Hetsy op ‘n plaas of in ‘n woonbuurt, dis jóú grond, jóú huis. Wie kan dit van jou wegvat, nogal sonder dat jy ‘n sent vergoeding ontvang? As jy hieroor wonder, luister na Netwerk24 se webinaar oor grondhervorming.
Die regering gaan volstoom voort met die proses wat hy in 2018 begin het om grondonteiening sonder vergoeding deel van die Grondwet te maak.

Die hersiene wysigingswetsontwerp, waarop die publiek tot 13 Augustus kommentaar kan lewer, stel in die breë gesien drie veranderings aan art. 25 van die Grondwet voor: onteiening sonder vergoeding van grond en enige verbeterings daarop; ‘n klousule wat uitstippel dat grond die gedeelde erfenis van alle Suid-Afrikaners is wat vir toekomstige generasies bewaar moet word; en voorsiening vir omstandighede waarin die staat voogdyskap oor sekere grond bekom.
Of die ANC wel genoeg steun sal kry om dié konsepwetgewing met die vereiste tweederdemeerderheid deur te voer, is nie ‘n uitgemaakte saak nie. Partye soos die DA en die VF+ is heeltemal gekant teen onteiening en staatsvoogdyskap. Die EFF is weer van mening dat die voorgestelde wetgewing nie radikaal genoeg is nie en dat alle grond onder voogdyskap van die staat geplaas moet word.
Ná ‘n omvattende openbare deelname proses van onder meer 204 758 skriftelike voorleggings, tientalle openbare sittings, verskeie mondelingse voorleggings en ure se komiteevergaderings, hoeveel nader is Suid-Afrika werklik aan ‘n aanvaarbare oplossing vir grondhervorming? Op Donderdag 5 Augustus om 13:00 het Netwerk24 ‘n webinaar oor grondhervorming aangebied waarin ‘n paneel kenners die kwessie in diepte bespreek.
Lees ook: 'Landbou moet 'n leiersrol in die land kan speel' en Voogdyskap: 'ANC slaan bollemakisie met die regsbeginsels'










