Buitelewe

Afdakke | Een koelte asseblief!

Afdakke | Een koelte asseblief!Wil jy tjoef-tjaf skaduwee hê wanneer die lus vir koffie jou aan die strot gryp en die naaste kameeldoringboom kilometers ver is? Kry ’n afdak man. Ons wys jou ’n paar.[caption id="attachment_7255" align="alignleft" width="300"] Een koelte asseblief![/caption]Net soos jy nie sonder ’n moewiese sin vir humor Nuweland toe behoort te gaan nie, net so moet jy nie sonder skaduwee die woestyn aanpak nie: Skadu waar jy kan kook en waar jy kan gaan skuinslê as jy wil gaan skuinslê. Die bos, weer, behoort jy nie sonder skuiling aan te pak nie – ’n plek waar jy nie natreën nie.Dis goedkoper, makliker en waarskynlik veiliger om jou skadu en skuiling saam te karwei aan jou voertuig vasgemaak, as om ’n los ding saam te ry wat aan pale, bome of ander beskikbare strukture vasgemaak moet word.Maar selfs al soek jy die eenvoudigste afdakkie, moet jy nog steeds jou huiswerk doen.Het ek ’n dakrak nodig as ek ’n afdak wil laat monteer?In die meeste gevalle, ja. ’n Afdak moet aan iets stewigs geheg word. Van die modelle pas net op swaardiens-mandjiedakrakke, terwyl ander net aan laaistawe gekoppel kan word.Daar is egter ook afdakke wat gemonteer word op die ouer voertuie se geutvoortjies, daai fabrieksgemonteerde relings (wat jy bv. op Nissan Navaras kry) of op die uitstaanspore waardeur jy ’n woonwatent ryg.Aan watter kant van die voertuig moet dit kom?Jy kan maak soos jy smaak! Die meeste mense monteer hul afdakke aan die passasierskant omdat dit weg van die pad is as jy aftrek. Party soorte afdakke kan aan die agterkant van ’n bakkie gemonteer word. Daar is nie regtig voorskrifte nie – monteer dit soos dit jou pas.Hoe lank moet die afdak wees?Die afdak kan ’n bietjie aan altwee kante van die dakraak verbysteek, maar nie veel nie. ’n Afdak van 3 m behoort goed te werk op ’n dakrak van 2,5 m. As hy verder oorsteek, gaan jy te veel takke haak as jy deur die bos ploeter.Kan ek my afdak gebruik wanneer ’n moeder van ’n Kalahari-donderstorm op my afstorm?’n Afdak is nie ’n tent nie. Moet dit nie soos een hanteer nie. As die wind begin te huil, is dit beter om die afdak te bêre voordat dit soos ’n stuk foelie oor jou voertuig gevou word.Wanneer jy jou afdak opslaan, moet jy dit altyd stewig vasmaak met die penne en toue wat verskaf word.En keer dat reënwater op die afdak opdam. Die gewig kan jou afdak laat vou.Waarom kan ek nie net ’n gazebo koop nie?As alternatief tot die montering van ’n afdak is ’n gazebo goedkoper, want jy het nie ’n dakrak nodig nie en hy staan op sy eie. Jy kan dit dus opslaan en gaan wildkyk. Dit duur egter langer om dit op te slaan, dit neem heelwat ruimte in beslag en jy moet plek in jou voertuig kry om dit te pak.Oorweeg die Bushtec-gazebo van 2,5 x 2,5m. Dit is ’n konsertina-soort wat vinnig opgeslaan kan word.Prys: R1 475Kontak: 4x4 MegaWorld 011 454 2875; Tent-afdakkeSommige afdakke werk amper soos ’n karavaanafdak– dis ’n seildak wat jy aan jou trokkie vasmaak met stroppe of met ’n karavaanspoortjie, en dan word die seil oor pale gespan en met penne en toue aan die grond geanker.Jy kry twee tipes. Die een soort word los in jou voertuig vervoer – jy kan dit nie teen jou dakrak of op jou kappie vervoer nie. Sodra jy stop, maak jy dit aan die dakrak vas. Die ander soort ryg in ’n uitstaanspoortjie op die dakrak of teen die kappie in, en kan gewoonlik binne in sy sak op die buitekant van die motor vervoer word.Die voordeel van hierdie soort afdakke is dat jy dit afsonderlik van die voertuig kan staanmaak as jy moet ry, dat jy dit maklik aan enige kant van die kar kan gebruik en dat die plaaslike bevoking in Blantyre, Nairobi en Volksrust dit nie woerts-warts kan hersirkuleer nie.Die nadeel is dat jy dit nie vir ’n vinnige middagtee kan uitrol nie.Permanente afdakkePermanente afdakke bly op die voertuig en slaan soos blits op. Dis dus geriefliker as jy langs die pad wil stop vir ’n vinnige repie beeshaas met peperwortel. Of tee.Op die kampeerterrein is dit natuurlik ook lekkerder. Daar is twee soorte: party rol uit soos die skerm van ’n oorhoofse projektor, terwyl ander arms het wat van die kant van die voertuig uitvou.Die meeste afdakke kan maklik verwyder word asjy nie Saterdoggend voor die Fruit and Veg soos Ghaitshi Ghubi op dorpsbesoek wil lyk nie.UitrolafdakkeJy moet die afdak óf met die hand in- en uitrol óf dit word outomaties gedoen deur ’n veermeganisme wat die afdak in sy houer terugtrek. Dis vinniger om laasgenoemde op te slaan en jy hoef nie jou hande vuil of nat te maak wanneer jy dit bêre nie. Hulle is egter duurder en die bewegende dele kan breek.Uitvou-afdakkeDit is die Muhammad Ali’s van die afdakwêreld. Letterlik. Die meganismes wat hulle oop- en toevou, is groot en swaar. Jy moet ook jou beursie skud om een te besit. Maar as jy die geld het, koop een: Hulle is verreweg die minste moeite en word blitsig opgeslaan.Oorweeg een hiervan:Front Runner FeatherliteLig en soort van maklikDie lekkerste ding van hierdie dakkie is dat dit op sy eentjie kan staan. Jy kan dit opslaan en dadelik ’n lyn sny duine toe met jou tjor. Maklik.En dit is inderdaad besonder lig (die hele pak met nylonpanele en aluminiumpale weeg net 6,5 kg) en kompak wanneer dit opgevou is.Dit word met gewone D-gespes aan die voertuig gekoppel, wat beteken dit pas op die meeste dakrakke, laaistawe en relings.Ongelukkig is dit effens meer van ’n gesukkel om dit op te slaan as die grootmenere wat net oopswaai. Jy moet vyf pale met hul toue staanmaak, met die opsie van ’n sesde as jy die skerm op sy eie wil laat staan.En as dit reën, sal jy dalk vir sewe uur in die bakkie moet sit en luister na Carike en Ghoempie saam met die laaities, want die ding kan net ligte reën weerstaan.Grootte: 3,5 m x 3 mSypanele beskikbaar? JaPrys? R1 950Kontak: Front Runner 011 466 0155; WegRy sê: Hierdie is die maklikste afdak om aan enige kant van jou voertuig op te slaan sonder moeite.Tentco Bundu SafariGoedkoop, eenvoudig en deksels sterkHulle noem hierdie die Harry Potter-afdak, want gebêre in sy sakkie is hy so groot soos twee dooie dassies, maar opgeslaan maak hy morge se skadu.Dis wel die goedkoopste afdak van die spul, maar dit is van dieselfde topgehalte Safari Ripstop-seil waarvan Tentco se koepeltente gemaak word.Hy gebruik dieselfde soort spoortjie as woonwatente, met geen gaping tussen die seil en voertuig waar reën of sonlig kan deurkruip nie.Jy kan die spoortjie aan enige kant of agter op die voertuig monteer of op al drie kante sodat jy hom kan opsit waar jy wil. Ekstra spoor kos R40 per meter.Bakkie-eienaars kan sommer die spoortjie op die kappie vas-klinknael. Jy het nie ’n dakrak of laaistawe nodig nie. Dis ’n afdak wat baie jare sal hou, maar dit kan nogal ’n gestoei wees om op te slaan met al die los pale…Die Bundu Safari kan in sy sak buite op die voertuig bly as jy ry.Grootte: 3 m x 2,7 mSypanele beskikbaar? JaPrys? R1 365Kontak: Tentco 011 397 6451; WegRy sê: Jy kan hierdie afdak gebruik op enigiets waarop jy ’n uitstaanreling kan vassit – veldsleepwa, woonwa, platkar …Eezi-Awn Series 2000Die vere maak die voëlDit word vinnig en maklik opgeslaan, die ontwerp en materiaal is van die beste gehalte en dit is versoenbaar met ’n groot reeks voertuie.Daarom is dit g’n verrassing dat hierdie intrekbare afdak een van Eezi-Awn se gewildste produkte is nie.Danksy die veermeganisme word die afdak maklik opgeslaan. Dit bestaan uit ’n aluminiumkas, hake van vlekvrye staal en waterdigte PVC-materiaal.Dit kan aan enige gewone mandjiedakrak of laaistawe, soos Thule en Rhino, gekoppel word, maar ook aan die dak van voertuie met watervoortjies, danksy ’n spesifieke koppelstuk.Hoewel dit blitsig opgerig kan word, is twee paar hande nodig om te verseker dat die afdak gelykmatig in- en uitskuif.Grootte: 2 m x 2,1 m, 2,5 m x 2,1 m, 3 m x 2,1 m, 3,5 m x 2,1 m, 4 m x 2,1 mSypanele beskikbaar? JaPrys? Van R4 100 – R5 010Kontak: Eezi-Awn 011 794 6311; WegRy sê: As jy wil sien of ’n ding hou, kyk na die minibus-taxibedryf. Duisende langpadmanne kan nie verkeerd wees nie …Howling moon Safari-afdakVinnig, taai en besonder goedkoopDit is ideaal as jy vinnig iewers stilhou omdat dit gemaak is van ’n waterdigte, ligte en sagte poliëster wat vinnig in- en uitgerol kan word – al het dit nie ’n veermeganisme nie.Die afdak is ’n geïntegreerde stelsel en jy sukkel dus nie met los pale nie. Dit is ook heeltemal waterdig.Dit word met ’n uitstaanspoor aan die voertuig gemonteer en dit pas op mandjiedakrakke en laaistawe. Die sak waarin dit gehou word, is van dik PVC en dit lyk duursaam en weerbestand.Grootte: 2,5 m x 2,1 m, 3 m x 2,4 mSypanele beskikbaar? JaPrys? R1 675 – R1 841Kontak: Howling Moon 031 701 2203; WegRy sê: As die PVC-sak dalk ’n bietjie te onverfynd vir jou blinknuwe Pajero lyk, kan jy vir die Alu Awn-opsie vra. Dit het ’n netjiese aluminiumhouer.Hannibal-afdakTarzan TietiesHierdie afdak skrik nie vir sterk wind nie en dit word maklik opgeslaan, maar dit kan net aan ’n behoorlike dakrak gemonteer word.Dit het twee aluminium-arms – een aan elke kant van die dakrak – wat soos die knypers van ’n kreef uitvou om ’n raamwerk te vorm waaroor ’n seildak getrek word.Omdat jy nie bykomende stutte of steuntoue nodig het nie, kan die afdak in minder as drie minute opgeslaan word – die arms vou binne 30 sekondes oor en dit duur ’n minuut of twee om die seildak aan te bring.Dit was die wenner van die onafhanklike toets vir stabiliteit in sterk wind van die Overland Journal, ’n Amerikaanse buitelugtydskrif.Omdat dit ’n stewige basis nodig het, kan dit net op ’n ordentlike dakrak gemonteer word.Grootte: 1,9 m x 1,9 m, 2,4 m x 1,9 mSypanele beskikbaar? JaPrys? R3 295 – R3 845Kontak? Hannibal 021 534 9050; WegRy sê: Moet seil nooit wegbêre as dit nat is nie. Hannibal behandel sy seil teen verrotting, maar gee die seil behoorlik lug voordat jy dit aan die einde van jou vakansie wegpak.African Outback Ostrich wingGooi vlerk uitWil jy ’n afdak hê wat om die sy en agterkant van jou voertuig uitvou soos ’n hengse groot waaier? Hier is dit. Vier aluminium-arms vou 270 grade oop van ’n spilpunt. Dit gooi baie meer skaduwee as enige gewone, reghoekige afdak.Dit lyk dalk lomp, maar jy slaan hom binne 30 sekondes op: Maak die bêresak oop, vat die buitenste arm vas en stap om die voertuig – die res van die afdak kom saam.Jy kan ook ’n stutpaal uitvou as die wind waai.Die waterdigte dak is van nylon, maar ’n seildak is ook beskikbaar.Grootte: 2,4 m x 2,4 m x 11,3 mSypanele beskikbaar? JaPrys? R7 255Kontak: African Outback Products 011 392 1777; WegRy sê: Teen 19 kg is dit swaar. Dit is daarom beter om dit op ’n ordentlike mandjiedakrak te monteer. As jy dit met koppelstukke aan ’n laaistaaf koppel, moet jy altyd die stutpaal gebruik.

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM