Leendert Lorenzen wou plek maak vir 'n tent op sy bakkie, maar bo-op die kappie sou dit te veel windweerstand veroorsaak het en brandstofverbruik opjaag. 'n Deksel vir die laaibak was die oplossing.
As jy 'n bietjie buite die boks dink, kan jy hope geld spaar met 'n vindingryke plan.Leendert Lorenzen, 'n passer-en-draaier van Kuilsrivier, Kaapstad, wou 'n tent op sy bakkie hê wanneer hy en sy vrou kamp. In plaas daarvan om dit op die dak te monteer, het hy egter besluit om 'n deksel vir sy 2003 Toyota Hilux 3.0D enkelkajuit se laaibak te bou. Nou kan hy sy tent op die bak sit, waar dit minder windweerstand bied en hy dit kan afhaal wanneer hulle dit nie gebruik nie.Leendert se plan was om 'n deksel te bou wat sterk genoeg sal wees om die tent sowel as sy en sy vrou se gewig te dra wanneer hulle slaap.Die deksel kan ook sluit. "As ons nie die tent op het nie kan ons die laaispasie gebruik vir inkopies. Dis nogal ongemaklik om 'n paar vol inkopiesakke voor in 'n enkelkajuit rond te ry," sê hy.Uit sy beroep kan 'n mens aflei die man skroom nie om met sy hande te werk nie. "Ek is nou maar eenmaal so. Ek sal altyd probeer om iets self te maak," sê Leendert. "En as ek nie kan nie, vra ek iemand wat weet om my te léér.""Dit was 'n lekker selfdoenprojek waaraan ek en my pa saans kon werk terwyl ons tyd saam spandeer."
Wat het jy nodig gehad om die deksel te maak?
- 25 x 50mm aluminium-hoekyster
- 2 x blaaie 12mm mariene-laaghout
- 3 x vlekvryestaal skarniere
- 30 x 6mm vlekvryestaal boute en moere
- 60 aluminium klinknaels
- 2 groot meubelslotte
- 10m rubberstroke (die tipe wat onder 'n kappie gebruik word)
- Deursigtige buitevernis
Wat het jy gedoen om die hout te beskerm teen die weer?
Die handelaar het my verseker die hout sal wind, son en reën kan hanteer, want dit word ook vir skeepsbou gebruik. Ek het maar in elk geval die hout ook met 'n goeie buitevernis geseël, en 'n dik laag silikoon tussen die hout en die raam ingevoeg.
Wat sê die mense?
Ek kry sover goeie reaksie. Mense hou daarvan dat dit lekker sterk is en kan sluit. Is daar soortgelyke produkte op die mark?Ek het al soortgelyke patente gesien, ja. Sommige is van veselglas en party rol in en uit, maar ek is nie so seker of die produkte so sterk soos myne is nie. Wat het dit jou gekos?Die hele projek het my sowat R2 500 gekos en ek is tevrede daarmee.
Watter raad het jy vir iemand wat ook só 'n deksel wil bou?
Ek kan enigiemand wat 'n saag en boor kan vashou, aanraai om so iets aan te pak. Dis glad nie moeilik nie en 'n mens maak mos maar planne soos jy vorder. En as jy vashaak, vra iemand om jou te help. Die Engelse sê mos: "If you think you know everything, nobody is going to teach you anything."
Stap vir stap
Die geraamte. Leendert het die aluminiumraam gesny volgens die mates van die laaibak, met 45-grade hoeke. 'n Kollega by sy werk het dit aanmekaar gesweis. "Daai man mág maar sweis," sê Leendert.
Spoeg en plak.
Die skarniere is met die vlekvryestaalboute en moere aan die hout en raam aangebring. Die houtblaaie is met klinknaels aan die raam geheg. Onder die raam is 50mm-kleefrubber om stof uit te hou.
Veiligheid eerste.
Die deksel sluit met twee drukslotte wat weerskante van die laaibak vasknyp.
Op sy plek.
Die voorste gedeelte van die deksel, wat nie beweeg nie, is met 6 mm-vlekvryestaalboute aan die laaibak vasgeheg. Leendert kan dus die deksel afhaal as hy wil.
Help 'n bietjie daar.
Twee gasarms help die deksel lig en hou dit oop.












