Wat boumateriaal en algemene voorkoms betref, verskil Conqueror se UEV-reeks van die res van sy boswaens.
Pleks van metaal bestaan die panele van die bakwerk hoofsaaklik uit 'n sintetiese materiaal - een van die redes hoekom die UEV-waens wit is.
Die reeks bestaan uit vier waens. Ons haak die klein UEV-14i en kyk wat in hom steek.

Wat gebeur regs?
Hier is 'n groot afswaaideur wat na die binnekas toe oopmaak, nog een aparte kassie, 'n 220 V-sok vir die kragtoevoer, 'n sigaretaanstekersok en die watertenk se prop.
Tussen die afswaaideur en neuskas is dus die kassie met nog pakplek, en onder dit, by die onderstel, 'n metaalkas waar jy tentpenne of die gereedskapkissie kan pak.

Aan die ander kant is nog so 'n kas.
Die neuskas se voorkant en die dele van die wa wat langs die kante uitsteek, het riffelplaat wat jou wa beskerm teen opslagklippies.
In die regterkant is die waterpomp en gassilinders plus die gasgeiser wat teen die binnekant van die deur gemonteer is. Teen die voorkant van die neuskas word 'n graaf, byl en graslem vasgesit.

Kry jou staan
Die UEV-14i het vier afswaaihoekstutte, en met die hulp van die lugvering se kompressor kry jy die wa vinnig waterpas.

Volgende lig die dak: Op elk van die hoeke is 'n lugstut - maar onthou om die stoepdak te span vóór jy die dak lig, anders gaan jy 'n leer moet gebruik om by te kom.
Om die slaapplek se tent op te slaan moet jy binne-in die wa klim - hiervoor is daar 'n afswaaitrappie.
Die bed se basis skuif eerstens van binne af uit oor die A-raam - sorg dus dat daar niks bo-op die neuskas gepak is nie.

Rits nou die tent aan die onderkant van die bed vas, want volgende span jy die dak.
Die maklikste is om jou lê op die matras te kry en dan die U-rame boontoe op te swaai.
Klitsritsstroke vou om die U-raampale en twee los paaltjies pas tussen die U-rame in om dit stewig in plek te hou.

Die laaste stap is om die vensters se afdakkies buite met veerlatte te span.
Terloops, al die venters het muskietnet voor wat kan ooprits.

Stort aan die agterkant
Die storttent slaan van bo af en langs die noodwiel aan die agterkant oop. Hier is 'n kraan met 'n verlengstuk en 'n stortkop vir die warm en koue water.
Die tent se toeritsdeur is aan dieselfde kant as die wa se deur.
Onthou, die een kant van die storthokkie is teenaan die noodwiel waar die braairooster ook vaskom - maak dus seker hy is skoon, anders gaan jy moet tent skrop.
Die jerrykanne se plek is aan weerskante van die noodwiel en tent.

Wat is standaard?
Van die standaarditems sluit in die noodwiel met een ekstra wielnaaf, 'n dak wat met druklug gelig word (kompressor ingesluit), 2 watertenks (110 l en 83 l), die kombuis op sy glyraam, waterpomp met loodgieterswerk, 15 l-geiser, LED-binneligte met helderheidskakelaar, buiteligte, 'n storttent,12 V/ 220 V-kragstelsel met 'n 102 Ah-battery, binnewasbak en kraan.
Die lys van opsionele ekstras sluit in: 'n 82,5 l- SnoMaster-ys-vrieskas van vlekvrye staal (R16 779), nr. 10-gassilinder (R745), messegoed en breekware (R1 746), braairooster wat oor die noodwiel pas (R1 449), kassettoilet (R3 432), lugvering (R25 841) en die L-stoepdak (R6 624).

Die ander binnekant
In die oop ruimte voor die bed is 'n opslaantafeltjie met bankies aan weerskante: een aan die voetenent van die bed en die ander teen die agterkant van die wa.
Die tafeltjie neem die meeste van die ruimte op; slaan hom dus af wanneer jy hom nie gebruik nie.

Die bankie aan die bed se kant dien ook as trappie om op die bed te klim. Agter die trappie staan die kompressor in sy eie kas.
Tussen die sitplek en die vloer is vier hokkies met seildeurtjies - net reg vir 'n paar bottels wyn.
Hier is hope pakplek en genoeg kassies sodat twee mense vir 'n halwe maand kan vakansie hou.
Die groot tweedeurkas is aan die regterkant, tussen die wa se agterkant en die bed.
Die kas het een lang rak bo, met die onderste deel wat in die lengte in twee verdeel is.
Die kas het ook 'n deur aan die buitekant wat die pakwerk by die huis makliker maak.
Bo-op die kas is neersitplek.
Aan die oorkant van die oop ruimte is 'n blad van byna 1½ m wat bo-oor die buitekombuis se kaste strek.
Albei hierdie oppervlakke loop teenaan die sypanele tot teenaan die bed - daar's dus plek vir jou waterbottel en selfoon wanneer jy snags gaan inkruip.
Wanneer jy inklim, is daar 'n tweedeurkassie reg by die deur - hierin kan jy kampgoed soos verkykers en kameras bêre wat jy vinnig wil gryp sonder om in die wa in te klim.
Bo-op is 'n klein wasbak met 'n warm- en kouewaterkraan, en regs van die wasbak pakplek.
Die leefgedeelte word goed verlig deur 'n strook LED-ligte reg rondom teen die dak waarvan die helderheid verstel kan word.

Die skakelaar is langs die radio by die deur, wat lekker prakties is, want jy kan die ligte aanskakel voor jy in die wa klim. (Die luidsprekers vir die radio is aan die wa se agterkant teen die dak vasgesit.) Onder die radio is drie 220 V-proppe - een die gewone driepunthuissok en twee tweepuntproppe - en twee USB-sokke.

Die kassettoilet se bêreplek is links van die wasbak, onder die bankie.
Links hiervan is die kragboks met Hella-punte, USB-sokke, skakelaars vir die yskas, ligte, waterpomp en 'n digitale meter waar jy die watervlak, batterylading, kragtoevoer van die sonpaneel en die buitetemperatuur kan sien.

Linksom kombuis toe
Die buitekombuis se uitleg is tipies boswa: Daar's 'n ys-vrieskas op sy glyraam, die stoof en wasbak (ook op 'n glyraam), die koskas met 'n werkblad langsaan, en 'n drankkabinet.
Die uittreklaai bo die ys-vrieskas is groot genoeg om jou potte en panne te sluk.
Die rak regs van die yskas met die stoof en wasbak het 'n vierplaatgasstoof.
Die deksel bo-oor die stoof se branders word 'n windskerm wanneer jy dit opslaan.
Jy was jou skottelgoed in 'n enkelwasbak regs van die stoof.

Net soos die stoof se deksel is die wasbak en droograk van vlekvrye staal.
Onder die stoof en wasbak is twee laaie: links kom die messegoed en borde (6 van alles) in stewige pakplek met metaalgleuwe.
Jou braaitang, eierspaan en dies meer pas ook hierin. Die regterkantste laai is kleiner en net reg vir jou speserye en ander goed wat jy byderhand wil hê wanneer jy kosmaak.
Die water kom uit twee watertenks (altesame 193 l), en die 15 l-geiser in die neuskas sorg vir die warm water.
Ingeval die waterpomp jou in die steek laat - of as jy die tenks wil dreineer - is daar 'n kraan by die A-raam.
Hier is nie 'n werkblad langs die stoof nie, maar regs van jou is die vlekvryestaalblad van die koskas.
Jou kruideniersware kan in die boonste helfte van die kas gepak word.
Die koffiebekers, papbakkies en wyn-, koeldrank- en waterglase is op die onderste rak, in 'n stewige raamwerk. Jy kan jou koffie, tee en beskuit weerskante van die bekers pak.

Binne-in die kas is die 220 V-twee- en driesokkragpunte plus 'n 12 V-sigaretaanstekersok.
Soos al die ander kassies in die wa het dié een ook 'n LED-liggie binne en is met mat uitgevoer.
Die kombuis se lig kom van twee LED-liggies: een bo die stoof en wasbak, en die ander bo die koskas - hulle is teen die romp van die wa vasgesit.
'n Klein drankkabinet met plek vir drie wynbottels en vier glase is aan die binnekant van die wa se deur gemonteer. Jy doen die skinkwerk op sy afswaaideurtjie wat 'n tafeltjie vorm.

Ry & Sleep sê
Conqueror maak dit maklik wanneer een wiellaer byvoorbeeld die gees gee, want jy vervang dit eenvoudig met die ekstra wielnaaf.
Spesifikasies
Vervaardiger Conqueror Model UEV-14i
Slaapplek 2 volwassenes
Grootte 4,424 x 2,004 x 1,952 m
Bande 16" As 2 t
Tarragewig 1 180 kg
Dravermoë 620 kg BVM 1 800 kg
Onderstel Elektro-gegalvaniseer
Romp Aluminium en sintetiese samestelling
Standaardprys R373 277
Handelaarsnetwerk Hoofkantoor op Heidelberg (Gauteng), 9 takke landwyd plus Namibië (Windhoek) en Botswana (Maun).
Kontak 016 349 6533; conqueror.co.za; info@conqueror.co.za

Conqueror UEV-14i
R373 277, BVM 1 800 kg
Twee van die mededingers
Eiesoortige boswaens vir 2 met 'n opligdak

Invader Duo
R308 000, BVM 1 500 kg
Het 15"-wiele, 'n 1,8 t-as en veselglasromp.

Tuff Cats Nzudzi
R225 803, BVM 1 800 kg
Het 17"-wiele, 'n 1,8 t-as en aluminiumromp.




















