Elke Suid-Afrikaner ouer as 40 onthou hoe Andrew Steyn (Marius Weyers), ’n Land Rover Series 1 in ’n boom opgehys het met ’n wenas in Jamie Uys se film The Gods Must Be Crazy.Maar daar’s eintlik heelwat meer nuttige goed wat jy met ’n wenas kan doen. Laat ons egter sommer met die inval erken, ’n wenas het ernstige beperkinge as ’n herwinningsinstrument en dit mag nooit die belangrikste komponent in jou herwinningsarsenaal wees nie.Die probleem is dat dit aanvanklik ontwikkel is as ’n metode om bote te water te laat en verskeie take op plase te verrig. Die grootste beperking is dat dit net van een kant van jou voertuig af gebruik kan word en ook dat dit nutteloos is sonder ’n beskikbare anker as jy alleen ry.Maar, in gevalle waar ’n anker beskikbaar is en die posisie van die wenas reg is, het ’n wenas al ’n sleutelrol in baie moeilike herwinnings gespeel. As dit reg gebruik word, kan dit ’n herwinning baie veiliger en beheers maak.Baie ervare ekspedisiemanne kan vir jou ’n storie vertel waar ’n wenas hom uit ’n ongemaklike situasie gered het. Piet van Heerde gee wenke oor wenasse.Wat is ’n wenas? Dis presies wat die naam sê: ’n meganiese as of katrol waarom ’n kabel opgewen word. Jy kry hom in verskillende vorms:Elektriese wenas. Dis die algemeenste en konvensionele soort – die goeie ou winch wat ons almal ken. Dit word gewoonlik voor aan jou voertuig vasgebout, maar dit kan ook agter wees. Hy kry sy krag van die battery en alternator om ’n elektriese motor te draai wat deur ’n ratstelsel die kabel of tou om die spoel rol. Ons gaan die meeste aandag aan hierdie soort gee. Jy kan die meeste van die veiligheidsaspekte ook op ander stelsels toepas.Meganiese wenas. Die uiters kragtige soort wenas is ’n hele ekstra meganiese komponent wat op jou oordragratkas geïnstalleer word. Die spoel word dus deur die enjin gedraai. Op ouer Land Rovers sal jy ’n ronde gat voor en agter in die onderstel sien waar die kabel deurkom.Handwenas. As dit nie sulke harde werk was nie, het almal seker ’n handwenas iewers in die bakkie gehad. Dis uiters nuttig, want dit kan op meer as een punt aan ’n voertuig geheg word en jy kan dit ook weg van jou voertuig gebruik. Die een punt van jou kabel word deur die wenas geryg wat jy aan die voertuig of ’n vaste punt heg met ’n haak en die ander punt het ’n haak wat elders anker. Die katrolwerk word gedoen deur ’n hefboom wat jy met die hand heen en weer moet pomp. Jy sal jou brood in die sweet van jou aangesig verdien, glo ons maar.Hoe koop ek ‘n wenas?Wat moet ek oorweeg voor ek die tjekboek uitpluk?Tientonner? Dis baie belangrik dat wenaste nog in outydse pond-tonne gemeet word en nie in metrieke ton nie. As jy dus ’n 9,5 ton-model koop, kan hy nie 9 500 kg hanteer nie maar slegs 9 500 pond (lbs)/2,2 = 4 300 kg.Hoe werk die somme? Die eerste ding wat jy moet weet, is wat jou voertuig weeg met drie weke se kos, water en rum en raspberry, want dis dié gewig wat jou wenas moet kan hanteer. ’n Goeie maatstaf is om jou voertuig se GVM (BVM) te vat en dit met 1,5 te maal om by die sterkte van jou wenas uit te kom. GVM (BVM) staan vir gross vehicle mass of bruto voertuigmassa, die totale gewig wat jou gelaaide voertuig mag weeg volgens vervaardiger spesifikasie wat wetlik toegepas kan word. Onthou, jy wil eerder effens swaarder gaan as die BVM, want jy sit dalk eendag vasgesuig in modder, of jy moet jou swaer se Cruiser met jou Triton herwin. In die praktyk beteken dit gewoonlik dat jy 8 500 pond tot 9 500 pond by gewone dubbelkajuitbakkies verwag en tot 12 500 pond by ’n groot Land Cruiser, Patrol of Land Rover.Wat van die wenas se gewig? Moet nou ook nie probeer vergoed daarvoor dat jy nooit vir die eerste span uitgedraf het deur die grootste wenas in die land op jou Mazda Drifter te installeer nie. ’n Wenas kan tot meer as 50 kg weeg en jy moet jou voorste vering daarvoor aanpas. Daarby moet jy onthou dat jy nie ’n bakkie kan aanhou swaarder en swaarder laai as jy net die vering versterk het nie – die onderstel en remme is ook net vir ’n sekere gewig ontwerp.Waar monteer jy dit? Voor jy ’n wenas koop, moet jy seker maak dit kan op jou voertuig gemonteer word. Jy kan ’n wenas op verskillende maniere vassit, maar die gewildste manier is om ’n vervangingsbuffer te koop wat op die onderstel vasbout en ontwerp is om ’n wenas te huisves. Jy kan ook ’n sogenaamde Hayman Reese-koppeling gebruik wat jy of voor of agter aan die voertuig kan sit waarop jou wenas gemonteer is. Die Hayman Reese-koppeling is daardie vierkantige gat wat jy op party sleepstange kry; jy monteer dan die wenas op die passtuk wat in die vierkantige gat inskuif.Kabel of plasmatou? ’n Plasmatou is nie maar net ’n baie sterk skitou nie; dis gesofistikeerde, sintetiese tegnologie wat in ’n laboratorium ontwikkel is. Dit is duurder as ’n staalkabel maar het sy eie voordele. Dis byvoorbeeld baie makliker hanteerbaar omdat dit ligter en sagter is en kan amper sonder handskoene hanteer word. Dit dryf op water en kan makliker ingekatrol word, sonder om met kinkels te sukkel. Dit hou ook nie soveel energie soos ’n staalkabel nie en as dit dus breek, val hy net grond toe eerder as om gevaarlik deur die lug te vlieg.Dit moet egter deeglik skoongemaak word, veral as jy dit deur die modder of sand gesleep het. Hierdie tou kan ook soos enige ander tou maklik beskadig as hy oor skerp kliprante skuur. Moenie dadelik jou nuwe wenas se kabel met ’n plasmatou vervang nie – wag eers tot jy dit moet vervang.Die nadeel van ’n kabel is dat dit baie swaar is. Dit kry ook maklik kinkels wat dit kan verswak en uitrafel as jy spanning opsit. Sulke uitgerafelde drade kan jou baie seer maak. Die enigste voordeel van ’n kabel is dat dit minder onderhoud vereis. Hoe swaar kan my wenas trek? Min mense weet dat daar eintlik geen veiligheidsfaktor by ’n wenas ingebou is nie. ’n Wenas hou self op werk (stall) as dit te swaar trek, maar hoe moet ek weet wanneer my kabel te veel spanning vat?In die tabel hier onder sal jy sien dat elke kabeldikte rated of bereken is – ’n 6,4 mm-kabel se las of minimum breeklas is byvoorbeeld 2 487 kg en sy veilige werkslading (SWL) is die minimum breeklas gedeel deur 5 (ons praat van ’n veiligheidsfaktor van 5), oftewel 497 kg.Mense wat professionele takelwerk doen en swaar gewigte met katrolle en wenaste optel, sal dus nie ’n swaarder gewig as 497 kg optel met ’n 6,4 mm-kabel nie. As die gewig wat jy optel naby aan die las of minimum breeklas kom, sal die kabel beskadig word of selfs breek.As jy met ’n wenas herwin, word die las op die kabel bepaal deur die vassitweerstand van die voertuig wat jy herwin. Hoe bereken mens dit?Die meeste kenners vergelyk die som van die totale massa (BVM) van die voertuig en die vassitweerstand met die veilige werkslading van die kabel. Die vassitweerstand wat jy by die BVM moet tel, is die weerstand as gevolg van die sand of modder waarin die voertuig sit, die weerstand van die helling waarteen jy herwin, moontlike skade aan ’n wiel of as wat weerstand veroorsaak en die aantal spoele wat jy gebruik.Jy moet dus ’n soort “boeresom” in jou kop maak sodat jy nie die veiligheidsfaktor oortree en ’n las naby die minimum breeklas op jou kabel sit nie. As jou voertuig van 2 000 kg dus in dik sand vassit, tot by die middel van die wiel, en jy staan teen ’n effense helling, kan jy 30-40% van die BVM (600-800 kg) bytel vir die weerstand van die sand en sowat 10% vir elke 5%-helling (400 kg). Die totaal is dus 3 200 kg.Enige kabel dikker as 19 mm is dus veilig. Baie kenners reken ’n veiligheidsfaktor van 5 is te hoog vir herwinning, en 3 is voldoende. As jy dit glo, sal ’n 13 mm-kabel goed genoeg wees. En onthou ook dat jy die las op jou kabel met die helfte kan verminder deur dit dubbel te gebruik met die hulp van ’n greepkatrol (snatch block).Hoe dit ook al sy, as jy jou veiligheidsvoorbereiding reg gedoen het, behoort dit nie die einde van die wêreld te wees as ’n kabel breek nie.
GEWILDSTE VANDAG
RUBRIEKE VANDAG
SPELETJIES VANDAG
Spesiaal vir intekenare!
Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag.
SPEEL SAAM










