
Die moontlikhede met bosstorte is uiteenlopend: Jy kry enigiets in buitelugwinkels van 'n eenvoudige swart sak wat in die son moet lê om warm te word tot 'n volledige gasgeiser-model. Ons help jou kies.'n Vinnige ghoef in die rivier is dalk jou manier van skoonkom as jy saam met jou beste pêlle deur Botswana toer, maar as jy die gesin saambring, gaan daar beslis lede wees wat iets in die rigting van ’n behoorlike bad verkies.Sien dit as ’n goeie kans om in jou meisies se goeie boekies te kom. Dink net hoe ingenome hulle gaan wees as jy ’n behoorlike bosstort op die oewer van die Zambezi prakseer.As jy ’n stort gaan koop, moet jy heel aan die begin besluit of jy ’n paar honderd rand gaan uitgaffel vir ’n eenvoudige plastiekmodel sonder die een of ander verwarmingstoestel, of ’n paar duisend rand vir ’n stort met sy eie geiser.Onthou net, selfs al koop jy die duurste model op die mark, moet jy nie dieselfde stort-ervaring verwag as op jou wittebrood in die Oyster Box-hotel in Umhlanga Rocks nie. Die 12V-pomp van ’n gasstoof piepie maar ’n nederige straaltjie. Omdat jy boonop kaalbas tussen die mopanies staan, gaan jy dalk hoendervleis uitslaan in ’n effense briesie.Onthou net, met ontberinge en al is dit nog steeds lekkerder in die bos as in die Oyster Box…SonstorteGoedkoop koop is nie áltyd duur koop nie. Net wanneer dit bewolk is, in hierdie geval. Al wat jy nodig het vir ’n warm stort is ’n swart sak met ’n pyp en ’n stortkop daaraan vasgemaak. Net dit. O ja, en die son ...Maak die sak vol water en sit dit op die dakrak voor jy in die pad val, of laat dit vir twee tot drie uur op die enjinkap lê in die kamp.Hang dit dan aan ’n tak en jy’t ’n warm . In ’n japtrap ruik jy weer soos ’n veldblommetjie. Onthou net, julle gaan die bus moet looi met die stortery, want so ’n 20 liter-sak loop binne 6-7 minute leeg – skaars genoeg tyd vir twee mense om behoorlik nat te raak.Toets dit eers tuis om te sien hoe lank dit neem om warm te raak op ’n snikhete dag en ook as dit effens koeler is.Die dilemma met so stort is dat jy nie ’n warm stort gaan hê op ’n bewolkte koue dag nie. En sy aartsvyand is die pendorings van ’n kameeldoringboom.Easy Camp SonstortDie Rolls Royce van sonstorte’n Termometer en ’n stewige stortsproeikop laat dié sonstort kop en skouers uitstaan bo ander sonstorte in buitelugwinkels. Die sak het ’n plastiekstrook wat van kleur verander soos die water warmer word. Dit het ook ’n behoorlike kraan waarmee jy die watervloei kan beheer.Die water ruik net baie plastiekerig maar dié reuk verdwyn glo mettertyd. As jy dit met ’n koeksoda-oplossing uitspoel, behoort die klankie ook vinniger te verdwyn.Prys: R89Kontak: Camp and Climb 021 510 8112; WegRy sê: As jy nie ’n skoot koue water oor jou stert wil hê nie, skud eers die sak om die warm en koue water te meng; die water naaste aan die oppervlak – en die termometer – is die warmste.EmmerstorteOukei, jy kan nie onthou wanneer jy ingestem het om kampkommandant te wees nie, maar hier’s ’n hele kamp vol smerige familielede en hulle wil stort. Al wat in só ’n geval gaan werk, is ’n lekker groot emmerstort wat ’n mens self met warm water kan volmaak.As die water op die vuur mooi warm is, kry ’n stewige tak waaraan jy dié emmerstort kan hang (of gebruik jou dakrak as jy in die Namib is).Maak eers die emmer half vol met koue water – direkte kookwater kan die minder stewige storte beskadig – en gooi dan die kookwater by.Vra iemand om jou te help om die swaar emmer te lig sodat jy nie ’n aar bars of vroeg stort nie. ’n Eenvoudige katrolstelsel met ’n nylontou kan baie moeite spaar.En siedaar. Bring die sjampoe en die opknapper!Safari-opvoustortMoenie dié een vlak kyk nieDié 20 liter-stort is gewild omdat dit duursaam is, klein opvou (soos ’n rol swartsakke) en behoorlik werk.Dis van PVC gemaak, dieselfde materiaal waarvan rubberbote en die grondseile van duurder tente gemaak word, en is dus taai.Die stortkop is groter as dié van sonstorte, en die water vloei sterker. Dit loop 4½ minute, en daar is meer as genoeg tyd vir ’n deeglike wassessie.Prys: R260Kontak: Safari Centre 021 595 3910; WegRy sê: Die ophang-harnas is te kort. Maak ’n lus met ’n langer tou om ’n tak, met ’n bergklimhaak aan die lus. Haak die stort se harnas daaraan.GasstorteOp die oewer van die Zambezi kan jy maar lekker lank stort, solank jy ’n gasgeiser het. Die enigste beperking met een van dié toestelle is die hoeveelheid gas wat jy het.Hy werk presies dieselfde as daai gasgeisers wat jy in party plaashuise kry. Dis net kleiner en draagbaar. Party kan jy selfs as ’n stoof ook gebruik, wat dan een minder ding is om te pak.’n Gasstort bestaan uit ’n gasgeiser, ’n gaspyp en 12V-pomp met ’n pyp. Die hele kontrêpsie kan baie vinnig opslaan: Koppel die gaspyp aan ’n gassilinder, prop die 12Vpomp in jou voertuig se sigaretaanstekersok en dompel die pomp in die watertoevoer.Omdat die stort ’n aaneenlopende watertoevoer nodig het, is dit nie ideaal vir die droër dele van Botswana of die Namib nie.Die kort kragkabel van sowat 2m beteken ook jy sal naby die rand van die water moet parkeer of ’n groot houer vol water moet maak.Jy moet ook reg langs die kar stort, wat die plek binnekort soos ’n moeras laat lyk waardeur jy moet waad om by ’n koue Tafel Lager uit te kom.Kariba Combo Bottle BabéDie kompakte Bottle Babé is die nuutste toevoeging tot die bekende Kariba Combo-reeks se storte.Dié stort-en-stofie-kombinasie skroef direk op ’n gassilinder, en jy het dus nie ’n pyp of reguleerder nodig nie.Die geiser is in die wit boks bo die kontroleknop. As jy wil stort, koppel jy die 12V-pomp aan die in- en uitlaatpype. En as jy wil kook, knip jy eenvoudig die geiser-omhulsel los en gebruik die brander.Soos al die Kariba Combo’s wat ons oor die jare getoets het, werk die stort baie goed en jy het binne sekondes warm water. Die klein stofie kan egter net 1,5kg hanteer, wat beteken jy kan nie ’n volstruisnekpot vir ’n pastoriegesin daarop gaarmaak nie.Prys: R2 380Kontak: Kariba Products 021 511 9405; WegRy sê: Dis ideaal vir paartjies of gesinne wat dit net as ’n stort wil gebruik. As jy egter die uitgebreide familie se spysenier is, koop eerder een van Kariba se stewiger modelle. Of gebruik ’n stoof.Front Runner-StortDié lang geisermodel is die goedkoopste van die drie omdat dit nie ’n ingeboude brander het nie. Dit pas oor die plaat van ’n gewone gasstofie.Die stort werk met ’n soort skoorsteen met ’n dubbele laag. Warm lug van die gasplaat sirkuleer in die binneste deel en dit maak die water in die buitenste laag warm.Dis nie so doeltreffend soos ander gasstorte nie, want jy moet die water ’n paar keer deur die stelsel laat vloei voor dit warm is. En jy moet maar ver van die warm skoorsteen af bly, want dit kan jou brand dat jy hop.Prys: R1 550Kontak: Front Runner 011 466 0155; WegRy sê: As jy sy truuks leer ken, werk hy heel goed. Dis nie ’n sleg keuse as jy ’n dertigjaarverband uitgeneem het om ’n Land Cruiser te kan bekostig nie. Dis die goedkoopste gas-opsie.Alva Portable Water HeaterAlva se vorige stort was amper té veilig gemaak. Die ding het afgeskakel met die geringste teken van ’n probleempie. En dan moes jy kaalbas uit klim om dit weer aan die gang te kry.Dit was ’n pyn, om die minste te sê.Die nuwe model skakel ook af as die stort omslaan of as die water opraak, maar sodra die probleem reggestel is, begin dit weer werk – heeltemal vanself.Die lekker ding is ook dat jy dit nie aan en af hoef te sit tussen stortsessies nie. Skakel eenvoudig die watertoevoer by die stortkop af, en sodra die volgende een inklim, kan hy net die kraan oopdraai en die geiser werk weer.Prys: R2 499Kontak: Stingray 021 442 1540; WegRy sê: Draai eenvoudig die kraan aan die kant oop vir warm water vir skottelgoed.Stortwenke
- Hou jou voete skoon. Dis moeilik om jou voete skoon te hou as jy in die bos stort. Gebruik jou bakkie se rubbermatjies om op te staan.
- Privaatsake. Kyk, nie almal lyk op veertig soos Madonna op vyftig nie. Dis waarskynlik beter om private dinge privaat te hou en ’n storttentjie te koop. Teen R350 tot R650 is dit nie ’n plaas se geld nie.
- Spaar water. Jy hoef nie heeltyd die water te laat loop terwyl jy stort nie. Maak jou lyf nat en draai die water toe terwyl jy seep en sjampoe insmeer. En dan hoef jy net af te spoel.












