Nie almal sleep met 'n Volkswagen Beetle nie, en as dit boonop die Duits-Franse Eriba Puck-woonwa is, is die kans bykans 'n 100% dat jy die enigste sleper met dié kombinasie in Afrika is.

"Ek het net R8 000 vir dié karavaan betaal," vertel Werner Alker van Clubview in Pretoria. "Maar vandag besef ek hoe waardevol die Puck is, ek sal hom nie verkoop nie. Om die waarheid te sê, ek is so jammer vir die karavaantjie, ek gaan kamp glad nie meer met hom nie - ek sleep hom nie eens as dit reën nie."
Werner het die 1978 Eriba Puck-karavaan in 1999 by sy buurvrou, Lorraine Schönfeldt gekoop. Lorraine-hulle was vir 'n paar jaar in Parys (Frankryk) en met hul terugkeer, het hulle onder meer dié karavaan saamgebring. Die Puck weeg 'n skamele 330 kg en het selfs sy eie remme. "Ek het nog net een keer met die karavaan gaan kamp. Dit was een jaar toe ek 'n toer teen die Weskus gedoen het. Maar jy sal nie glo nie, op 'n reguit oop pad as ek lekker spoed opmaak met my 1600 Beetle en dié karavaan, draf die Puck soos 'n lammetjie agterna.
"Maar eintlik vat ek die Puck saam met die Beetle na motorskoue. Die Puck is soos 'n magneet. Die mense loop verby blinkgepoetste V8-motors, maar steek vas by dié karavaantjie. Die Puck is 'n Duitse karavaan wat onder lisensie in Frankryk gebou word.
"Ons het die karavaantjie nuut in Frankryk gekoop," vertel dei buurvrou, Lorraine. "Hierdie is sommer 'n dubbelbed op wiele, maar daar kan tot drie mense op die bed slaap. Ja, dis nog 'n bed met coilsprings.
"Alles binne-in is popspeel klein. Daar is 'n gasstoof, wasbak en 'n yskas wat met gas, 220- of 12 V werk. Die vensters is 'n dubbelwand vir die erge koue in Europa, en die bed kan selfs aan die een kant vir ekstra lang mense verleng word."
Werner het in 1964 na van Duitsland Suid-Afrika af verhuis. "Ja, my geboortesertifikaat het selfs nog Hitler se swastika-stempel op. Ek het my vakleerlingskap in Duitsland gedoen en is daarná deur Volkswagen na Afrika gestuur.
"Maar wat is 'n karavaan sonder 'n sleepvoertuig werd? Ek sleep met my 1966 1600 Beetle. Kyk hier, ek het hom beter afgerond as die Volkswagenfabriek self; ek het selfs die enjingedeelte afgeseël. Daar is eintlik net een perfekte Beetle gebou: dit is die 1957-model.
"Mense weet dit nie, maar daar was ook 'n 4×4-Beetle gewees. Dit was in die Tweede Wêreldoorlog, hulle het dit die Kommandeurswagen genoem. Maar as daar iets is wat my pla, is dit die nuwe Beetle. Gaan kyk 'n bietjie, hulle het die ou Beetle gevat en alles net omgedraai en nou het hulle nog die cheek om dit 'n Beetle te noem!
"Ek het besluit om nou nie meer die Puck na motorskoue te vat nie. Dit is onregverdig teenoor die ander uitstallers, ek moet hulle ook 'n kans gee."
- Werner is die stigter en lewenslange president van die Jacaranda Beetle-klub. Dit is die oudste Beetle-klub in Suid-Afrika en vier hul 25ste bestaansjaar in 2011.
- Die Puck het 'n rukkie gelede onverwags sy "buiging" op die WegSleep-forum gemaak nadat die aardige sleepkombinasie by 'n motorskou in Pretoria raakgesien is en forumlede aan die praat gesit het. Met die hulp van 'n paar forumlede kon ons Werner en sy Puck opspoor.
Het jy iewers 'n rare sleepsel gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na * wegsleep@weg.co.za van WegSleep, Posbus 1802, Kaapstad 8000.












