Buitelewe

Gebruik antibiotika slim

Toe ek gevra is om oor antibiotika te skryf, het ek amper my in my Jeep geklim en eerder 'n paar draaie in die duine gaan ry. Antibiotika is 'n ingewikkelde mediese saak waaroor jy handboeke kan skryf.

Jy sal baie breë-spektrum-antibiotika op bosveldsafari's teëkom. Maar om dit te doen is presies dieselfde as wat jy met 'n seer keel na jou huisdokter gaan. Dis nie net dom nie, dis ook gevaarlik! Kom ons kyk wat antibiotika presies is, en waarvoor dit gebruik word.

Bakterie-bevegter

Antibiotika maak nie virusse dood nie. Die meeste lugweginfeksies, soos verkoue en griep, word deur virusse veroorsaak. Antibiotika sal dus niks daaraan doen nie.

Antibiotika is ontwikkel om infeksies of siekte te behandel wat deur bakterieë veroorsaak word, wat lugweksiektes soos longontsteking en kinkhoes insluit. Dit kan ook gebruik word vir urienweginfeksies, velinfeksies en bakterieë in wonde.

Op 'n bosavontuur kan jy op verskeie maniere 'n bakteriële infeksie opdoen:

• besmette water (cholera en ingewandskoors);

• besmette kos (voedselvergiftiging, E.coli, salmonella en botulisme);

• die lug, wanneer besmette mense op jou nies of hoes (tuberkulose);

• kontak met diere (miltsieke);

• kontak met besmette mense (keel-infeksie).

Die regte pil vir die pyn

Verskillende antibiotika werk op verskillende maniere. Penisillien vernietig byvoorbeeld die bakterie se selwand, terwyl ander antibiotika met die selwerking inmeng.

Wanneer jy breëspektrum-antibiotika op 'n bosveldsafari saamneem waar jy ver van 'n hospitaal af gaan wees, onthou die volgende:

Raadpleeg eers jou huisdokter. Soos ek hierbo verduidelik het, verrig verskillende antibiotika verskillende funksies. Vra dus jou dokter oor antibiotika vir:

1. Bakteriële infeksies van die sagte weefsel - daardie sny op jou hand wat ontsteek het nadat jy die spaarwiel omgeruil het.

2. Tand- en oor-infeksies.

3. Disenterie, as jy na gebiede reis waar dit algemeen is.

4. Blaasinfeksies. Veral vroue is vatbaar hiervoor.

Ken die simptome. Dis dalk maklik om 'n septiese snyplek uit te ken, maar dis heelwat moeiliker om 'n blaasinfeksie ek kolonprobleme ver van die hospitaal te diagnoseer. Vra vooraf jou dokter uit oor die simptome en watter antibiotika daarvoor geskik sal wees.

Lees die aanwysings. Dinge soos allergieë, medikasie, alkoholinname en blootstelling aan die son sal alles 'n invloed hê op hoe mense op antibiotika reageer. Lees die pamflet in die pilboksie - in hierdie geval is die aanwysings baie belangrik!

Dink voor jy drink

Ek sal nooit die gebruik van 'n antibiotikum sonder duidelike kliniese tekens van 'n bakteriële infeksie goedpraat nie. Daarom moedig ek almal aan om op te lees oor die gevare van antibiotika en antibiotikum-weerstandigheid.

Antibiotikum-weerstandigheid kom voor wanneer die bakterie muteer om homself teen die middel te beskerm. As dit gebeur, beteken dit 'n antibiotikum wat vantevore gewerk het, nie meer werk nie. As jy dus antibiotika drink wanneer jy dit nie regtig nodig het nie, gaan dit eendag nie meer werk wanneer jy dit dringend nodig het nie.

As jy weer reis, maak seker jy pak die regte antibiotika in vir die regte siektes. En moenie dit soos lekkergoed uitdeel vir elke pyn of loopneus nie.

Jacques Malan

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM