Conqueror se huidige reeks Commanders is beskikbaar in drie variante: Die Classic, Platinum en Recce. Die heel nuwe Commander X is nie deel van die variante nie, maar 'n model in eie reg.
Buiten die verskil in grootte en gewig kry die Commander X 'n verskeidenheid nuwighede: Die woonwa se dak en die voorste bed verander, en die buitebadkamer skuif deels binnetoe.

Wat is anders?
Vergeleke met die huidige Commander is die nuwe model 490 mm langer, 175 mm breër en 55 mm hoër. Die tarragewig is met 120 kg vermeerder tot 1 500 kg en die BVM met 150 kg tot 1 950 kg.
Hierdie verskille sorg vir meer as genoeg ruimte. Die huidige Commander-reeks kom standaard met twee sydeure. Die een is vir instap, terwyl die storttent langs die ander een opslaan.

Die Commander X het ook twee deure - wat breër is - maar die tweede deur maak nie soos 'n gewone een oop nie. Die onderste deel slaan plat om die trog van 'n stort te vorm.
Jou storthokkie is dus effektief buite die romp, maar dis steeds op vloerhoogte sodat jy direk kan instap. 'n Seilpaneel rits agter jou toe vir privaatheid. Die opwipdak maak plek vir 'n dak wat aan die voorkant lig, maar 'n tweede - kleiner - dak maak nou ook oop van die agterkant van die dak af.
Dit gee meer as genoeg kopruimte agterin die wa. Seker een van die grootste pluspunte van die Commander X is die ekstra ruimte aan die voorkant van die wa. Voorheen moes jy hier deur 'n opening kruip om jou lê te kry op die voorste uitslaanbed, maar nou is die boonste dwarsbalk weggedoen.
Die tent bo-oor hierdie bed strek nou van die dak af, wat beteken die dae van inkruip is daarmee heen. Die hele ruimte langs die bed is oop tot bo. Nie net het jy nou danksy die uitleg meer ruimte by die beddens nie, maar hulle verskil ook in grootte.

Die agterste én voorste bed is langer: onderskeidelik 2,3 x 1,67 m teenoor 1,95 x 1,95 m en 1,72 x 1,57 m teenoor 1,67 x 1,61 m. Maar klante kry een ekstra bonus, want nou is daar plek vir twee bykomende hangbeddens wat vir kinders bedoel is.

Die Commander X kry 'n nuwe gesigwasbak (binne langs die instapdeur) plus 'n kassettoilet wat op 'n glyraam onder die bed uittrek. Waar jy in die standaard-Commander 12 binnekaste het, het die X altesame 25.

Die deel van die buitekombuis wat links van die deur uitgly, bly onveranderd. Die deur self kry nou 'n afslaantrappie, en die kruidenierswarekas regs is heelwat groter (248 l vergeleke met 198 l).
Dieselfde geld vir die twee buitekaste op die agterste hoeke: Dié is vergroot van 110 l tot 154 l elk. Die Commander X kry verder ekstra LED-ligte binne, die matrasse is van 'n nog beter gehalte, en dan is daar ook 'n eerste vir Conqueror: As opsionele keuse kan die dak nou elektries lig.
Spesifikasies
Model Commander X
Slaapplek 4 volwassenes en 2 kinders
Grootte 5,63 x 2,22 x 2,3 m
Tarra 1 500 kg
Dravermoë 450 kg
BVM 1 950 kg
As Onafhanklik
Wielgrootte 16"
Onderstel Gegalvaniseer
Romp Elektrogegalvaniseerde staal en aluminium
Prys R587 256
Handelaarsnetwerk Die hoofkantoor is in Heidelberg, Gauteng, met 14 handelaars in die res van die land.
Kontak 016 349 6533; info@conqueror.co.za; conqueror.co.za

Conqueror Commander X R587 256, BVM 1 950 kg
Van die mededingers
Boswoonwaens in 'n soortgelyke prysklas

Aloe Excelsa R584 942
Het slaapplek vir 2, 'n BVM van 1 800 kg, en die romp bestaan uit aluminium en 2K-motorverf.

Mobi Lodge Continental R588 000
Het slaapplek vir 2, 'n BVM van 1 750 kg of 1 950 kg, en die romp is 'n staalversterkte veselglasskulpraam.

Afrispoor Wildcat R589 000
Het slaapplek vir 2, 'n BVM van 1 950 kg en die romp bestaan uit vlekvrye staal en aluminium.














