
[gallery link="file" columns="4" ids="274575,274576,274577,274578"]As jy ’n waardering het vir die langpad, maak dan hierdie sagmoedige Teutoniese reus jou heimat.TEKS CYRIL KLOPPER FOTO'S SUZAAN KRITZINGER-KLOPPERRobert M. Persig se topverkoperboek van dertig jaar gelede, Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, het weinig te doen met die Oosterse filosofie en moersleutels. Hy bekyk eerder die aard van gehalte, en die twee soorte mense wat daarna streef: dié wat daarvan hou om meganika te verstaan, en diegene wat net wil weet dinge werk.Wat het ons hier? Hierdie ryding is vir die tweede groep. Die K1600 GT gaan nie die ouens bevredig wat die elektriese harnas uit die battery tot by die flikkerligte wil naspoor nie. Dié motorfiets is van kop tot toon bedek in plastiek en metaal-allooi en hy nooi jou nie om jou vingers in sy olie te doop nie.Iewers, dwars gemonteer onder al daai tooisel, is ’n reguitsessilinderenjin waarvan slegs die voetenent aan weerskante van die fiets uitloer. Die 1 649 cc-enjin skop ’n allemintige 118 kW teen 7 750 r.p.m. en 175 Nm teen 5 250 r.p.m. uit.Dis glad nie te versmaai as jy in ag neem dat die enjin soortgelyke afmetings (en omtrent dieselfde gewig) as ’n viersilinderenjin het nie.Op die passasiersitplek? Jou passasier gaan gaande wees oor die K1600 GT. Die vashouplekke is wyd uitmekaar sodat jou passasier gemaklik kan vashou. Die sitplek is lekker dik opgestop en daar is ’n skakelaar onder die linkerbobeen wat die boudverwarmer aktiveer – té lekker op die koue Vrystaatse vlaktes. As jou bankbestuurder ’n ekstra paar rand bewillig, kan jy natuurlik die luukse GTLmodel aanskaf sodat jou ander helfte teen ’n geïntegreerde rugleuning kan ontspan.Is daar genoeg pakplek? Jy kry op die koop toe ’n stel bypassende sytasse wat jy kan afhaal indien jy dit verkies.Elkeen van dié tasse gee jou 33 liter pakplek. Daar is ook twee paneelkissies naby jou knieë wat groot genoeg is om jou beursie, huissleutels en ’n bottel water te hou. Die regterkantste paneelkissie het ’n USB- en klanksok om jou selfoon te herlaai en musiek te speel; én dis waterdig. Al die bêreplekkies en tasse kan van ’n afstand af deur die sleutelhouer gesluit word.Hoe lyk hy? Die K1600 GT is so breed soos ou tante Koba (1 m). Vergeet dus daarvan om rats deur die spitsverkeer te glip. Dié fiets is modern dog konserwatief, en daai vreemde Duitse humorsin skemer plek-plek deur.Die instrumentepaneel lyk byvoorbeeld of dit uit ’n boom box uit die jare tagtig gesteel is. Die twee uitlaatpype met ses – ja, ses! – gate is ook effens gek, maar party mans kan mos ure lank in verwondering na sulke dinge staar.BMW het sy kenmerkende stralekranse om die halogeen-hoofligte aangebring. Snags gaan die Xenon-HIDprojektorlig jou laat veilig voel.Dié lig word giroskopies gebalanseer sodat die straal altyd oor dieselfde afstand val, ondanks knikke in die pad. Die lig swaai ook vanself links en regs na gelang van die draaie.[gallery link="file" columns="4" ids="274581,274582,274579,274580,274583,274584,274585,274586"]Wat van ander affêrinkies? Die GT is toegerus met sluitweerremme, ’n immobiliseerder, sentrale sluitstelsel, vastrapbeheer, kruisspoedbeheer, verhitte sitplekke en handverwarmers, elektries verstelbare windskerm en -vering, en ’n duimwiel wat deur funksies en sensorinligting rol – van banddruk tot die buitetemperatuur.As jy net een ekstra kan bykoop, beveel ons die opsionele klankstelsel aan. Die alarm is ook ekstra.Hoe dors? Die GT se brandstofverbruik onder ’n matige hand is 5,7 liter/100 km. As jy hom druk tot dubbel die spoedgrens, gaan die petrolpomp jou straf – en waarskynlik die gereg ook.Hoe ry hy? Die vering is elektries verstelbaar en kan stywer en sagter gedraai word, afhangende daarvan of jy ’n passasier en bagasie saamdra. Die nuwerwetse elektroniese versneller is nukkerig teen lae snelhede, maar dis tegnologie wat hier is om te bly. Kraglewering word beheer deur ’n reën-, pad- en dinamiese modus wat vooraf geprogrammeer word. Die bedeesde reënmodus keer dat jou passasier se nek rondpluk as jy deur die laer ratte versnel, maar as jy eers op spoed is, kan jy terugskakel na die flinker dinamiese modus.Dis nie ’n verstommend vinnige fiets nie, maar hy laat wiel beslis. Sy logge lyf van 332 kg is verbasend maklik om in ’n draai te druk en jy hoef nooit weg te skram van bergpasse nie. Met die vering in die sportmodus kan jy amper enige naweek-superfietsryer in sy noupassende leerpak uitdaag. Jy gaan hom nie klop nie, maar jy sal lank genoeg kan bybly om hom te beïndruk.Natuurlik is die GT nie gemik op jaagduiwels nie, maar dis lekker om te weet jy het genoeg krag om moeiteloos onder ’n probleemsituasie uit te ry.Hiervan hou ons Die verstommende wringkrag!Maar hiervan nie? Amper niks, hoewel ’n trurat welkom sou wees.Weg sê Hy’s nie so luuks soos die befaamde Honda Goldwing nie, maar sorg vir hope meer pret!












