Buitelewe

Bosbrekers | ’n Bul van ’n breker

Die goeie Afrikaanse woord bullbar is eintlik verwarrend hier in Suid-Afrika.Die woord kom uit Australië en Amerika. In Suid-Afrika stoot ons egter nie ons beeste met bakkies rond soos Shane, Wayne en Bradley doer onder in die outback nie.Hier is ’n beter naam eerder “boerbokbreker” (of steek ’n bietjie hand op vir “taxibreker” …). Maar as jy nie ’n boer is nie, is die hoofdoel van die hoenderstellasie voor op jou bakkie om dit te beskerm, en om jou voertuig se veldryvaardigheid te verbeter. Ons hou dus by bosbreker.Onthou net, as jy die dag een wil koop, moet hom nie sommer laat sweis by Swart en Seuns Sweiswerke daar agter die silo’s nie. Daar’s ’n paar belangrike dinge wat jy moet oorweeg.’n Tuisgesweisde bosbreker kan moontlik jou voertuig se lugsakstelsel beduiwel, of as jy een van die dae ’n wenas wil opsit, is die ding dalk heeltemal in die pad daarvan.Hier is nog ’n paar oorwegings, en ’n paar mooi bullbars waaruit jy kan kies.Hoekom sal ek ’n bosbreker koop?1. Nie net mooi nie, maar ook veiligJip, hy laat jou Defender ’n aks meer hardekwas lyk, maar daar’s g’n twyfel dat ’n swaar staalraam op die neus van jou voertuig die versekeringseis aansienlik kan verklein as daai kameeldoring weer voor jou inspring nie. Of daai ongeskikte wit afleweringsbakkie …Maar die eintlike voordeel is dat hy kan keer dat jy iewers in Kaokoland gestrand sit met ’n gekraakte verkoeler wat lek.Maar dit maak ook ’n verskil aan jou veiligheid en dié van jou passasiers. Ek het onlangs by Burnco 4x4 ’n Land Cruiser gesien wat ’n koei getref het.Die Cruiser se bosbreker was tot teenaan die enjinkap gedruk, maar buiten ’n stukkende koplamp en ’n duikie in die bakwerk was die voertuig ongeskonde en die insittendes vrolik en gesond. Dieselfde kan ongelukkig nie van die koei gesê word nie.2. Om bo-oor goed te kan ryAs jou luukse nuwe veldwa se neus vashaak aan die eerste klip onderaan Bobbejaanspas, dan weet jy jou naderingshoek is te klein.Die naderingshoek is die hoek tussen die grond en die denkbeeldige lyn tussen die onderpunt van die voorbuffer en die plek waar die bande aan die grond raak.Hoe groter dié hoek, hoe minder kliptrappies en stompe gaan jy tref.Die probleem is dat al meer van die nuwer 4x4’s sulke lae plastiekbuffers (fenders, meneer) het soos ’n hond wie se tong op die grond hang.Die bedoeling is om die voertuig meer aërodinamies te maak op die teerpad, maar al wat in die veld gebeur, is dat jy daai buffer soos ’n roomysstokkie afknak teen die eerste beste termiethoop. En jy weet wat jy deesdae betaal vir daai gemors.Ons beveel aan dat enigiemand wat in die veld gaan ry, hetsy op die duine of op roetes met ’n gradering van 4 of 5, die Tupperware vervang met ’n bosbreker wat na aan die voertuig sit.3. Genoeg plek vir jou speelgoedDie maklikste manier om toebehore soos ’n wenas, radio-antenna, kolligte of visstokhouer aan jou voertuig te heg, is op ’n bosbreker.As jy ’n bosbreker laat aansit, is dit belangrik om vir die werkswinkel te sê wat jy beplan. ’n Wenas kan net op sekere bosbrekers gesit word, terwyl kolligte ’n uiters stewige basis nodig het sodat dit nie vibreer terwyl jy ry nie.’n Ligstraal wat rondwikkel, is irriterend, en uiteindelik kan jou duur lig afbreek iewers tussen Nampula en Pemba, en dan gaan jy swets!4. Om uit die bollie te kan komNog ’n maklike manier om plastiekbuffertjies op te frommel is om die voertuig te herwin met ’n sleeptou of kinetiese strop oor ongelyke terrein of om ’n hoogligdomkrag te gebruik.Gebruik eerder die hoogligdomkragpunte op jou mooi nuwe bosbreker om die bakkie te lig of die boogskakels aan die herwinningspunte om ’n kinetiese strop te heg.Die bosbreker is immers van staal gemaak en op die onderstel vasgebout. Die meeste bosbrekers word verkoop met gate vir boogskakels. Vra net die ouens in die 4x4-werkswinkel om ook ’n paar hoogligdomkragpunte aan te sweis.Bl 2 | Oorweeg dié dinge ...Oorweeg dié dinge voor jy ’n bosbreker kies* Die groot lugsakvraagstukDie installering van ’n groot bosbreker kan die werking van die lugsaksensors iewers in die neus van jou voertuig beïnvloed. Jy hoef nie Piet Byleveld te wees om dit uit te pluis nie.Watter een moet ek kies? Die geheim is om te weet watter bosbrekers nié die ontplooiing van lugsakke beïnvloed nie. Die maklikste manier om veilig te speel is om een van die groot Australiese handelsmerke te kies: TJM, ARB en Ironman.In Australië moet alle vervaardigers van bosbrekers aan die Australiese buro vir standaarde, die Australian Design Rules, kan bewys dat hulle bosbrekers nié die werking van karre se lugsakstelsels beïnvloed nie.Dié bosbrekers is dus deeglik getoets en in Australië goedgekeur deur die groot vervaardigers van 4x4’s – Land Rover, Nissan, Toyota, Isuzu, Ford, Mazda, Mitsubishi en Jeep.En my waarborg? Is jou voertuig se waarborg nog geldig as jy ’n bosbreker installeer? Nie noodwendig nie. Elke motorvervaardiger in Suid-Afrika het sy eie vereistes.Die goue reël is dat jy by die handelaar by wie jy die voertuig koop, moet vasstel watter bosbreker goedgekeur is en of jou waarborg nog geldig is as jy ’n bosbreker installeer. Kry die goedkeuring swart op wit.En plaaslike produkte? Plaaslike bosbrekers en buffers, soos Burnco en Nudge-M, is baie goedkoper as die ingevoerde Australiese produkte, maar dis nie ontwerp en getoets om saam met lugsakstelsels te werk nie. Al is die kans goed dat die lugsakke steeds sal werk, het jy geen waarborg nie.* LengteMeet asseblief tog net die lengte van jou motorhuis voor jy die nuwe bosbreker laat aansit, want jou veldwa se neus gaan effens langer word. As jy ’n klein motorhuisie het, sal jy dalk die fiets teen die dak moet hang of daai tienpondhamer moet afstof …* Gewig ’n Bosbreker weeg ligter as wat jy sou verwag – sowat 25 kg. Dis die toebehore wat jy daaraan hang, wat hom swaar maak.’n Wenas is die grootste oortreder – hy kan sowat 40 kg bysit. En sit nog kolligte en hegtingspunte vir ’n hoogligdomkrag by, en die skaal staan op 70 kg.Naby die vooras is 70 kg kinderspeletjies, maar doer voor kan dit dalk die neus effens aarde toe trek. ’n Cruiser of Defender gaan dit skaars voel, maar by ander modelle sal jy dalk die vering effens stywer moet maak.Gaan gesels met jou plaaslike veringspesialis hieroor. Of praat met die manne op ’n respektabele 4x4-internetforum.* MateriaalDie meeste naverkope-bosbrekers is van staal, maar TJM het ook aluminium-modelle.Aluminium is natuurlik ligter, wat lekker is as jy ’n swaar wenas wil aansit, maar dit vou ook makliker om bome as staal (en herstel nie so maklik nie) – hou maar by staal.* InstalleringJy hoef nie die Wêreld-Meccano-kampioen te wees om self jou bosbrekerte installeer nie. Jy’t net die regte gereedskap nodig. Bosbrekers word gemaak om op bestaande monterings te pas, en dit word gewoonlik net aan die onderstel vasgebout.Jou 4x4-werkswinkel behoort dit vinnig te kan doen – binne ’n uur of twee. Die arbeidskoste behoort tussen R300-R400 te wees.* Kleur Die meeste werkswinkels kan jou nuwe bosbreker dieselfde kleur verf as jou voertuig. Maar dit gaan jou tussen R1 000 en R2 000 meer kos.* Word die lugvloei versper? Moenie nagmerries kry hieroor nie. Die meeste bosbrekers sit onder die luginlaat, en waar dit in die rooster se pad kom, het die vervaardiger gate ontwerp om die lug deur te laat.Die gevaar is veel groter dat jou ander toebehore – ’n wenas, kolligte of masjiengeweermontering – wat op die bosbreker sit, die rooster sal versper.* Watter veldwa ry jy? Dis belangrik om twee redes: Party motorvervaardigers maak nie vir ’n bosbreker voorsiening nie. Veral iets soos ’n hoogs gesofistikeerde nuwe Range Rover of Lexus het te veel kameras en parkeersensors aan die voorkant van die voertuig om nog plek te hê vir ’n bosbreker.En ook as jy ’n voertuig kies wat nie in Australië versprei word nie, gaan jy nie ’n standaardbosbreker kan installeer nie. Moenie bekommerd wees nie, want plaaslike vervaardigers soos Burnco kan ’n pasgemaakte bosbreker vir omtrent enige voertuig bou.

Bl 3 | Wat is beskikbaar?Wat is beskikbaar?1. STAMPSTAAFMet stampe en stoteDis die pypvormige “bokbaard”-stawe wat jy op elke tweede Fortuner (en Navara en Sportage en …) sien. Dis nuttig om kolligte te monteer en basiese beskerming teen stampe te gee. Maar dis hoofsaaklik goed vir een ding – stampe.Die stampstaaf steek selfs verder uit as die oorspronklike buffer, en dit verminder jou naderingshoek. Op ’n maklike roete sal dit nie saakmaak nie, maar as jy ’n swaargewigroete wil ry, moet jy eerder iets anders kies.Stampstawe van vlekvrye staal is groot mode en dit hou ook langer as jy naby die kus bly. Maar jy gaan hom ook meer aan jou sak voel.Benaderde prys: Sagte staal: R2 000-R2 500;Vlekvrye staal: R3 000-R4 500Oorweeg een van dié vervaardigers: * Artav 011 823 6616; 031 700 2726; * Excalibur 0861 00 3939; * Maxe 031 713 2200;

2. BOSBESKERMERVir meer as ’n paar ligte stampies’n Bosbeskermer (“brush guard”) is daai ou pyp-bull bar wat jy tot in die vroeë negentigs op plaasbakkies gesien het – nou sien jy dit dikwels op Land Rover Defenders.Dis iets tussen ’n stampstaaf en ’n vervangingsbosbreker. Gewoonlik is dit baie goedkoper as ’n bosbreker en jy kan ook herwinningspunte, kolligte en ’n wenas daarop laat monteer.Sy grootste nadeel is dat dit aan die bestaande buffer vasgebout word, wat jou ’n kleiner naderingshoek gee as met ’n bosbreker. Vir algemene beskerming en die montering van toebehore is hy fynpikkewyn, maar as jy beplan om ’n paar versteekte stompe te tref, kry maar iets sterkers soos ’n bosbreker.Benaderde prys: R2 500-R5 000Oorweeg een van dié vervaardigers:* Rhino 021 911 3575; * Terrafirma 4x4 LR Service Centre 021 552 1979; (Dié stawe is slegs vir Defenders; dit vervang wel die bestaande buffer, maar beïnvloed nie die naderingshoek nie.)3. VERVANGINGSBOSBREKERNóú praat jyAs jy by die 4x4-winkel instap en vra vir ’n bosbreker, is dít waarskynlik die een wat hulle aan jou sal wil verkoop. As dit geïnstalleer word, word die ou buffer heeltemal verwyder (vandaar die woord “vervanging”) en ’n swaardiensbuffer word in sy plek aangesit. Die twee groot voordele is ’n verbeterde naderingshoek en beter beskerming.Besluit eerstens of jy ’n model wil hê wat voorsiening maak vir ’n lugsak. Soos reeds bespreek, het slegs TJM, ARB en soms Ironman die goedkeuring van die groot 4x4-motorvervaardigers.Die plaaslik gemaakte bosbrekers het nie die sertifikaat en waarborg van oorsese handelsmerke nie, maar dit beteken nie noodwendig dat dit nie versoenbaar met lugsakke is nie. Dit beteken net dit is nie behoorlik getoets niePlaaslike bosbrekers is egter goedkoper as die oorsese make. Jy sal tussen R15 000 en R20 000 betaal vir topreeks-ARB- of TJM-modelle, en vir sy plaaslike eweknie sal jy minder as R10 000 betaal.Nog ’n groot voordeel is beskikbaarheid; ’n plaaslike werkswinkel sal omtrent enigiets kan bou vir jou eienaardige Russiese veldwaentjie waarvan daar net 3½ in die land oor is.Die goue reël is – kies ’n gevestigde sentrum sodat jy kan teruggaan as iets sou verkeerd loop.Benaderde prys: Ingevoer: R9 000-R22 000;plaaslik: R6 000-R11 000Oorweeg een van dié vervaardigers:Ingevoer:* ARB(beskikbaar by 4x4 MegaWorld)011 454 2875;* TJM(beskikbaar by LA Sport)012 751 0877;Plaaslik:* Burnco 021 949 1713; * ONCA (steeds Toyota) 011 979 2690; * Nudge-M 011 900 3540; www.nudge-m.co.za

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM