Melody Dreyer van Bloemfontein het in Junie 2013 in Botswana gekuier en ’n interessante ervaring gehad in die Xakanaxa-kampplek in die Moremi-wildreservaat.Ons was onverskillig en het vars vrugte in die voertuig gelos... Een oggend kom ’n olifant by ons kampplek aan; hy het nog so gesoek-soek toe lig hy die Fortuner 45º!’n Massahisterie bars los. Die kinders skreeu, mans klap hande, emmers word gegooi, Ouma raas... Hy laat sak later die Fortuner en loop ’n entjie weg. Ons gaan soek dadelik hulp by die wildbewaarders.Die bewaarders daag op, maar ons word meegedeel ons kan eintlik niks doen nie. Alle vrugte moet weggebêre en vensters behoorlik toegemaak word.Later die aand terwyl ons kosmaak, kom die olifant terug. Hy loop deur die kamp en ondersoek alles wat eetbaar is. Daar’s nie slaai vir ons vir vanaand nie – die tamaties word een ná die ander verslind, selfs die uie. Die meelsakkie word oopgeslaan en Oupa se tentjie wat as herberg vir die koskratte dien, word platgetrap.Uiteindelik beweeg hy weg na die ander kampterreine – ons hoor net gille en toeters! Later hoor ons die olifant is geskiet. Was dit nou regtig sy skuld? Ons besoek immers sy gebied – dis sy jakkalsbessies in die bome, sy paadjies deur die bos...
GEWILDSTE VANDAG
RUBRIEKE VANDAG
SPELETJIES VANDAG
Spesiaal vir intekenare!
Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag.
SPEEL SAAM










