Foto's: Verskaf
Aluminiumwa
Die punt van 'n woonwa is om jou "huis" na nuwe vakansieplekke te sleep waar jy nog nooit was nie - óf elke jaar na jou gunsteling-oord om saam met ou vriende te kuier. Daar is egter plekke waar jy in 'n luukse woonwa kamp, een wat nêrens heen gaan nie.

Op die dak van die Grand Daddy-boetiekhotel in die Kaapse middestad staan sewe Amerikaanse Airstream-woonwaens.
Volgens die hotel is dit die enigste ontwerper-Airstream-dakwoonwapark ter wêreld. Elkeen van die woonwaens het 'n unieke tema wat deur binnehuisontwerpers geskep is en die prys wissel afhangend van die etepakket, soort woonwa en tyd van die jaar.
Kontak granddaddy.co.za

Die Old Mac Daddy-vakansieplaas by Elgin, ook in die Wes-Kaap, het 12 Airstream-woonwaens wat deur ontwerpers en kunstenaars versier is. Een van die woonwaens het byvoorbeeld 'n stoeikryt-bed en 'n ander se binneruim herinner aan 'n duikboot.
Kontak oldmacdaddy.co.za
Ossewa

Die ossewa kan seker beskou word as die oorspronklike woonwa. Honderde waens wat deur transportryers gebruik is - selfs 'n paar uit die Groot Trek - word in museums bewaar, maar 'n klompie word deesdae ingespan as oulike verblyf op vakansieplase.

Die Oxwagon-lodge naby die Hartbeespoortdam in Gauteng het ses ossewaens uit die jare toet.

Elkeen het 'n dubbelbed, en teenaan die wa staan 'n chalet met 'n tweede slaapkamer (met twee enkelbeddens), sitkamer en badkamer.
Die waens het elektrisiteit en gratis wifi, iets waarvan die voortrekkers net kon droom.
Kontak oxwagonlodge.co.za

Die Witmos-ossewakamp by Somerset-Oos in die Oos-Kaap het sewe ossewaens wat professioneel gerestoureer is. Die waens is in 'n laer getrek rondom 'n braaiplek en 'n plaashuis.
Nes die voortrekkers van ouds moet jy snags uit jou wa klim en die koue trotseer om 'n draai te loop.
Sommige waens het koningsgrootte beddens en ander enkelbeddens.
Kontak oxwagoncamp.co.za





