Buitelewe

Verkykers | Ek hou jou dop ...

Dis nie nodig om James Bond te wees om ’n verkyker te hê nie. Of jy nou wild of voëls wil kyk of net die uitsig wil bewonder, dis altyd lekker om ’n verkyker in die paneelkissie te hê. Hier is ’n paar wat … wel, ons oog gevang het.

1. ULTRA OPTEC ULTRA OP 8 X 40 | Bekostigbare beginner

(sien foto: bo links)

Ultra Optec se produkte is gemik op die intreevlak- tot middelvlakkoper en het ’n goeie reputasie van waarde vir geld. Omdat dié een van Ultra Optec se goedkoper modelle is, het ons nie ’n skitterende vertoning verwag nie, maar dit het ons werklik verras.

Ons hou van: Vir sy prys is dit ’n heel goeie verkyker, hoewel sy beeldgehalte effens dowwer is en nie so skerp om die rande is as dié van duurder verkykers nie. Die huls het ’n rubber-afwerking en die fokusknop draai glad.

Maar … Die porroprisma-ontwerp (sien kassie oorkant) is gewoonlik bonkiger as die dakprismamodelle en die nie-verstelbare rubber-oogdoppies beteken iemand wat bril dra, gaan sukkel met dié verkyker.

Prys: R500

Kontak: Lite Optec

011 462 6986;

www.liteoptec.co.za

WegRy sê: ’n Baie goeie, veelsydige verkyker wat nie vir jou (of jou bankbestuurder) gaan sooibrand gee nie.

2. SANJU 8 X 42 | Voëlkyk-winskoop

(sien foto: bo regs)

San-wat? vra jy dalk. Goed, dis dalk nie so bekend soos Nikon of Bushnell nie, maar as jy nie ’n handelsnaamslaaf is nie, is dit die moeite werd om Sanju te oorweeg. En ons het betroubaar verneem dit word in dieselfde fabriek gemaak wat ook meer erkende handelsname vervaardig …

Ons hou van: Ons het dit saam met duurder verkykers getoets en kon nie ’n beduidende verskil in beeldgehalte sien nie. Die huls voel ook stewig en is van hoë gehalte.

Maar … Dit voel nie so af-gerond soos die duurder modelle nie: die fokusknop

is effens stram en die verstelbare oogdoppies ’n bietjie sag.

Prys: R1 300

Kontak: Safari & Outdoor

0861 114 330; www.safariandoutdoor.co.za

WegRy sê: Dis ’n winskopie – uitstekend vir voëlkykers wat die rieme dun moet sny. Ook beskikbaar in 10 x 42.

3. VORTEX DIAMONDBACK 10 X 42 | Die wildbewaarder se keuse

(sien foto: onder links)

Vortex se topverkopermodel, die Diamondback, is gemik op die middelvlakkoper wat ’n gehalteverkyker soek.

Ons het Vortex gekies omdat dit die enigste han-delsnaam is wat plaaslik verkoop word en ’n lewens-lange waarborg gee, en ook omdat jagters en wildbewaarders die handelsnaam vertrou, wat boekdele spreek.

Ons hou van: Dit voel goed in jou hande: die bougehalte en afwerking is stewig en dit boesem vertroue in. Die fokusknop en oogdoppies werk seepglad en die beeld is helder en duidelik.

Maar … Ons het dit saam met ’n duurder verkyker getoets, en sy beeldgehalte is miskien nie so skerp en helder om die rande nie. Maar teen dié prys is daar nie te veel om oor te kla nie.

Prys: R3 599

Kontak: Whysalls

031 566 566;

www.whysalls.co.za

WegRy sê: Uitstekende waarde vir geld.

4. LEUPOLD MOJAVE 10 X 42 | Topklas-luuksheid

(sien foto: onder regs)

Die Amerikaanse optiese maatskappy Leupold het ’n getroue aanhang onder middelvlakkopers, en die Mojave is gemik op die boonste deel van dié mark.

Ons hou van: Alles draai en maak oop en toe soos die onderdele van ’n luukse Duitse motor, en die beeldgehalte is wat jy sal verwag van ’n R5 500-verkyker: uitsonderlik helder en skerp. Dit was die enigste model wat ons getoets het met ’n oop brug (’n gaping tussen die twee lope), wat dit makliker maak om vas te hou.

Maar … Dit het ons ’n rukkie gevat om die diopterverstellingswiel te kry (die een met die plus- en minusteken wat gedraai kan word as jou een oog sterker as die ander is). Dis in die fokusknop ingebou.

Prys: R5 500 (R6 000 vir die kamoefleermodel)

Kontak: Formalito 012 664 7793; 012 664 7795 (faks);

www.formalito.co.za

WegRy sê: ’n Puik produk wat ideaal is vir wild kyk en jag.

Bl 2: Die tegniese goetersSó werk die tegniese goeters

Nommer asseblief.

Twee syfers verskyn prominent op elke verkyker, gewoonlik op die fokusknop.

Hierdie syfers is belangrik sodat jy die regte model vir jou behoeftes kan kies: Die eerste (kleiner) syfer is die vergroting, en die tweede (groter) syfer is die deursnee van die voorste lens in millimeter. ’n Verkyker met die syfers “10 x 42”, het dus ’n tienmaal-vergroting en ’n lensdeursnee van 42 mm.

Is groter beter?

Nie noodwendig nie. Hoe hoër die vergroting, hoe meer stremming word op jou oë geplaas. Dis nie ’n probleem as jy die verkyker net kort rukkies gebruik nie, maar as jy beplan om ure aaneen daardeur te tuur (byvoorbeeld vir voëls kyk), kan dit ongemaklik begin raak.

Die ander nadeel van lense met ’n hoë vergroting, is dat dit enige bewing erger maak. Met ’n verkyker met ’n klein vergroting sal jy nie sommer ’n klein beweging of bewerigheid opmerk nie, maar hoe hoër die vergroting, hoe meer opvallend raak enige handbeweging. Oor die algemeen is ’n vergroting van 8 ideaal vir voëls kyk, 10 vir wild kyk en 12 vir spesialisbehoeftes.

Die lig in my lewe.

Waar grootte wel saak maak, is by die grootte van die voorste lense. Hoe groter die lens, hoe meer lig kan die ver-kyker binnevloei, en hoe helderder en duideliker sal die beeld wees. Maar, groter lense is ook gelyk aan ’n swaarder verkyker, iets wat jy in ag moet neem as jy dit moet ronddra of lank moet vashou.

Porro-hoe-se-ding?

Daar is twee soorte verkykerontwerpe: porroprisma (porro prism) en dakprisma (roof prism). ’n Porroprismaverkyker het offset-lope, m.a.w. die voorste lens is nie regoor die agterste lens nie, terwyl die buise van ’n dakprismaverkyker reguit lope het (die voorste lens is regoor die agterste lens).

’n Porroprismaverkyker is ge-woonlik groter en swaarder as ’n dakprismaverkyker vanweë die ingewikkelde lens-en-prismakombinasie wat nodig is om die lig tot op die agterste lens te reflekteer. Daarom word die meer kompakte dakprisma-ontwerp oor die algemeen verkies.

Vas of los?

As jy bril dra, koop ’n verkyker met verstelbare oogdoppies. Dit kos dalk meer, maar jy kan jou brilglase reguit teen die agterste lens van die verkyker druk vir ’n duidelike beeld, iets wat onmoontlik is met oogdoppies wat uitstaan.

Kom ons praat geld.

Voorste han-delsname soos Leica, Swarovski en Zeiss kos tot R20 000 of meer. Hulle kos soveel vanweë hul voortreflike optiese vermoë. Die lense word sorgvuldig vervaardig vir die beste moontlike beeld.

Ons het van dié handelsname getoets, en hulle beeld is wel helderder en duideliker met ryker kleure. Die vraag is net: Wil jy soveel geld betaal vir dié voorreg?

211 KB
Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM