
STABILISEERDERSKies ’n goeie stabiliseerder as jy wil hê jou karavaan moet so stil en reguit agter jou sleepvoertuig wees soos daai veraf kyk in Clint Eastwood se oë, sê Hans Koekemoer.Waarom en watter?Die regte stabiliseerder kan jou lewe red – daarom moet jy versigtig kies.In die jare sestig was veral die Snow Sway en Jurgens se gewigsverdelers gewild. Dié Jurgens-patent het twee arms gebruik om gewig van die trekpunt na die sleepvoertuig se voorwiele te verplaas. Die arms het elk met ’n kort ketting aan die woonwa se A-raam vasgehaak. Baie mense het geglo dié arms help ook om woonwaswaai te verminder.Dit was dalk so, maar die eintlike doel was om die sleepvoertuig se voorwiele beter vastrap te gee. Die nadeel was dat as jy met die aansitslag te min speling op die kettings gelaat het, jy die woonwa se remstelsel so te sê nutteloos gemaak het. (Vir die inloopremme om te werk moet dit effens vorentoe kan beweeg. As daar te min speling op die kettings is, kan dit nie gebeur nie.)Die Snow Sway het met ’n arm wat op ’n friksieskyf vasgeheg is, aan die trekhaak gehaak. Dié arm is met ’n glypen aan die woonwa gehaak. Die probleem was dat dieselfde beginsel wat moes help om die woonwa minder te laat swaai, ook die teenoorgestelde uitwerking kon hê: Pleks daarvan om die woonwa net reguit agter die sleepvoertuig in te druk, het die arm dit soms verby die middellyn gedruk en derhalwe die swaai vererger. Die Snow Sway het redelik vinnig van die mark af verdwyn.In die laat jare tagtig het die Trapezium- en Tando-stabiliseerder op die toneel verskyn – ’n aansienlike verbetering op hulle voorgangers.Die Tando het gewig verplaas én met ’n friksieskyf gewerk – basies twee asbesskywe wat teen mekaar skuur en met wrywing die swaai-aksie beperk. Dit was tot 2000 waarskynlik die gewildste stabiliseerder in Suid-Afrika, maar het onverwags van die mark verdwyn.Die Trapezium is steeds een van die doeltreffendste mediumgewig-stabiliseerders.Hoekom swaai my woonwa?Enigiemand wat al gestoei het met ’n woonwa wat swaai, sal weet dis nie speletjies nie. As jou woonwa begin toertjies doen in die truspieëltjie, is die kanse goed dis weens een van die volgende redes.Neusgewig. Gewig op die woonwa se neus maak dit meer stabiel; gewig in die agterkant is geneig om dit meer te laat swaai.As jy dus net jou lilo en Boeta se swemtjoepie in die voorkant van die wa pak en al jou swartboompotte saam met jou tent agterin laai, kan jou woonwa begin swaai soos Naomi Campbell se heupe op die loopplank.As jy egter die neuskant te swaar laai, sal dit op die sleephaak afdruk en die sleepvoertuig se neus lig. En dan sal die voorwiele minder kloukrag op die pad hê.Die SABS (én slepers) plaas egter toenemend druk op vervaardigers om woonwaens se neusgewig so lig as moontlik te maak. Wetgewing bepaal dit mag nie meer as 10% van die woonwa se totale gewig wees nie – dit mag nie 100 kg oorskry nie, maar ook nie minder as 50 kg wees nie.Dwarswinde.’n Woonwa se groot sykante maak dit kwesbaar vir dwarswinde. As jy ’n vragmotor of bus verbysteek en jy probeer kompenseer vir die rukwind, veroorsaak dit ook soms dat die sleepding ’n bietjie dans.Banddruk. Bande wat nie reg gepomp is nie – veral as die banddruk oneweredig is – is geneig om swaai te veroorsaak.Hedendaagse bande is ontwikkel om skok te absorbeer en gewig te verplaas sodat ’n voertuig makliker gestuur kan word. Maar omdat ’n woonwa effens bo-swaar is, sal dié rolbeweging die wiele nóg meer van kant tot kant laat wieg – wat die swaai-aksie net vererger.Remme. Woonwaremme wat nie reg gestel is nie, is ’n groot sondaar en het al menige bestuurders teen afdraandes benoud gehad.Wanneer jy die sleepvoertuig se rem trap, sal remme wat nie behoorlik ingestel is nie, eers aan die een kant inskop en dan aan die ander. Jou kar en sleepding wil dan knipmes. Ernstige swaai is jou voorland.Wat van my boswa?Die meeste sleepwaens is lig genoeg om sonder ’n stabiliseerder gesleep te word. As jy egter ’n groterige veldsleepwa haak, kan ’n stabiliseerder jou help, veral in ’n sterk dwarswind.Watter stabiliseerder is reg vir my?Hier’s ’n paar riglyneYELLOW BLADESleep met ’n geel streepWaarvoor is hy bedoel? Vir ’n liggewig sleepwa of woonwa met ’n massa van tot 900 kg.Hoe werk dit? Met ’n friksieskyf en ’n “lem” wat heen en weer kan skuif langs die disselboom van die woonwa. Dit het dus geen uitwerking op die remvermoë van die woonwa nie.Die Yellow Blade kan ook op ’n sleepwa gebruik word. Moderne trekhake soos die gansnek of verwyderbare sleephake kan maklik vir die Yellow Blade aangepas word.Hoe sit ek dit vas? Dis taamlik eenvoudig om die Yellow Blade op die trekhaak te monteer. Dit is beslis nie ’n rugbreker soos die Tando of die Jurgens-gewigsverdelers nie. TRAPEZIUMHöergraad-driehoeksmetingWaarvoor? Vir ’n woon- of sleepwa van tot 2 000 kg, met ’n maksimum neusgewig van 150 kg. Die meeste veldwoonwaens se neusgewig is swaarder as dit en die Trapezium is dus nie hiervoor geskik nie.Hoe werk dit? Die Trapezium het sy eie sleepbal wat 180° kan draai. Dit beteken wanneer die woonwa swaai, oefen dit minder hefboomkrag op die sleepvoertuig uit. ’n Stutarm wat aan die sleephaak vas kom en langs die A-raam gestut word, sorg ook dat al die krag nie net op die sleepbal uitgeoefen word nie, maar eerder op ’n denkbeeldige punt nader aan die voertuig se agteras.Ja, dis ingewikkeld en klink soos hoërgraad-skeinat, maar dit werk – dis eintlik al wat tel.Hoe kom dit vas? Dit pas tans slegs op ’n standaard-sleephaak. Jy gaan hom dus nie op ’n nuwer sleepvoertuig wat in die fabriek reeds met ’n trekstang toegerus is en in die bakwerk versteek word, kan gebruik nie.Die Trapezium is ook ’n groot, onooglike blok wat aan die sleephaak gemonteer word, maar dit werk: Daar is reeds meer as 20 000 van hierdie stabisileerders in Suid-Afrika verkoop. STRAIGHTLINERPylreguitWaarvoor? Vir die swaardiens-sleper. Hier praat ons van ’n woonwa of sleepwa van tot 4 000 kg. Dit beskik ook oor ’n gewigsverspreidingsfunksie.Hoe werk dit? Die Straighliner is afhanklik van ’n “skokbreker” wat alles in plek hou. Sodra jy die sleepvoertuig en woonwa in ’n reguit lyn het, kan jy die Straightliner koppel. Wanneer die woonwa uit hierdie lyn sou neig, druk die skokbreker dit weer terug.Selfs in Europa word hierdie stabiliseerder beskou as een van die gevorderdste stabiliseerarms.Hoe kom dit vas? Dit kan letterlik binne minute op enige trekstang gesit word.TRAPEZIUM OFFROADER’n Bielie vir ’n boswaWaarvoor? Vir ’n veldsleepwa of -woonwa, maar jy kan dit ook op ’n gewone woonwa gebruik.Hoe werk dit? Dit herinner nogal baie aan die Tando, maar hier is twee arms pleks van een. Dit help om die swaarder neusgewig horisontaal te versprei sodat jy die waentjie of woonwa oor rowwe terrein of deur dongas kan sleep.Daar is skarniere aan die arms (net agter die haak) wat 50° op en af en 50° na die kante toe kan beweeg. Dit maak dit makliker om teen ’n steil helling te sleep. Daar is ook ’n friksieskyf aan elke arm.Hoe kom dit vas? Daar is ’n gat aan weerskante van die trekhaak waarin die arms vas kom (op dieselfde manier as die Yellow Blade). Die twee arms loop langs die sleepding se disselboom af en rus dan op twee hake wat aan die disselboom vas is.












