Waar kry 'n mens geld om 'n Jeep so mooi op te bou? Jy erf onverwags miljoene by 'n verlangse tante. Jacques Malan het nie só gelukkie op die lyf geloop nie en moes die proses maar stuk-stuk aanpak.

Jacques Malan, 'n traumatoloog van Kaapstad, het dié 2003 Jeep TJ Sport in 2007 vir 'n winskoop gekry. Toe het dit reeds 33 duim-modderbande gehad en kronkelvere wat 2 duim langer as standaard is. Maar Jacques was nie tevrede hiermee nie. Hy het reeds planne om nóg groter bande op te sit en dit nóg hoër te maak - en daarvoor moet 'n klomp goed verander word.
Waar het jy begin?
Die eerste stap was natuurlik om die Jeep te kry. Ek het die TJ Sport in 2007 met slegs 21 000 km op die afstandmeter vir R140 000 gekoop. Buiten groter bande het dit reeds 'n pypbuffer voor en agter gehad.
Ek moes eers 'n paar dinge uitklaar omdat die Jeep groter bande gehad het en hoër gemaak is. Die wiele het teen die bakwerk geskuur as ek te skerp gedraai het en as die wielartikulasie op sy maksimum was.
Die eerste wat ek toe gedoen het, was om die bakwerk met 2 duim te lig. Dit sou help met die wiele wat skuur op maksimum artikulasie. Toe het ek nuwe Old Man Emu-kronkelvere ingesit wat 2,5 duim langer as standaard is en 'n snorkel geïnstalleer.
Laastens het ek Bushwacker-modderskerms aangesit wat hoër as die gewone modderskerms sit. Dis om daai ekstra bietjie plek te gee vir wielartikulasie.
Was jy toe tevrede?
Dit het die probleme met die wiele uitgeklaar, maar ek sê nooit nee vir nóg krag nie. Ek het 'n versneller-verlengstuk (throttle body spacer) ingesit wat die deursnee van die versneller vergroot en die kraglewering met altesaam 12% verhoog het.
Een van die beste ombouings wat ek gedoen het, was om die ewenaarverhouding te vergroot tot 1:4,56. Ek het ook 'n skuifjuk-uitskakelaar (slip yoke eliminator) ingesit. Dit verskuif die skuifjuk op die dryfas na 'n beter posisie en is nodig as jy jou voertuig met meer as 4 duim wil lig. As jy dit nie doen nie, is die vibrasies wat van jou skuifjuk af deur jou voertuig kom te erg.
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/IMG_8646.jpg
Wat het jy nog gedoen?
Die BF Goodrich-modderbande het die einde van hul leeftyd in 2010 bereik. Ek het toe besluit om Dick Cepek Crushers 33 duim-bande op te sit. Dis een van my beste besluite nóg. Die bande werk baie goed in sand en modder. Selfs al ry ek met die banddruk van tussen 0,3 en 0,4 bar, het die band nog nie een keer van die velling afgeklim nie - selfs sonder spanrandsluiting (bead lockers).
Aan die einde van 2011 het ek 'n Maniac-voorbuffer met 'n modifikasie wat bekend staan as 'n stingeropgesit. 'n Stinger is 'n soort pyp wat aan 'n buffer vasgemaak word en teen 'n hoek van 45º vorentoe uitstaan.
Ek het luggate op die enjinkap laat insit om die enjin 'n bietjie koeler te hou en ook Metal Cloak-modderskerms voor laat insit. Dan het ek ook Poison Spyder Comp Crushers-modderskerms agter laat insit en kronkelvere wat 4,5 duim langer as standaard is reg rondom laat insit.
Is jy nou klaar?
Nee, ek wil nog baie doen en die lys is lank… Bo-aan my wenslys is 'n pasgemaakte agterbuffer en Rock Knockers-rotsglystawe. Daarna wil ek 'n Currie-stuurrak-opgradering en die kragstuur van 'n Jeep ZJ laat insit.
As dit klaar is, sal 35 duim-modderbande en vierskakelvering agter aan die beurt kom. Ek wil ook die agteras skuif om die wielartikulasie te verbeter. En dan nóg verder in die toekoms wil ek 'n ARB-ewenaarslot op die agteras sit en 'n Dana-44-ewenaarslot voor.
Laastens wil ek die enjin van 'n 4 liter na 'n 4,8 liter verhoog.
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Sunseeker-2.jpg
Watter raad wil jy vir mense gee wat dieselfde wil doen?
Begin klein en hou spesiale aanbiedinge dop. Spaar eerder nog 'n rukkie en koop een keer ordentlike onderdele as wat jy dalk later swakker onderdele moet vervang.
Doen jou huiswerk en maak seker van die ombouings. Dit gebeur soms dat jy as gevolg van een ombouing nog iets moet verander, soos die groter bande wat jou ratverhouding sal beïnvloed.
Maak seker jy vra die regte mense voor jy iets doen.












