
Nuwe enjin, nuwe woema: Ons ry die Toyota Land Cruiser 79 4.5 V8 D-4D (dubbelkajuit).DEUR MARNUS HATTINGH FOTO'S QUICKPICAlmal weet ’n Land Cruiser 79 en ’n pantserkar het dieselfde ma, maar daar was nog altyd een versugting plaaslik: Kan ons nie maar ’n frisser turbodiesel kry nie? Want tot nou moes ons klaarkom met die 4,2 liter-V6 (sonder turbo). Ja, hy is ’n getroue, harde werker, maar nie so fluks en gespierd soos ’n moderne turbo-enjin nie.Uiteindelik is die Cruiser nou ook met ’n 4,5 liter-V8-turbodiesel beskikbaar. Hy het amper dubbel soveel krag en wringkrag (151 kW; 430 Nm) as die V6, maar hy gebruik net “skoon” diesel (50 ppm).Saam met die nuwe enjin is die Cruiser-reeks ook opgeknap. Jy kry steeds 4x4-aandrywing, laestrekratkas en ’n ewenaarslot, maar die brandstoftenk is nou ’n enorme 130 liter groot.’n Snorkel is ook standaard, asook sluitweerremme, twee lugsakke voor en elektriese vensters. Gits, die Cruiser het deesdae selfs ’n USB-sok vir jou gunstelingpadmusiek.












