Om die regte 4x4 te koop is klaar ’n moeilike besluit, maar om die regte bande te koop kan jou snags selfs méér laat rondrol. Ons help jou om die regte rubber te kies.
Jy gaan nie die Otter of die Visriviercanyon in ’n paar ou Grasshoppers of North Stars stap nie. En jy gaan nie die 400 m-hekkie-eindstryd in ’n paar gumboots aanpak nie, of hoe? Hoekom sal jy dus die verkeerde bande op jou voertuig sit?
Die tegnologiese wonder-vermoë van jou voertuig en jou vaardighede as bestuurder gaan jou nie veel help as jy die verkeerde bande op het nie – verkeerde bande kan ’n katastrofe wees. Buiten dat die verkeerde bande ’n lelike speek in die wiel van jou voertuig se vermoë kan steek, kan dit ook jou brandstofverbruik verhoog.
Aan die ander kant kan die regte bande jou voertuig se veldryvermoë drasties verbeter. Maar om die regte bande te kies, moet jy minstens weet vir watter terrein hulle ontwerp is, hoe vinnig jy daarmee kan ry en watter vrag dit kan dra.
Op die volgende paar blaaie wys ons jou hoe om die regte bande te kies, watter bande om vir watter omstandighede te kies en beantwoord ’n paar belangrike vrae oor bande.
5 vrae om te vra voor jy koop
1. Waarheen gaan jy?
Veldbande word spesiaal ontwerp en vir ’n spesifieke terrein of oppervlak gemaak. As jy dus begin rondkyk vir ’n nuwe stel veldtrappers, moet jy ’n goeie aanduiding hê van die terrein waarop jy dit meestal gaan gebruik (later meer oor die verskillende soorte bande).
Min van ons gaan natuurlik heeltyd net op een soort terrein ry, en dis waarom jy waarskynlik ’n band moet oorweeg wat vir meer as een oppervlak geskik is.
Jy hoor ook soms van 4x4-ouens wat twee stelle bande koop: oorwegend padbande om in die stad of dorp rond te ry (en erken dit maar, dis waarvoor ons meestal ons 4x4’s gebruik), en ’n stel doelgemaakte veldbande vir daai safari Lubumbashi toe.
2. Waarmee ry jy?
Deesdae is daar ’n duiselingwekkende verskeidenheid veldbande op die mark, maar dit beteken nie dat hulle almal op jóú 4x4 gaan pas nie.
Wil jy gespierde modderbande op jou Porsche Cayenne sit? Nie ’n goeie plan nie – selfs al kry jy ’n groot genoeg stel om oor daardie enorme 19 duim-vellings te druk, sal dit glad nie bestand wees teen die voertuig se topspoed (242 km/h) nie.
Wieldeursnee, spoed en laaivermoë is faktore waarna jy moet kyk voor jy ’n nuwe stel bande koop (sien die spoed- en dravermoëtabelle op bl. 54).
3. Binneband of binnebandloos?
Vir die meeste van ons is dié besluit reeds geneem: Alle moderne 4x4’s word met binnebandlose straallaagbande verkoop. Maar jou ouskool-Land Cruiser-bakkie of Series-Landie het waarskynlik nog die meer tradisionele
binneband-bande op.
Die belangrikste voordeel van ’n binnebandlose band is dat dit die wrywing tussen die binneband en die binnekant van die band uitskakel. Op dié manier word die moontlikheid van oorverhitting en ’n band wat bars verminder, veral as jy met afgeblaasde bande ry.
Dis ook makliker om ’n lekplek in een van hulle reg te maak – wikkel eenvoudig ’n bandprop in die gat.
Aan die ander kant kan jy steeds met ’n gewone band ry wat erg beskadig is, omdat die binneband dit steeds van binne opblaas.
4. Straal- of kruislaag?
Jy het ook nie veel sê hieroor nie. As jy in ’n nuwe 4x4 rondry, het jy waarskynlik straallaagbande. Daar is ’n goeie rede daarvoor: Straallaagbande is beter in byna elke opsig, veral wat padhouvermoë en gerief betref.
Kruislaagbande het egter steeds hul plek.
Omdat hulle taaier en harder as straallaagbande is, word hulle nog op handelsvoertuie en vragmotors gebruik.
5. Watter handelsnaam?
Dis die vraag der vrae … Ongelukkig is daar nie net een maklike antwoord daarop nie, omdat dit van baie faktore afhang. Wat vir jou werk, is waarskynlik nie geskik of bekostigbaar vir my nie.
Maar daar is ’n goeie rede waarom die groot bandeplekke by sekere handelsname hou: Hulle wil eenvoudig nie ’n produk verkoop wat terug-gestuur gaan word en hulle probleme gaan gee nie.
As jy dus moet kies tussen ’n gevestigde handelsnaam en ’n onbekende Chinese naam, glo ons in die eerste een.
Laasgenoemde is dalk goedkoper, maar is jy seker dis geskik vir toestande in Afrika? En hoe seker is jy van goeie naverkoopdiens?
Bl 2: Kies jou rubber Kies jou rubber Danksy die groot keuse van bande op die mark kan jy ’n nommerpasstel kies vir die terrein waarop jy meestal ry.
Padbande
Dis ontwerp vir ry op teer, het ’n laer profiel, ’n teerpadgerigte loopvlak en ’n hoër spoedskaal as 4x4-bande.
Padgeraas, gerief en hantering in nat omstandighede is ook uitstekend.
Wie moet dit koop?
Mercedes-Benz ML-, X5 en Range Rover-
eienaars, en enigiemand anders wat meer tyd deurbring om die kinders by die swemles af te laai as om oor dongas en sandduine te ry.
Probeer een van dié:
- Michelin Latitude Sport,
- Bridgestone Dueler HT Sport
Modderbande
Dis ernstige tekkies dié, ekstra sterk gemaak en dit het ’n groot, bonkige loopvlak vir goeie houvas in gladde of rowwe omstandighede.
Jy kan hulle ook op teer ry, maar jou spoed en hantering in nat weer is beperk. Padgeraas kan ook ’n probleem wees.
Wie moet dit koop?
Enigiemand wat gelukkig genoeg is om sy 4x4 meer in die veld as op die teer te ry. As jy ’n 4x4-toer na Botswana, Mosambiek of Zambië in die reënseisoen beplan, is dit ook ’n moet.
Probeer een van dié:
- Cooper Discoverer STT,
- Goodyear MT/R,
- BF Goodrich Mud-Terrain
Veelterreinbande (all-terrain tyres)
Dié bande is ontwerp om die gaping tussen padbande en ernstige veldbande te oorbrug.
Dit het ’n aggressiewe loopvlak en is sterk, maar party van dié bande is meer gemik op die teer, terwyl ander meer tuis in veldryomstandighede is.
Doen dus jou huiswerk voor jy jou beursie uithaal.
Wie moet dit koop?
Mense wat hul 4x4’s hoofsaaklik gebruik om in die stad te ry, maar ook daarvan hou om die boendoes oor naweke en vakansies in laestrek te verken.
Probeer een van dié:
- BF Goodrich All-Terrain,
- Firestone ATX,
- Goodyear Wrangler AT/R,
- Bridgestone Dueler D694
Wat van klip en sand?
Daar is nie bande op die mark wat spesifiek vir klipperige omstandighede gemaak is nie.
Goeie vastrap en sterk sywande is belangrik as jy klip gaan aan-durf – modderbande is waar-skynlik die beste keuse hiervoor.
’n Paar bande is ontwerp vir sandry, maar koop dit net as jy in die middel van die Namib bly.
As jy af en toe na die woestynwêreld toer, sal jy goed oor die weg kan kom met veelterreinbande.
Wenk:
- Probeer om met dieselfde bande op jou sleepwa as op jou 4x4 te ry.
- Op dié manier is hulle wisselbaar, en jy kan dus die noodwiel(e) deel.
Bl 3: Kies jou rubber Ontsyfer die kode
Die geskribbel op die sywand van ’n band is nie daar vir versiering nie – dit gee jou nogal heelwat inligting oor die band.
Dís hoe jy die 245 / 75 R 15 109 S* op die sywand moet verstaan:
| 245 | Die bandbreedte in millimeter: 285 is ’n breë band; 235 is ’n Mariebeskuitjie. | |
| 75 | Die verhouding van die sywand se hoogte tot die bandbreedte – hoe hoër die getal, hoe hoër is die sywand. | |
| R | Die soort band: straal- (“R”) of kruislaag (“C”) | |
| 15 | Die vellingdeursnee in duim | |
| 109 | Die dravermoë-indeks, of die hoogste toelaatbare vrag wat die band kan dra (1 030 kg in dié geval – sien kassie). | |
| S | Die hoogste toelaatbare spoed waarteen jy met die die band mag ry (sien kassie). |
* Party bande word volgens die Amerikaanse stelsel gemerk. In dié geval beteken die kode die volgende:
|
31
X |
10.50 | R | 15 |
|
Banddeursnee
in duim |
Bandbreedte
in duim |
Straal- of
kruislaagband |
Vellingdeursnee
in duim |
| Maak jou las ligter | R beteken nie ‘Resies’ nie | ||
| Die tweede laaste getal op die sywand dui aan watter vrag die band kan hanteer. | Die laaste letter op die sywand dui aan hoe vinnig jy met die band kan ry. | ||
| Simbool | Kg | Simbool |
Maks. spoed
(km/h) |
| 100 | 800 | G | 90 |
| 101 | 825 | J | 100 |
| 102 | 850 | K | 110 |
| 103 | 875 | L | 120 |
| 104 | 900 | M | 130 |
| 105 | 925 | N | 140 |
| 106 | 950 | P | 150 |
| 107 | 975 | Q | 160 |
| 108 | 1000 | R | 170 |
| 109 | 1030 | S | 180 |
| 110 | 1060 | T | 190 |
| 111 | 1090 | U | 200 |
| 112 | 1120 | H | 210 |
| 113 | 1150 | V | 240 |
| 114 | 1180 | W | 270 |
Bl 4: Wat die boffins sê Wat die boffins sê
Drie deurwinterde 4x4-kenners sê hul sê oor bande:
GREG VAN DER REIS | 4x4 Offroad Adventure Club
Watter bande is op die oomblik op jou 4x4?
Bridgestone Dueler All-Terrains Is jy gelukkig met hulle? Ek is nie seker nie – ek het hulle onlangs eers gekry.
Jou beste band-ervaring?
Ek het heelwat handelsname oor die jare gebruik en was besonder beïndruk met Cooper, Merit en Hercules.
Slegste band-ervaring?
Pirelli – 23 lekplekke op een dag. Is dit nodig om meer te sê?
Nuttige bandwenk:
As jy in die veld ry, gaan jou banddruk twee maal per dag na: een keer in die oggend as dit nog koud is (om te sien dat dit nie te pap is nie) en weer nadat jy ’n uur of twee gery en die rubber warm geraak het.
CLAIRE SPOTTISWOODE| Gids vir Birding Africa
Is jy gelukkig met hulle?
Baie. Ek het nog nooit ’n lekplek gehad nie, en vir my navorsing in Zambië ry ek daagliks op baie slegte paaie in die bos.
Beste ervaring?
Die BFG’s!
Ergste ervaring?
’n Stel Pirelli’s op my vorige voertuig, wat werklik vreeslik sleg was. Ek het elke week lekplekke reggemaak.
Nuttige wenk:
Hou altyd ’n banddrukmeter in die paneelkassie. En as jy jou bande gereeld moet afblaas, koop ’n goeie kompressor om dit weer op te pomp (ek is baie gelukkig met my Volcano).
COENIE MOLL | 4x4-instrukteur en eienaar: Cederberg 4x4
Bande?
Bridgestone Dueler All-Terrains
Is jy gelukkig met hulle?
Ek kan baie lank met hulle ry – tussen 80 000 en 90 000 km per stel. Hulle ry ook uitstekend op teer, met goeie hantering in die reën en ’n lae geraasvlak.
Beste ervaring?
Hierdie Duelers.
Ergste ervaring?
Niks wat ek kan onthou nie.
Nuttige wenk:
Onthou om jou bande effens af te blaas as jy op grond ry (ek stel sowat 1.5 bar voor). Dis ’n gemaklike rit, en jy gaan waarskynlik minder pap bande kry omdat die sagte rubber om skerp klippe vou.
Kry die meeste uit jou bande
Nie te hard nie, nie te sag nie.
Wanneer laas het jy jou banddruk nagegaan? (nee, vinnig kyk van 5 m af tel nie.) Die verkeerde banddruk is een van die grootste redes waarom bande te vroeg afloop. Dis beter om jou banddruk te meet as die bande koud is, d.w.s. voor jy soggens begin ry.
Oefen druk uit.
As jy in die sand ry, is dit raadsaam om jou bande tot 50-60% van hul normale druk af te blaas (by die meeste voertuie is dit sowat 0.9-1 bar). Wees versigtig as jy met ’n banddruk van laer as 0.9 bar ry, omdat die band van die velling kan afglip.
Oor die beste banddruk vir klipperige terrein is daar baie menings. ’n Sagter band vou makliker om ’n klip of rots, wat jou beter vastrap gee, maar ’n sagter, bultende sywand is weer meer aan skade van skerp klippe blootgestel.
Ons raad? Blaas jou bande effens af – sowat 30% van gewone banddruk waarmee jy op teer ry.
Dit sal jou ekstra vastrap gee sonder dat jy die sywande té veel blootstel.
Wat w-w-wikkel so?
Die meeste bandspesialiste stel voor jy laat jou wielsporing elke 10 000 km nagaan as jy op teer ry. Maar veldryomstandighede is buitengewoon, en dis waarom ons sê dis die moeite werd om dit na te gaan elke keer nadat jy ernstig in die veld met jou 4x4 gery het (buitendien sal die meeste plekke jou wielsporing gratis nagaan).
Die wisselkoers.
Bande van tweewielaangedrewe voertuie moet beslis gereeld omgeruil word, omdat die “werkende” bande vinniger as die ander twee bande afslyt. Ruil dit elke 10 000 km om, sê die kenners. Hoe maak jy? Dis eenvoudig: ruil eenvoudig die agterste en die voorste bande om.
Daar is uiteenlopende menings oor of 4x4-voertuie oor dieselfde kam geskeer moet word, omdat al vier bande die werklading deel. Ons raad? Slytasie vind baie selde ewe-redig plaas, en dis dus ’n goeie plan om ook bande van 4x4-voertuie gereeld te ruil.
Trap versigtig.
Die wettige minimum loopvlak van ’n band is 1 mm, maar vervang liewer jou bande voor die vlak soveel afgeloop het, veral as jy dikwels in nat weer ry.
Jy het gelukkig nie ’n liniaal nodig om die loopvlak te meet nie: alle bande het ’n aanwyser van die loopvlakslytasie – ’n strokie wat in die loopvlak in-gebou is.
As jy die strokie kan sien, is die groefdiepte te min. Hiermee kan jy vinnig sien of die loopvlak nog goed genoeg is.
Jy kan ook ’n vuurhoutjie in die lengte in die loopvlak sit. As dit uitsteek, is dit tyd vir ’n nuwe stel bande.
Die lang en hobbelrige pad.
Klippe, dorings, wortels en slaggate eis hul tol as jy die bos invaar. Daarom moet jy jou bande altyd deeglik bekyk nadat jy ’n bietjie bos gegaan het.
Kyk na die binne- én buitekant van die sywande. As jy ’n sny, gat, knop of materiaal sien, moet jy dit as ernstig beskou, omdat dit kan lei tot ’n band wat bars as jy terug huis toe ry.
Sit eerder die noodwiel op en laai die band by ’n profes-sionele onderneming af as jy terug is in die dorp.
Neem altyd die volgende saam:
Noodwiel(e): Een is goed, maar twee is beter.
Wielsleutel: Ja, dit klink voor die hand liggend, maar wanneer laas het jy gekyk of jy nog steeds joune het?
Domkrag: ’n Hidrouliese domkrag, hoogligdomkrag of lugdomkrag – jy kan kies.
Bandpomp: Afhangende van jou fiksheidvlak kan jy ’n voetpomp, lugpomp of kompressor inpak.
Bandherstel-stel: Hierin is al die nodige proppe, gom en gereed-skap om ’n band in die bos te herstel as jy in die knyp is.
Banddrukmeter: As jy in die veld ry, moet jy dikwels jou banddruk verminder (en daarna weer opblaas); dra dus altyd ’n banddrukmeter saam met jou.
Ekstra klepdoppies: Vervang plastiek-klepdoppies met metaaldoppies – hulle is meer duursaam en kan die stampe en stote in die veld beter hanteer.
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #7 | Junie - Julie 2008
| 518 KB |












