Buitelewe

Werk slim met plek

As jy die plek in jou laairuim beter wil benut, is ’n laaistelsel jou voorland.Laaistelsels het amper so ’n lang geskiedenis soos 4x4’s. Van die eerste avonturiers wat Afrika met ’n 4x4 platgery het, moes ’n stelsel ontwerp wat bagasie kon orden eerder as om dit los in die laairuim te pak. Verskeie stelsels het hieruit ontstaan, onder meer met houtkiste, ammobokse en later staal- en aluminiumlaaie.Dié stelsels word steeds ontwikkel en verfyn en ons het by Gomad4x4 in Brackenfell na nuwe ontwerpe gaan kyk.Die beginselsLaaistelsels het oorspronklik by bakkiebestuurders aanklank gevind. As jy eers een keer op jou knieë in jou bakkie se laairuim moes inkruip om iets heel agter uit te haal, sal jy weet dit is glad nie pret nie en voel heeltemal te veel soos gym.’n Laaistelsel is in wese ’n boks of kis met laaie wat in ’n raam agter in die laairuim gemonteer word.Van die eerste laaistelsels was heeltemal van hout gemaak en dit het geskuif omdat die wrywing tussen die hout nie so stram was nie. Laaistelsels wat van staal en aluminium gemaak is, het aanvanklik op Teflon-stroke geskuif en later op rollerlaers en rollerarms.Bakkie vs. stasiewaDie laaistelsel was aanvanklik ontwerp vir ’n bakkie. Omdat ’n laaibak ’n lang en vlak laairuim het, is dit moeilik om by alles te kom. ’n Stasiewa of sportnutsvoertuig het gewoonlik ’n kort maar diep laairuim en as jy agter die voertuig staan, kan jy met relatief min moeite jou bagasie bykom.Dit het egter ook nie lank gevat voor laaistelsels vir stasiewaens ook die norm begin word het nie. Die laaie hiervoor word gewoonlik bo-op mekaar gebou om die plek beter te benut. Daar is egter ’n paar probleme wat krap. Die laaistelsel het ’n raamwerk nodig, en as jou plek reeds beperk is, gaan daar nog plek verlore deur die raamwerk.Gomad4x4 het ’n stelsel ontwerp om elke sentimeter te benut.Hoe is dit anders?Die laairuim van ’n stasiewa het dikwels ’n lip of rand wat die raam van die deur of luik vorm. As jy dan ’n laaistelsel bou, is dit nodig om die hele stelsel te lig sodat die laaie bo-oor hierdie rand kan in- en uitskuif.Die laaistelsel se raamwerk word gewoonlik so gemaak dat daar dooie plek onder die laaie is waar jy niks kan pak of bêre nie. Gomad4x4 het in hierdie plek ’n aluminiumwatertenk ingebou wat deel vorm van die laaistelsel.Die houvermoë van die tenk hang af van hoe groot die laaistelsel is en ook hoe hoog dit gelig moet word, maar dit is gewoonlik sowat 50 liter. Dis beslis nie genoeg sodat die huisgesin ure lank kan stort nie, maar dit kan die drinkwatervoorraad aansienlik aanvul vir ’n langnaweek in die Kgalagadi.Waar stasiewaens eens meer vierkantig gebou was, word daar deesdae meer kurwes ingesit om mooier te vertoon. Die laairuim is gevolglik ook minder vierkantig en die laaistelsel moet aangepas word. Omdat die boonste laai nie so lank soos die onderste een kan wees nie, loop die voorkant van die boonste laai teen ’n kurwe.Só lyk dit1. Plek vir alles. Die laaistelsel is ontwerp met twee laaie aan die een kant. Die ander kant het ’n glyrak vir ’n kampyskas.2. Trek vas. Dit is nie altyd ideaal om gate in die voertuig se laairuim te boor nie, daarom word spanmoere (turnbuckle tensioners) gebruik om die raam aan die bestaande hegpunte in die laairuim vas te trek.3. Skuins gesig. Die voorkant van die boonste laai is skuins afgewerk om nie in die pad van die luik te wees as dit toegemaak word nie.4. Plek vir die kitchen sink ... Aan die bokant van die stelsel is ’n rak waar ’n aluminiumkamptafel ingly. Hieronder skuif die raam van ’n opwasbak in ’n gleuf.5. Skep lug. Luggate is agter die kampyskas gemaak sodat die kompressor nie oorverhit nie.6. Pak die tuinslang. Daar is ’n drukpomp aan die watertenk gekoppel met een plastiekpyp om die tenk vol te maak en ’n ander om die water te gebruik. Albei die pype gebruik gewone tuinslangkoppelings.7. Bouwerk. Die raam is oorwegend van 25 mm-aluminiumvierkantpyp gemaak. Die laaie is van 3 mm-aluminiumplaat gemaak. Die buitekant van die kabinet, die voorkante van die laaie en die laaie se bodems is met mat oorgetrek. Die laaie en glyrak skuif op rollerarms in en uit.Die stelsel is gebou in die Toyota Land Cruiser van Altus Kriel van die toeronderneming Africa’s Best ( 082 925 8552). Gomad maak soortgelyke stelsels vir enige stasiewa, van ’n Fortuner tot ’n Jimny. Kontak Ciske van Gijsen by  083 501 2626;  gomad@gomad4x4.co.za;

WegRy

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM