer, onderskeidelik ‘Ontbytsake' se uitvoerende vervaardiger en regisseur. Foto: AJ Opperman

Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger, het 'n paar jaar gelede by die program betrokke geraak.

"Aanvanklik het ons die kat uit die boom gekyk in terme van vernuwing, maar ons het verstaan dis 'n wenresep. Jy moet versigtig wees dat jy dit nie op sy kop draai nie."

In Saterdag se episode is die program se nuwe stel vir die eerste keer deur kykers gesien.

"Die stel was al 'n ruk op my radar. Jy neem 'n bestaande ding en lig dit 'n bietjie. Ek dink as jy van die kantlyn af inkom, moet jy eerstens verstaan wat hier aangaan. Dan begin jy op 'n punt waar jy kyk na iets soos jou weeraanbod en jy besef dit kan beter.

"Ons het 'n bestaande segment gevat en dit eenvoudig gelig. So vandag het ons 'n meteoroloog wat vir ons die weer saamstel. Ons trek ons eie data en sit ons eie animasie aanmekaar."

Volgens Mclaren is om 'n verskil te maak een van die goed wat die program na die tafel kan bring.

"Ons het 'n paar jaar gelede besluit om ook aandag te gee aan die wynbedryf, wat baie belangrik is vir toerisme in Suid-Afrika."

Die eerste van drie wynroetes het in Saterdag se episode begin.

"Nog 'n ding wat op ons radar is vir die toekoms, behalwe vir aanpassing ten opsigte van stroming en liniêre TV, wat al hoe minder kykers het, is dat ons die inhoud van ons sakefokus ook lig; dat mense na die onderneming kan kyk en dit goeie inhoud is.

‘My belofte aan die ondernemings is wanneer jy op die program adverteer, moet jy 'n opbrengs op belegging sien. Om daai rede bring ons nou 'n sakewinkel in."

‘Ontbytsake' se aanbieders, Corli Prinsloo, Anika de Beer, Leon Gropp, Charlene Lackay en Dawie Roodt. Foto: AJ Opperman
‘Ontbytsake' se aanbieders, Corli Prinsloo, Anika de Beer, Leon Gropp, Charlene Lackay en Dawie Roodt. Foto: AJ Opperman

Volgens Mclaren wissel die kykertal tussen 200 000 en 500 000.

"Dis altyd moeilik om dit te bepaal, maar 'n aanduiding wat ons het, is sosiale media. Ons het die afgelope 28 dae net onder die 5 miljoen trefslae gehad. Ons het sowat 120 000 volgelinge en die reikwydte wat ons die afgelope 28 dae gehad het, was 1,4 miljoen. Ek gebruik dit as 'n maatstaf om 'n aanduiding te kry van hoeveel mense na die program kyk.

"Ek is baie opgewonde oor wat ons sien op digitale media, want uiteindelik is dit waar ons 'n klomp van ons kykers nou ontmoet en met hulle interaksie het. Ons het 'n produksiespan wat net kyk na digitaal en ons het een wat net kyk na TV.

"Jy kan 'n bietjie terugkyk, maar met 'n 25ste verjaardag moet jy meer fokus op die pad vorentoe."

Meyer is trots op waar die program vandag is.

"Dit was destyds 'n baie, baie nederige begin met bloed, sweet en trane. Daar was dae toe ons daaraan gedink het om die program te beëindig. Ons het gesukkel om te oorleef, maar die handelsnaam het gegroei tot die groot sukses wat dit vandag is. Ek dink ons is verskriklik geliefd onder die volk. Dit voel soos my baba wat nou 25 is. Dit maak my hart vol."

• Ontbytsake word Saterdag om 07:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

- aj.opperman@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM