Buitelewe

Statige Engelse wa rus in die bos

SleepselOntmoet vir Peter Oosthuizen, ’n oudvlieënier wat meer as een karavaan onder sy vlerk geneem het. Teks Leon Botha foto’s Leon Botha en Andrew Jenkinson“Man, nou praat jy met iemand wat baie van karavane hou,” sê Peter Oosthuizen. Peter bly op die Rooikoppies-landbouhoewes net buite Brits in Noordwes.Peter is ’n oudvlugingenieur en vlieginstrukteur met meer as 14 000 vliegure agter die blad. Maar hy is nou afgetree, met sy voete deesdae stewig op die grond naby sy passie: woonwaens. Stap jy die erf binne kan Peter nie anders as om sy liefde vir sy sleepgoed te deel nie. Ons loop tot by ’n groot skuur waar die (wa-) rondte van Vader Cloete begin: binne die skuur staan ’n nuwerige Sprite Swing. Peter draai om en loop na nog ’n wa, ’n Jurgens 600 B waarin hy self die lugversorger ingebou het. ’n Sprite Super Sport staan langsaan en heel agter in die erf, langs die perdestal, staan ’n ou Slipstream Siesta-opvoukaravaan. Maar Peter bêre die mooiste vir laaste: reg voor die agterdeur staan ’n ou Eccles-karavaan.“Dan en wan koop en verkoop ek karavane,” vertel hy. “Die Eccles het ek vir spotgoedkoop in Claremont in Pretoria raakgeloop. Die karavaan is as stoorplek gebruik. Daar was ou boeke en klere binne-in gepak en daar het houtbalke bo-op die karavaan gelê.“Nadat ek die karavaan gekoop het, het ek besef watse besonderse klassieke wa dit is. Hy was oorspronklik wit, maar ek het hom reeds twee skakerings van bruin gespuitverf. Ek het ook al die onderstel versien en het binne-in die gordyne en matrassies vervang. Binne is ook ’n klein wasbakkie, maar baie besonders is die twee gaslampies; een bo elke bed wat nog hul oorspronklike lampskerms het.“Ek skat die karavaan is omtrent so oud soos ek, dit moet hier iewers uit die 1950’s dateer. Die karavaan het ongelukkig nie meer registrasie-papiere nie. As ek sy opknapwerk nie binne ses maande klaarkry nie, sal ek hom maar probeer verkoop.”

  • Dié Eccles-karavaan is in Birmingham Engeland vervaardig en die Eccles-handelsnaam is reeds 91 jaar met ons. Volgens Andrew Jenkinson, ’n karavaankenner in Engeland, is hierdie die Bounty-model van 1955/56 en het daardie jare ₤328 gekos (sowat R72 000 vandag).

Het jy iewers ’n rare sleepsel gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na *wegsleep@weg.co.za van WegSleep, Posbus 1802, Kaapstad 8000.

WegSleep

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM