Wanneer jy in die veld kos maak, moet jy klaarkom sonder jou AMC-potte en broodmasjien. Ons het gaan rondsoek vir die soort kookgerei wat jy kan gebruik.*Alle pryse was korrek teen tyd van publikasie.Platboom-ysterpotPlatboude is die besteJa, ’n driepootpotjie lyk oulik, maar dis ’n gestoei om dit agterin ’n 4x4 te pak. Boonop is die nie so veelsydig soos ’n platboompot nie.Talle kampeerders gebruik net platboompotte (oftwel bakpot of Hollandse oond) omdat dit ’n pot, pan en oond in een is. Jy kan jou ontbytgoed daarin braai, ’n bredie kook, ’n brood bak, ’n stuk beesvleis rooster, groente of eiers kook ... net wat jy wil. ’n Mens hoor selfs van mense wat die deksel omkeer en dit as ’n skottel gebruik!Wat in die guns tel van ’n nr. 10 Cadac-pot, is dat die deksel ’n lip het wat dit maklik maak om kole bo-op te pak. Die pot het ook binne-in ’n waslaag, sodat jy dit nie hoef olie te smeer nadat jy dit gebruik het nie.Prys? R225Kontak? Cadac 0860 223 227; WegRy sê: Om plek in jou bakkie te spaar, kan jy jou ronde gasplaat en opgerolde elektriese verlengkoord in die pot bêre – dit pas lekker.Gietyster jaffelpanVierkantige jaffels?Coghland noem dit ’n Camp Cooker maar ons almal wat die huissport moes bywoon, weet mos dis ’n jaffelpan. Dit maak heerlike geroosterde ham-en-kaasbroodjies – of jy nou op Steytlerville of Sossusvlei is.Hierdie ene is vierkantig, sodat jy nie brood mors nie, en sy handvatsel is langer as die meeste (sowat 60 cm). Dis ook van gietyster en kan regstreeks oor die kole of op ’n gasplaat gebruik word.Prys? R135Kontak? Eiger Equipment 021 555 0363; WegRy sê: ’n Jaffelpan is veelsydig. Dit maak heerlike broodjies vir ontbyt. Sit net ’n rou eier, gebraaide spek en genoeg kaas tussen twee snye brood.Swart ysterpanOupa Jan se panAndries Pretorius en Piet Retief het elkeen net so een gehad waarin hulle (of hulle vroue) sprinboklewertjies gaargemaak het. Die enigste verskil is dat party modelle deesdae eintlik van staal gemaak is...Dis nie bedoel om fyntjies baba-aspersies in te braai as voorgereg vir die maandelikse borduurklub-byeenkoms nie, maar hy werk soos ’n bom vir enige groot veldkosdis wat jy op die vuur wil aanmekaartimmer.Boonop is hy taai en hy lyk net na die ware Jakob...Prys? R285–R495Kontak? Greensport 021 915 5220; WegRy sê: ’n Swart ysterpan moet altyd eers “ingekook” word voordat jy dit begin gebruik. Die maklikste is om kookolie uiters warm te maak daarin. As jy dit ’n paar keer gedoen het, vorm ’n permanente laag wat die pan seël.BroodoondBak mooi broodjiesDis regtig maklik om heerlike, vars brood in hierdie Safari-broodoond te bak. Al wat jy nodig het, is lekker warm kole en ’n bol deeg wat ordentlik geknie is.Die kans is baie skraler dat jy die brood hierin gaan brand as in ’n gietysteroond omdat hierdie een ’n los broodpannetjie binne-in het wat die brood beskerm teen die regstreekse hitte van die kole. En dis veelsydig – dit kan vir hoender, vis, groente en selfs as ’n beroker gebruik word. Die deksel kan met ’n braaitang gelig word om te kyk hoe die kos vorder.Die nadeel is dat dit van sagte staal is wat nie huiwer om te roes nie. Dit het ook nie handvatsels nie, wat dit makliker sou maak om die oond te skuif wanneer dit warm is.Prys? R290Kontak? Outdoor Warehouse 0800 003 051; WegRy sê: ’n Mens kan ’n Hollandse oond of ysterpot gebruik om brood te bak as jy nie plek vir ’n ekstra oond het nie. Pasop net dat jy die brood brand nie – beheer die hitte met kole op die deksel en net ’n paartjies onder hom.Piet Fluit-ketelCheck Pa, ’n satellietGeharde buitelugmense verkies die Piet Fluit-ketel van vlekvrye staal bo goedkoop aluminiumketels. Dis ’n Suid-Afrikaanse uitvindsel wat fluit wanneer die water kook.Dit het ’n ongewone, koniese ontwerp met ’n wye basis en dun nek. Dis skynbaar die doeltreffendste ontwerp wanneer jy water wil warm maak – hy kook binne minute op ’n vuur.Dié vlekvryestaalketel is ’n meneer wat 4,5 liter kan hou. Jy kan dit regstreeks op die kole sit en agterin jou bakkie gooi en dit sal jou steeds ’n leeftyd hou.As jy skrik vir die prys, soek die goedkoper Piet Fluite van blik wat by party koöperasies beskikbaar is.Prys? R980Kontak? Safari Centre 021 595 3910; WegRy sê: Goeie, plaaslike toerusting soos hierdie is geneig om duurder te wees as produkte wat uit China ingevoer word, maar die gehalte is van die beste én jy ondersteun ’n plaaslike onderneming.Vierkantige ontbytpanGee vet!Die vervaardigers noem hom die Hot Rod Sump, wat klink soos die oliebak van ’n warmgemaakte Skyline, maar die bedoeling is eintlik dat jy eiers, spek, boerewors en sampioene oor die kole daarin braai. Of wat jy ook al wil.Vlekvrye staal lyk net beter as sagte staal en gietyster en dis ook makliker om skoon te maak. Hy’t boonop nie porieë waarin Bak en Terie hulle kan tuismaak nie. En dit pas netjies in ’n ammokis.Jy gebruik hom regstreeks oor die kole, maar op bakstene, ’n rooster of ’n driepoot.Prys? R269Kontak? Camptrails 021 448 6012; WegRy sê: Dis ’n nuttige stuk kookgerei as jy vir almal in die konvooi moet kos maak ...EmaljepotteKook in ’n koosHierdie Kango-potte is in vier groottes beskikbaar – 3,5 liter, 5,7 liter, 8,5 liter en ’n reusagtige 12,5 liter. Jy kan dit gebruik om sop, rys of groente te kook. Of selfs om ’n klomp water warm te maak om jou gesig en voete te was.Anders as gietyster kan emalje nie hoë temperature weerstaan nie. Moet dit daarom nie, soos ’n potjie, regstreeks op die kole gebruik nie. Op ’n rooster of gasplaat werk dit egter goed.Die buitekant wys – anders as aluminium – nie roet- of ander vlekke nie en daarom is dit goed vir ’n kampkombuis.Prys? Van R155–R370Kontak? Greensport 021 915 5220; WegRy sê: Emalje wys krapmerke. Gebruik net kookgerei van plastiek of hout in hierdie potte. En dis beter om die potte nie te laat val nie ...HoenderroosterLekker hoenderkopHierdie outjie van LK werk nes die meer bekende Beer Bird. Net beter, want hy het sy eie deksel sodat jy hom oor oop kole kan gebruik, terwyl die Beer Bird net in ’n oond of ketelbraai werk.Jy maak die geplukte hoender wydsbeen regop sit op iets wat amper soos ’n vuurpyl vol gaatjies lyk en waarin ’n bierblikkie pas. Die bier deurtrek die vleis en maak dit sag, geurig en mooi gaar.Jy kan boonop ’n klompie groentjie in die basis pak om lekker in die hoender se sous gaar te word.Nog ’n voordeel bo die Beer Bird is dat jy nie ’n blikkie hoef te gebruik nie. Die plek waar jy die blikkie sit, is ’n holtetjie waar jy enigiets kan ingooi: vrugtesap, wyn, bier, remvloeistof...Die enigste probleem is dat dit baie plek vat in die bakkie...Prys? R379Kontak? LK’s Braais and Accessories 021 905 0640; WegRy sê: Jy’t nie ’n fênsie ketelrooster nodig om ’n oond op ’n vuur na te boots nie. Jy kan enige die kasseroldeksel bo-oor ’n gevlekte skaapboud of hoender plaas.BroodroosterRoosterbrood skop gatWanneer jy kamp, sal jou roosterbrood nooit proe soos dié wat jy by die huis maak nie, maar hierdie broodrooster van Coghlan wat jy op ’n gasbrander gebruik, kom naby die ware Jakob en werk goed.Die ronde metaalbasis is ontwerp om die gasbrander se hitte eweredig te versprei. Opgevou is dit so groot soos ’n bord.Die brood spring nie outomaties uit nie. Jy moet dit mooi dophou.Prys? R35Kontak? Camp and Climb 021 510 8112; WegRy sê: As jy jou brood aan weerskante botter smeer en dit in ’n warm pannetjie braai, kry jy ook lekker roosterbrood. Moenie die marmelade vergeet nie.Groot skottelpanMeneer van ’n skottelHierdie skottel sal nie krap nie, dit sal nie induik nie en – baie belangrik – dit sal nie kromtrek nie, selfs al sit jy dit regstreeks op die kole.Maar jy gaan krom staan as jy dit op jou voet laat val. Dit is gemaak van 6 mm dik aluminium (vier keer so dik soos ’n gewone pan) en die metaal is behandel om dit harder as graniet te maak.Dis ’n fris meneertjie – 460 mm in deurnsnee – maar die handvatsel vou in, wat dit makliker maak om te pak.Prys? R399Kontak? Volcano Cookware 011 914 5060; WegRy sê: Volcano-produkte word in Suid-Afrika gemaak. Koop een.MieliebraairoosterPerfekte pitteDis nie maklik om mielies te braai nie. Hulle brand as jy hulle in foelie in die kole sit en hulle is te dik om saam met die tjops in ’n toeknyprooster te braai. En bo-op die rooster rol hulle soos dronk studente rond.Kry vir jou ’n mieliebraairooster van LK. Hierdie stukkie ruimte-eeuse tegnologie hou tussen vier en ses mieliekoppe (na gelang van die grootte).Prys? R70Kontak? LK’s Braais and Accessories 021 905 0640; WegRy sê: Dit is verchroom en sal daarom langer hou as ’n gewone rooster van sagte staal. Maak dit nogtans skoon elke keer as jy dit gebruik het om jare se plesier daaruit te put.Hou dit skoonVergeet ’n bietjie die grappies oor “die vrou wat die hele kombuis inpak”. Natuurlik moet jou kamp ’n ordentlike opwasplek hê. Ons gaan nêrens sonder hierdie twee dinge nie:Safari-opvouwasbak: Hierdie 10 liter-wasbakke is van opvoubare PVC (dieselfde sterk materiaal waarvan jou tent se grondseil gemaak is). Jy kan jou wasbak dus oprol en maklik iewers indruk. R115 by Safari Centre.Koperskuurder: In die volksmond staan dit bekend as Goldilocks. Dit is taai genoeg om die vuilste potjie skoon te skrop, maar spoel tog maklik skoon wanneer jy klaar is. R10 by Pick n Pay.
GEWILDSTE VANDAG
RUBRIEKE VANDAG
SPELETJIES VANDAG
Spesiaal vir intekenare!
Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag.
SPEEL SAAM










