Die Laer-Tsitsa-waterval noord van Mthatha in die Oos-Kaap is een van ons land se mooistes, maar verbasend min mense kom ooit daar.
Die beste tyd om dit te besoek is laatsomer, wanneer die streek gewoonlik goeie reën kry in die opvangsgebied van die Tsitsarivier rondom Nqanqarhu (Maclear), verder stroomop.
Nader aan Nqanqarhu is daar ook die kleiner Bo-Tsitsa-waterval, maar dis die Laer-Tsitsa-waterval wat die eintlike skouspel is.
Ry só om hier uit te kom: Neem die N2 noord van Mthatha en draai regs op die grondpad onmiddellik nadat die N2 die Tsitsarivier kruis. Volg dié grondpad vir ongeveer 19 km.





















