Buitelewe

Voertuigsekerheid | Slaap rustig, ou bees

’n mens wil in ’n obskure kampeerterrein in Zambië van ’n paspoort en ’n rolletjie dollars bevry word nie. Daai goed moet so veilig gebêre word soos dit moontlik kan.

Dis ongelukkig waar dat die gevaar om beroof te word wesenlik is. Gaan kyk maar op 4x4-internetforums hoeveel arme siele al in plekke soos Maun, Xai-Xai en Lusaka ’n selfoon moes leen vir ’n benoude oproep ambassade toe … Maar moet ’seblief nou nie jou melk wegskrik en die res van jou lewe in ’n munisipale karavaanpark gaan vakansie hou nie. Dis waarskynlik nóg gevaarliker …Trouens, as jy jou voertuig deeglik beveilig, het jy nie veel waarvoor jy bang hoef te wees nie.

Hier’s ’n paar doeltreffende produkte wat kan help:

1. DRAAGBARE YALE-REISKLUIS

’n Mens kan ongelukkig nie Afrika binnevaar sonder ’n redelik fris rolletjie blare nie. Reël nommer een oor kontant is egter dat jy dit in ’n kluis moet bêre – jou paneelkissie is bedoel vir jou sonroom en Innes & Franna-CD’s.

Dié reiskluisie van Yale is

’n byna onbreekbare plastiekboksie waarin die waardevolle items gebêre word, met ’n staalkabel-lus aan die bokant waarmee dit om iets soos ’n sitplek se been vasmaak.

Dis nou nie groot genoeg vir die soort kontant wat ’n Afrika-diktator saamkarwei na ’n wapenskou nie, maar dis ideaal vir reisdokumente en ’n hopie note (16,5 cm x 16,5 cm, en 4 cm diep).

Moet net nie op die een of ander manier jou geheue verloor nie, want die ding werk met ’n kombinasieslot.

Prys? Sowat R250 by Yale Security Point-winkels

Kontak? Yale Security

011 781 9110;WegRy sê: Onder die sitplek is eintlik ’n té voor-die-hand-liggende wegsteekplek. Kyk eerder of jy dit nie agter in jou voertuig of onder ’n paneel kan versteek nie.

2. FRONT RUNNER INGEBOUDE KLUIS

Front Runner het ’n reeks staalkluise wat in die motor geïnstalleer word, maar wees gewaarsku dat dit waarskynlik nodig gaan wees om ’n paar gate te boor of ’n gat in jou nuwe Defender se vloer te sny.

Dié kluise is egter groter en sterker as die draagbare kluis en word onder die vloer, onder die middelkonsole of onder die agtersitplek weggesteek.

Vir Land Rover Defenders en Toyota Land Cruiser 70’s is daar kluismodelle wat onder die middelste konsole pas. Die kluise wat onder die voete in die vloer ingebou word, werk net in voertuie met onderstelle wat dieper as 10 cm is (gewoonlik Land Rovers) en waar dit moontlik is om ’n gat in die vloer te sny.

Vir Hilux-dubbelkajuitbakkies is daar so ’n platterige model wat lekker onder die agterste sitplek werk, en vir alle ander voertuie ’n platterige enetjie wat onder ’n sitplek vasgebout kan word.

Prys? Die universele en Hilux-ondersitplekkluis kos R375 en al die ander kluise kos tussen R750 en R950. Installasiekoste wissel tussen R150 vir die Hilux-kluis tot R450 vir die kluis wat in die vloer ingebou word.

Kontak?

Front Runner

011 466 0155; WegRy sê: As jy ’n blikskêr en ’n vyfpondhamer (en ’n gekruide woordeskat) het, kan jy dit self installeer. Anders moet jy maar jou vriendelike 4x4-werktuigkundige vertrou. Gaan drink maar ’n koffie

terwyl hy grind en kap.

3. GE-SLEUTELKLUIS

As jy ver weg is van die huis, moet jy sorg dat daar altyd ekstra sleutels ingepak is, finish en klaar. En ’n remote.

In ’n konvooi ry die ekstra sleutels saam in jou betroubare tjom se bakkie, maar as jy alleen ry, moet jy maar self plan maak.

Dié GE KeySafe is ’n metaalboksie met ’n toetsbord-kombinasieslot wat jy op enige soliede oppervlak kan vasbout. Maak net seker dis buite sig, soos in ’n wielnis.

Jy kry verskillende groottes, soos die Slimline Auto en die Big Box. Jy kry ook ’n weerbestande deksel wat keer dat stof en modder op die toetsbord beland.

Prys?

Slimline Auto: sowat R500; Big Box: sowat R800

Kontak? KeySafe SA

021 511 8281;

WegRy sê: Moet om hemelsnaam nie enige blinkerige klippies wat jy op Kolmanskop optel, daarin bêre nie.

4. HANGSLOTTE

Tensy jou bakkie deur rendiere gesleep word, moet jy liefs als wat jy buitekant jou kar vervoer – grawe, jerrykanne, gassilinders – met hangslotte vassluit.

Behalwe dat jou goed nie voete kry terwyl jy viennas soek in Maun se Shoprite nie, sal dit ook keer dat jy sonder ’n hoogligdomkrag sit as jy ’n pap band kry in die leegtes anderkant Solitaire. Boonop is ’n hangslot ook ideaal om die neuskas van ’n sleepwa te sluit.

Jy kan ook by ’n slotmaker of goeie ysterwarewinkel ’n stel slotte koop wat dieselfde sleutel gebruik, sodat jy nie met ’n bos sleutels hoef rond te loop nie. Dis duurder as gewone slotte, maar die moeite (en geld) werd.

Koop ’n gehalteslot soos Master Lock of Viro, want dit moet ’n klomp stampe en stote kan hanteer; hul hangslotte van onderskeidelik 30 mm en 32 mm pas op die meeste hake.

Prys? R110 vir twee Master Lock-slotte

Kontak? Builders Warehouse

0860 284 53377;

WegRy sê:

Spuit jou slotte gereeld met spookpiepie (Q20) om te keer dat dit roes of verstop raak met stof. Vir die stof kan jy ook ’n stukkie fietsbinneband oor die slot trek.

5. MCGARD-WIELSLOTTE

As jou wiel voete kry, dan weet jy jy bly in Suid-Afrika. Dit gebeur veral met blinknuwe allooiwiele (mags, man) agterop 4x4’s.

Dis waarom dit ’n goeie plan is om op elke wiel een wielmoer te hê waarop ’n gewone moersleutel nie pas nie. Dié McGard-moere kan net losgemaak word met ’n sleutel wat uniek is aan elke stel. Die sleutel is ’n passtuk wat oor die kop van ’n wielsleutel pas.

Die stel het net vier moere, maar jy kan nog moere bykoop vir ’n noodwiel of twee op die agterdeur. McGard-produkte word in Amerika gemaak, en het ’n goeie reputasie vir gehalte en duursaamheid.

Dit het ook ’n goeie rugsteunnetwerk in Suid-Afrika.

Elke McGard-stel het ’n 17-syfer kode wat gebruik word om ’n nuwe sleutel te maak as die ou een wegraak. Bêre dit saam met jou testament …

Prys? Vanaf R440 by Tiger Wheel and Tyre-winkels.

Contact?

WegRy sê:

As jy die noodwiel onder jou voertuig wil beveilig, oorweeg die Raptor-noodwielslot. Dit kos sowat R400 by bande- en 4x4-winkels.

6. SPT SLUITBARE STROPPE

Dis duur, maar dit werk. Om jou toerusting op die dakrak te hou is hierdie sluitbare stroppe net die ding.

Dit lyk soos ’n gewone vastrekstrop waarmee jy tente en stoele en kratte vasmaak, maar buiten dat dit ’n slot het, is die materiaal versterk met twee kabels van vlekvrye staal.

SPT reken dit sal makliker wees om die dakrak los te wikkel as om die stroppe te probeer sny of breek. Dit sal beslis ’n gewone grypdief fnuik, maar ’n geslepe javel sal hom steeds met ’n groot boutsnyer kan knip.

Prys? R450 (1,5 m – blou); R495 (2,5 m – groen) en R550 (4 m – geel). Die pryse sluit nie verskepingskoste in nie.

Kontak? Cape Sports Centre

022 772 1114;

WegRy sê:

As jy baie bekommerd oor sekerheid op die voertuig se dak is,

oorweeg een van Thule se dakbagasiebokse ().

7. TRAILER COP

Die Trailer Cop is ’n slim toestel wat keer dat ’n rampokker jou veldsleepwa of -karavaan aanhaak en wegsleep.

Dit lyk soos die bal van ’n motor se sleephaak en blokkeer die haak van jou sleepwa of veldwoonwa.

Dit het twee sleutels: ’n Allensleutel om die Trailer Cop in die haak van jou sleepvoertuig vas te draai en nog ’n sleutel om dit te sluit. Wat jy ook al doen, moenie die tweede sleutel verloor nie.

Prys? Sowat R230 (posgeld uitgesluit)

Kontak? Comet Caravans

011 826 6241;

WegRy sê:

Nog ’n manier om te keer dat jou sleepwa voete kry, is om ’n ketting deur die wiel en om die onderstel te sluit.

8. DRAAGBARE ALARM

Jou voertuig het dalk ’n alarm, maar wat van die kappie of die sleepwa? Dié Doberman Tool Box-alarm het twee klein magnetiese sensors wat jy aan ’n sleepwa se deksel, die venster of luik van ’n kappie of karavaandeur kan vassit (jy sit dit vas met alkantkleefband).

As jy die bak oopmaak, loei ’n sirene van 100 desibels – dit klink asof jy in die voorste ry van ’n AC/DC-konsert staan.

Die alarm werk met ’n afstandbeheer, en jy kan dit maklik aan- en afskakel.

Prys? R100-R150

Kontak? Doberman Security Products

info@dobermanproducts.co.za;

WegRy sê:

Doberman maak ook alarmpies wat jy rondom jou kamp kan opstel. Gebruik dit spaarsaam en oordeelkundig. Niemand wil op Tietiesbaai wakker word met ’n geloei in die ore nie.

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM