Die gewag en wonder is nou verby - kykNET het uiteindelik die rolverdeling en die lokprent van sy nuwe dramareeks Een keer om die son bekend gemaak.
Dié nuwe dramareeks volg die lief en leed van 'n familie oor die loop van 'n kalenderjaar. Elkeen van die 12 episodes beeld 'n maand in hul lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is. Gesoute Suid-Afrikaanse akteurs soos Jacques Bessenger, Jana Kruger, Albert Maritz, Pierre van Pletzen, Susanne Beyers en Joanie Combrink word ingespan saam met jong en opkomende akteurs soos Alex van Dyk, Alma van Heerden, Liam Bosman en Klara van Zyl.
Die storie gaan oor die lewe van dr. Ruan van Wyk (Bessenger), 'n neurochirurg wat met Lani (Kruger) getroud is, en hul familie. Hulle het drie kinders, Markus, wat in matriek is, die 15-jarige Leandri, en die agtjarige Sophia. Amé Cloete (Donnalee Roberts) is Ruan se suster en 'n suksesvolle finansiële bestuurder. Sy is getroud met Joshua Cloete (Ludwig Binge), eienaar van 'n kunsgalery. Ruan en Amé se ouers is Sebastian, 'n insekkundeprofessor, en Elma, wat 'n tuisnywerheid besit.
'n Tragedie tref die familie en vrae kom na vore. Alles verander oornag vir dié mense.
Beyers en Van Pletzen is Salie en Jan Wessels, Sebastian en Elma se goeie vriende. Van Dyk is die 17-jarige Xavier, 'n cool kid op skool, steur hom glad nie aan reëls nie en met 'n oog op Leandri.
Ander spelers sluit in Simone Neethling as Charlie, die leier van die dansgroep, Lee-Ann van Rooi as dr. Beth Hendricks, hoof van neurochirurgie, Adriaan Havenga as dr. Jean Petersen, wat besig is met sy opleiding as neurochirurg, Bennie Fourie as coach Cilliers, Antoinette Louw as juf. Marianne, Sophia se gr. 2-juffrou, en Amalia Uys as die kunstenaar Sage Jones.
Dié reeks speel af in die vier seisoene van die jaar en is in en om Kaapstad verfilm. Die kleurgradering van elke seisoen is aangepas om by elkeen van die seisoene te pas. Die natuur en natuurelemente speel 'n belangrike rol in die reeks.
Een keer om die son is vervaardig deur Ivan Botha, Donnalee Roberts en Danie Bester, bekend om trefferflieks soos Pad na jou hart, Stroomop en Blindelings. Ivan is die regisseur van Een keer om die son, en hy en Donnalee is die hoofskrywers saam met medeskrywers Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger van die dramareeks.
Een keer om die son begin op 25 Junie op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op Catch Up en DStv Stream te sien.



















