Buitelewe

Dra jou huis op jou rug

EENMANTENTE

Oztrail Swift Pitch Bivy

Met die eerste oogopslag lyk hierdie "bivy" na die ideale oplossing as jy ná 'n lang dag se stap of fietsry niks meer as 'n slaapskuiling soek wat jou teen goggas gaan beskerm nie.

Dis die ligste en kompakste van al die tente wat ons getoets het, plus dit slaan binne minute op en af. Anker dit met 'n hand vol tentpenne, trek die naafstelsel se tou boontoe om 'n koepel bo jou kop in plek te sluit, sit jou slaapmat en -sak binne en hoop jy vertrek vinnig droomland toe.

As jy sukkel om te slaap of aan engtevrees ly, gaan die aand lank voor jou strek. Daar is gaaspanele bo jou kop vir lugvloei, en 'n boseiltjie as dit lyk asof dinge nat kan raak.

Dis gemik op die solo-avonturier - 'n goedkoop alternatief tot tradisionele tente veral wanneer daar nie reën voorspel word nie.

Gewig 1,4 kg

Afmetings in cm 220 (L); 80 (B), 50 (H)

R995, seagullindustries.co.za

Naturehike Cycling Ultralight

Keith Bontrager, een van die vaders van die moderne bergfiets, het amper 40 jaar gelede gelede die volgende oor fietse te sê gehad: "Sterk, liggewig, goedkoop. Kies twee."

Dit geld tente ook, want jy betaal groot geld vir 'n tent wat jy sonder moeite tot hoog in die Maluti's kan dra en wat stewig sal staan wanneer 'n stormwind deurnag loei.

Die Chinese maatskappy Naturehike het 'n magdom bekostigbare buiteleweprodukte om van te kies en doen sy bes om Bontrager verkeerd te bewys. Hierdie tentjie gebruik een enkele liggewig-aluminiumpaal met twee Y-verbindings om dit staan te maak.

Dit slaan in 'n japtrap op en af. Die binneste gedeelte is van gaas; dus haal dit maklik asem selfs nadat jy die nylonboseil gespan het. Die grondseiltjie het 'n eie verpakking en dít en die res van die tent pas gemaklik in 'n drasak wat jy voor op jou fiets kan vasbind of in jou rugsak kan pas.

Gewig 1,5 kg

Afmetings in cm 205 (L); 96 (B); 110 (H)

R2 399, naturehike.co.za

First Ascent Stamina

Hierdie tent, die kleinste een wat deur die Suid-Afrikaanse maatskappy First Ascent vervaardig word, is ons gunsteling van al die eenmantente wat ons getoets het.

Dit weeg dalk 'n raps swaarder as die ander twee, maar die gehalte van die aluminiumpale, die stewige ritssluiters, asook die Ripstop-materiaal wat vir die boseil gebruik word, vergoed vir die ekstra gewig.

Albei kante van die tent kan oopgerits word, en danksy die lengte en hoogte (aan die kopkant) voel dit ruim. Die tent is spesifiek ontwerp om verpak in die onderste kompartement van 'n rugsak, die bagasietrommel van 'n motorfiets of voor op die stuurstang van 'n trapfiets te pas.

Gewig 2,04 kg

Afmetings in cm 230 (L); 105 (B), 87 (H)

R1 999, firstascent.co.za

TWEEMANTENTE

K-Way Kilimanjaro

Die Kili is relatief duur vir 'n tweemantent, een van die swaarste tente wat ons getoets het en nogal ingewikkeld om die eerste keer op te slaan. Maar as dit staan, staan dit sterk!

Die boseil is van Ripstop-nylon, die ontwerp is aërodinamies sodat dit punt in die wind kan staan en die waterkolomgradering is 3 000 mm (hoe hoër hierdie telling, hoe beter - 1 000 mm word beskou as relatief waterdig).

Twee mense slaap gemaklik binne-in. Al is die tent swaar, kan die gewig tussen twee rugsakke versprei word (dêps die boseil en die tentpenne en los die tent en pale vir jou stapmaat, Arnie). Hierdie is 'n tent wat jou met jare se diens sal beloon.

Gewig 3,5 kg

Afmetings in cm 220 (L); 160 (B);110 (H)

R3 999, capeunionmart.co.za

Naturehike Mongar

Ultralight Nes die kleiner eenmantent gebruik die Mongar dieselfde stelsel van een aluminiumpaal met twee Y-verbindings (plus 'n kruisverbinding in die middel) om die tent binne minute staan te maak.

Jy kan die paal ook gebruik om net die boseil te span as jy byvoorbeeld laatmiddag 'n skuiling teen die son soek en nie die binnetent ook wil opslaan nie. Die twee ingange is aan weerskante van die reghoekige tent, wat in- en uitklim ver-gemaklik.

Ruimte binne-in is meer knap as in die Kilimanjaro hiernaas, maar die Mongar weeg amper 2 kg minder en is heelwat makliker om op te slaan.

Die binnetent is van gaas; dus gaan die tent nie toewasem nie... maar die keersy is dat dit nie juis vir die wintermaande geskik is nie.

Gewig 1,7 kg

Afmetings in cm 210 (L), 135 cm (B); 100 (H)

R3 399, naturehike.co.za

Tentco Caprivi 2

Hierdie propperse ouskool nylontent is nie net die goedkoopste een wat ons getoets het nie, maar dit is ook die ruimste - hoog en net so lank soos wat dit breed is.

Ons kon drie volwassenes sy aan sy gemaklik binne-in pas. Die grondseil van duursame polipropileen beskerm 'n mens teen skerp klippertjies op die grond, maar dit maak die tent ook swaar en dit kos sweet om dit weer op te rol en in die sak te kry.

Die twee tentpale van veselglas (vergeleke met die aluminium van die ander tente) dra ook by tot die gewig. Jy' t egter nie 'n graad in ingenieurswese nodig om dit op of af te slaan nie.

Anker dit net goed in 'n sterk wind, want dit staan hoog. Die Caprivi bied goeie waarde vir geld as jy 'n tent soek vir jou volgende roeivakansie op die Oranje waar jou boot al die drawerk gaan doen.

Gewig 3 kg

Afmetings in cm 210 (L); 210 (B); 130 (H)

R799, tentco.co.za

Vango Banshee Pro 200

Hierdie ikoniese tent word gemaak deur die Skotse maatskappy Vango ('n anagram vir sy tuisdorpie Govan) en is veronderstel om 'n tweemantent te wees... Wel, dalk vir twee laerskoollaaities wie se stemme nog nie gebreek het nie!

Dit is wel een van die beste eenmantente in die wêreld wat jy teen 'n (relatiewe) bekostigbare prys kan koop. Jy kan die boseil en die binnetent as een struktuur op- en afslaan én so wegpak.

Die gehalte van die materiale is bobaas: 'n Ripstop-boseil met 'n waterkolomgradering van 5 000 mm, sterk, ligte pale gemaak van Yunan-allooi en 'n gepatenteerde trekspanningstelsel gaan jou help om snoesig te slaap in 'n sneeustorm hoog in die Drakensberg.

As jy dwarsdeur die jaar op jou eie wil kamp, is hierdie Vango nes 'n goeie mes, 'n koplamp en 'n koffiefles 'n belegging in gemoedsrus.

Gewig 2,4 kg

Afmetings in cm 265 (L); 175 (B); 100 (H)

R3 495, mountainmailorder.co.za

DRIEMANTENTE

Oztrail Vertex 3

Soos met die Vaude Taurus, is hierdie tent van die Australiese buitelewemaatskappy Oztrail eerder geskik vir twee mense wat ekstra ruimte soek.

Dis 'n tradisionele ontwerp soos die tweeman-Tentco Caprivi, met twee lang pale wat mekaar kruis, plus 'n stutpaal aan die bokant om genoeg kopruimte te verseker.

Die pale word van durallium ('n ligte, sterk aluminium) gemaak en daar is groot, gaasdeure weerskante sodat jy maklik in en uit kan klim. Die waterkolomgradering is 'n respektabele 3 000 mm.

'n Mens moet eerder die gewig tussen twee fietsryers of stappers versprei - dit help ook met die wegpak van die tent, want dit sukkel om alles weer in een sak terug te bêre.

Gewig 3 kg

Afmetings in cm 220 (L); 160 (B); 120 (H)

R3 349, seagullindustries.co.za

Vaude Taurus 3

Vaude is 'n Duitse buitelugmaatskappy bekend vir sy gehaltetoerusting wat in die Alpe getoets word. Die Taurus 3, die duurste tent wat ons getoets het, is gemik op rugsakstappers.

Dis verbasend lig vir 'n groterige tent, veral as jy die gewig tussen twee stappers kan deel. Die unieke T-ontwerp van die aluminiumtentpale, en die feit dat die jy die boseil en binnetent as een struktuur kan op- en afslaan, spaar baie tyd.

Lugvloei deur die tent is uitstekend, en 'n waterkolomgradering van 3 000 mm maak dit geskik vir alle seisoene (behalwe nat Kaapse winters).

Duitse ontwerp en gehaltemateriale beteken dat die Taurus dalk die laaste tent gaan wees wat jy hoef te koop.

Gewig 2,75 kg

Afmetings in cm 230 (L); 165 (B); 95 (H)

R5 175,

Onthou...

WIND

Daar is min dinge wat jou gemoed (en jou besittings) oor die afgrond jaag soos wind. Hoe hoër jou tent staan, hoe meer blootgestel is dit aan die wind.

Bepaal die windrigting voordat jy die tent opslaan. Die ingang moet aan die teenoorgestelde kant wees van waaruit die wind waai.

Maak seker die tentwande is styf gespan, en belê in goeie tentpenne (die meeste penne waarmee jou tent verkoop word, moet eerder by die huis gelos word).

WATER

Geen tent is heeltemal waterdig nie; dus word term "waterkolom" gebruik om die mate van waterdigtheid aan te dui.

Die onderkant van 'n pyp word verseël met die tentmateriaal en dan volgemaak met water.

Indien die materiaal vyf minute lank byvoorbeeld 'n waterkolom van 1 000 mm kan weerstaan voordat dit begin lek, is 1 000 mm sy waterkolomgradering. Hoe hoër die syfer, hoe meer waterdig is die tent.

GEWIG

As jy stap of fietsry, wil jy die ligste moontlike tent saampiekel. Ideaal gesproke moet jou staptent niks meer as 2 kg weeg nie.

Fietsryers wat derduisende rand ekstra betaal om gewig te spaar op hulle koolstofveselfietse, gaan niks meer as 3,5 kg wil saamkarwei nie.

As jy gaan roei of motorfietsry, is die gewig minder belangrik. Kyk dan eerder na die afmetings van die tent wanneer hy gepak is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM