Buitelewe

Geskenke vir Afrika

Getty Images
Getty Images (Alistair Berg)

MARIJCKE DODDS

EcoNation-rommelhouer
EcoNation-rommelhouer

EcoNation-rommelhouer

Die binneruim van jou motor raak sommer vinnig morsig op die langpad. Hierdie plaaslik vervaardigde rommelhouertjie hou dinge netjies én dis omgewingsvriendelik. Dit word met die hand gemaak van herwonne advertensieborde en met kleurryke stof soos shweshwe of kunsleer bedek.

Elke houertjie (22 cm hoog met 'n omtrek van 47 cm) het 'n verstelbare gordel en gespe sodat jy dit aan 'n kopstut kan vasmaak.

R150, econation.co.za

Bird Nerd-notaboek en -potlode

Hierdie sagteband-notaboek is 'n nuttige joernaal en perfek vir die voëlkyker in jou lewe wat daardie eerste waarneming van 'n skopsuil diep in die Bosveld wil opteken. Jy kry boonop 12 potlode en jy kan die geskenk verpersoonlik deur die ontvanger se naam op die boek en die potlode te bosseleer.

R275; lovelettersstationery.co.za

The Wren Design-reisomslag

Jy kan kontant, kredietkaarte, paspoort en jou selfoon in dié mooi houer bewaar. Die reisomslag (19,5 cm x 11 cm) word gemaak van herwonne sementsakpapier wat met katoen saamgebind word om dit sterker te maak.

Dis waterdig en duursaam, en gaan jou nie sommer by 'n grenspos in die steek laat nie. Dit hou ses bankkaarte, het twee groot, plat gleuwe vir note en een gleuf vir jou paspoort of selfoon.

Dis beskikbaar in verskillende ontwerpe. Hou die webtuiste dop vir eenmalige ontwerpe deur plaaslike kunstenaars.

Vanaf R380, thewrendesign.com

MARTINETTE LOUW

Vegepod
Vegepod

Vegepod

Hoe gemaak as jy lus is vir jou eie vars groente en kruie, maar jou huis het net 'n balkon of 'n stoep pleks van 'n tuin? Jy maak jou tuin in 'n houer, een soos die Vegepod. Dis 'n klein kweekhuis met 'n ingeboude besproeiingstelsel en 'n bedekking wat lig en lug deurlaat, maar goggas uithou.

Die houers word gemaak van voedselveilige plastiek en jy kan 'n staander koop wat dit op heuphoogte plaas. Dis beskikbaar in verskillende groottes.

R2 799 vir 'n klein Vegepod (1 m x 0,5 m), vegepod.co.za

WaddleOn by Marts-sokkies

Diegene wat dink sokkies is 'n vrotsige geskenk, het nog nie 'n paar pikkewynsokkies gedra nie. Martine Viljoen, 'n bioloog, Sankub-noodhulpbeampte en 'n diere-opsigter by die Two Oceans- akwarium, is die stigter van WaddleOn by Marts.

Die pikkewyne in haar sorg het haar geïnspireer om vier ontwerpe te skep. En R3 van elke paar wat verkoop word, word aan Sankub geskenk. Piekfyn, pikkewyn!

R120 per paar, waddleonsocks.com

Weg-reisdagboek

Weg se eerste reisdagboek is gemik op dromers én meer praktiese reisigers: Jy kan jou reisherinneringe neerskryf of skets terwyl jy die wêreld verken, of tuis begin beplan aan jou volgende avontuur met behulp van die kalender, begrotingsblad en paklys.

Dié A5-grootte dagboek het 250 bladsye (skoon of belyn), 'n wêreldkaart en 'n Afrika-kaart, prettige illustrasies deur die kunstenaar Anja Stoeckigt en sketse van reisidees deur van die Weg-redaksielede.

R155 winkel.weg.co.za

MARCELLE VAN NIEKERK

Everdure-draagbare braai
Everdure-draagbare braai

Catan-bordspeletjie

In Catan is die spelers nedersetters wat hulle dorpies tot stede moet uitbrei. Jy kan hulpbronne soos hout en bakstene met jou medespelers ruil. Die onderhandelinge (nee, ek soek twéé bakstene vir daai skaap!) sorg vir hope pret. Wees gewaarsku: Dit kan die bande tussen vriende en familie toets...

R1 249 takealot.com (Daar's 'n goedkoper Afrikaanse speletjie.)

Pentel-verfkwasse

Ek hou daarvan om op vakansie te verf, maar om kwaste te karwei en na 'n houer water te soek is nooit lekker nie. Gooi een van dié oulike kwaste in 'n kunstenaar se Kerskous: Dit werk uitstekend vir waterverf. Vul die kwas met water en laat waai!

R84 elk (beskikbaar in verskillende kwasgroottes), deckleedge.co.za

Everdure- draagbare braai

Dié een is vir my duurder wenslysie: Dié mooi draagbare houtskoolbraai van die Britse sjef Heston Blumenthal. Nie net sal ek 'n tjoppie kan gaarmaak op my woonstel se balkon nie, maar dis ewe nuttig vir 'n piekniek of kampnaweek.

Ingesluit is 'n ingeboude snyplank en bak vir jou kos of eetgerei.

R2 999, yuppiechef.com

Skinny la Minx-planthouer

Ek vergeet dalk (te gereeld) om my plante water te gee, maar hulle lyk gelukkig steeds spiekeries in een van dié mooi laphouers. Die houers is beskikbaar in 'n verskeidenheid prettige ontwerpe en verskillende groottes.

R200-R260, skinnylaminx.com

ESMA MARNEWICK

Thembi Animals
Thembi Animals (lisa baldry)

Sun King Pico-sonkraglamp

Dalk is dit die ouderdom, maar deesdae pyn my kop ná 'n halfuur van koplamp dra; dus skaf ek vanjaar dié sonkraglamp aan - jy kan dit ook by 'n kragprop laai. Wanneer jy braai, gooi dit 'n romantiese liggie waaronder jy braaibroodjies aanmekaarslaan. En op onbeplande onweersdae hang jy dit in die tent hang en speel kaart.

Jy kan ook jou slimfoon met die sonpaneeltjie laai.

R366, sustainable.co.za

Tjirpie 2-kaartspel

Hierdie is 'n 3-in-1-speletjie. Nie lus vir reëls lees nie? Speel bloot Top Trumps met dié voëlkaarte, van ou bekendes soos die witkruisarend tot minder bekendes (het jy al van 'n grootnellie gehoor?) Maar as dit Kersdag begin reën en die gesin sit vasgevang in die woonwa, kan julle heelmiddag sit en 'n "voëlreservaat" vestig. Elke speler probeer die grootste verskeidenheid moontlik vir sy reservaat versamel. Soms word 'n vleiland besoedel of bome aangeplant, dan verloor of kry spelers voëls.

En tussendeur leer julle watter van Suid-Afrika se voëls kom net hier voor en watter is krities bedreig.

R139, winkel.weg.co.za of jou naaste supermark

Thembi Animals

Vanjaar is dit belangriker as ooit om plaaslike ondernemings te ondersteun. Themba Training op Somerset-Wes maak dié oulike skilpadjies uit shweshwe-lap. Dis 'n vertrooster, speelding en 'n kussinkie vir langpad ry. Seekoeie, olifante en renosters is ook beskikbaar. R165

thembatraining@hope.org.za

JON MINSTER

Lyne Shred Zeppelin
Lyne Shred Zeppelin

Lyne Shred Zeppelin

Dié Suid-Afrikaanse uitvindsel is 'n alles-in-een stelletjie om 'n pap wiel van jou binnebandlose bergfiets reg te maak. Die huls lyk soos 'n 25 g-CO²-houer. Wanneer jy die kop losskroef, vind jy 'n toediener en 'n skede vol proppies om 'n gat te stop.

Die basis van die houer skroef los en word 'n CO²-reëlaar wat jy kan gebruik om jou band weer op te blaas. Die bokant is 'n skroefkoppeling wat met enige toepaslike draagklampie maats maak - en jy kan dit gebruik om die band se klepkern te verwyder.

R399, lynecomponents.com

Red-E RSP80-kragbank

Hierdie kragbank lyk soos 'n outydse tjekboek wanneer dit opgevou is. Dit het selfs daai rubberagtige fopleerafwerking. Vou jy hom oop, vind jy vier sonpaneeltjies wat aan mekaar verbind is. Dit beteken hy herlaai vier keer vinniger as 'n toestel met net een panel.

Dis perfek vir mense wat stap, fietsry of ver weg van Eskom wil kamp. Sy kapasiteit is 8 000 mAh (in witjastaal beteken dit eenvoudig dat dit 'n slimfoon twee keer ten volle kan herlaai). Daar is twee herlaaigleuwe sodat jy jou kamera en foon gelyktydig kan herlaai. Gebruik die ingeboude LED-lig om in jou tent te lees of as jy die ablusieblok ná middernag in die donkerte moet vind.

R899, shop.red-e.co.za

JanTee Drizzle-windjekker

Jeanette Terblanche is die eienaar van JanTee Designs en sy maak 'n reeks byderwetse buitelewe- en sportklere in haar werkwinkel in Pinelands buite Kaapstad. Hierdie bekostigbare windjekker werk uitstekend.

Dit hou jou warm wanneer die wind opsteek en droog as dit liggies reën. Op die rugkant sorg maasstof (verberg onder 'n lugopening) dat sweet kan verdamp, en dis klein genoeg om in die kantsak van jou rugsak in te prop.

R380. Soek na "JanTee Designs" op Facebook

LYNNE FRASER

Arrow-voorskoot
Arrow-voorskoot

BrewSpoon

Hierdie is nog 'n bekroonde plaaslike uitvindsel wat 'n uitstekende manier bied om een koppie koffie te maak. Dis klein en maklik om te gebruik. Dis perfek vir stappers en kampeerders wat nie veel pakplek het nie, maar steeds hulle dosis kafeïen nodig het. Dit word van voedselveilige plastiek en vlekvrye staal gemaak.

Plaas net jou gemaalde bone in die BrewSpoon en dompel dit in 'n beker warm water. Jy kan die BrewSpoon op sy eie koop of as deel van 'n geskenkpakkie.

R199 vir die lepel of R389 vir die geskenkpakkie brewspoon.co/shop/

Ocean Collective-foto-afdrukke

Indien jy vanjaar jou jaarlikse kusvakansie moes misloop, kan jy een van 'n beperkte aantal afdrukke van Ocean Collective koop. Hierdie aanlyngalery verkoop kontemporêre kunswerke wat deur van Suid-Afrika se voorste branderry-fotograwe geskep word. Nie net ondersteun jy 'n bedryf wat in 2020 skaars kon werk nie, maar jy gee fotografie 'n hupstoot terwyl jy deel in die mooi van ons kuslyn.

Die foto's kan op papier of skilderdoek in verskillende groottes gedruk word en jy kan kies of jy hulle geraam of ongeraam wil hê. Jy kan hulle selfs laat vergroot en as 'n triptiek druk. Die prys hang af van die grootte en die materiaal waarop dit gedruk word, maar begin by R595.

Vanaf R595, oceancollective.co.za

Arrow-voorskoot

Hierdie seilstof- en leervoorskote van Arrow is versamelartikels wat deur menige sjef en nutsman (en -vrou) begeer word. Dis stylvol en funksioneel met verstelbare bande vir jou nek en middel, asook bêresakke.

Dit word van 100% katoenseilstof en gelooide leer gemaak. Jy wou immers nog altyd 'n leervoorskoot gehad het. Toe nou, bederf jouself.

R850 (seilstof) en R1 600 (leer) arrowleathergoods.co.za

Funky Ouma-speserye

Jy kan jou eie geskenkpakkie skep met blikkies Funky Ouma Chilli Salt en Funky Ouma African Braai Rub. Laasgenoemde is perfek vir steak, hoender, tjops of ribbetjies. Gebruik die rissiesout op avokadopeer of eiers, of gee jou Bloody Mary ekstra skop.

Net natuurlike middels word gebruik (geen chemiese goeters!) en kyk net hoe mooi is die verpakking!

R89 vir 'n 250 ml-blikkie, yuppiechef.com

SOPHIA VAN TAAK

Tiptoe Totes-herbruikbare sakke
Tiptoe Totes-herbruikbare sakke

Kaalfööt-skoene

Ek het by Rut Cloete (lees die storie haar gesin se landsreis in Weg #190) van dié skoene gehoor. Dis die perfekte sloffies om byderhand te hê vir wanneer jy jou skoene uitskop, maar darem nie kaalvoet wil loop nie. Dit sit so knus soos sokkies, maar het 'n sooltjie. Dis lig, neem min ruimte in jou tas op, word gou droog en jy kan jou Kaalfoöte selfs in die wasmasjien gooi.

Daar is pare in stemmige swart, donkerblou en turkoois, sowel as guitiger opsies met etniese patrone, blommetjies, jellievisse, eenhorings, pynappels...

R290 (volwassenes); R265 (kleintjies), kaalfoot.com

Tiptoe Totes- herbruikbare sakke

Al hoe meer kruidenierswinkels begin afsien van plastiekverpakkings en verwag dat klante deesdae hulle eie inkopiesakke saambring. Die meeste mense ry daarom reeds 'n paar groot skouersakke oral saam; 'n hand vol van dié sakkies sal ook daardie deursigtige plastieksakkies vir die weeg van groente en vrugte uitskakel. Dis gemaak van ongebleikte linne, die nate is stewig en elkeen het 'n trekkoord. Die kleinste sakkie is 25 x 30 cm en die groter opsie 30 x 40 cm.

Hou in gedagte dat die lap met die eerste was 'n aks gaan krimp.

R69 (klein); R72 (groot), faithful-to-nature.co.za

Opinel-sakmes

'n Mes is 'n nuttige ding om by jou te hê - jy weet nooit wanneer jy 'n stukkie biltong wil kerf, lemoen wil afskil of sommer net 'n rafel wil afsny nie. Daar is net een probleempie: Dit lyk butch as iemand in die geselskap 'n snyding kort en 'n vróú dan 'n mes uit haar handsak pluk! Maar nie as dit 'n slanke Opinel met 'n mooi houthef is nie.

Opinel vervaardig deesdae allerlei messe, maar ek hou van die oorspronklike ontwerp wat al van 1890 af bestaan. Dié model is in verskillende groottes beskikbaar.

R280 (okkerneuthout), R320 (olienhout) of R340 (akkerhout), awesometools.co.za

TOAST COETZER

The Tool Room-staalpanne
The Tool Room-staalpanne

The Tool Room-staalpanne

Hierdie panne, wat met die hand deur die Kaapse meesterystersmid Conrad Hicks gegiet word, is nie goedkoop nie. Maar hulle gaan vir ewig hou en jou lofsange gaan wyd besing word as jy een van die outjies uitpluk vir spek-en-eiers by Pafuri se piekniekterrein.

R1 000 vir 'n klein braaipan (20 cm), R2 000 vir 'n groot braaipan (27 cm), R2 000 vir 'n klein bakpan (48 x 20 cm), R3 000 vir die groot bakpan (40 x 30 cm)

toolroomonline.co.za

Mastertons-koffie

Die Baai se mense is welbekend met die legendariese Mastertons aangesien jy dié koffie in amper elke koffiewinkel in Port Elizabeth sal vind. Danksy aanlynverkope kan die res van die land nou ook in die geheim deel.

Mastertons is in 1924 gestig en verfyn al jare lank die kuns van koffie. Probeer die Chipembere-versnit en jy dra by tot die bewaring van renosters aangesien 'n deel van die wins daaraan geskenk word. R70 vir 250 g Chipembere (gemaal of bone)

mastertonscoffee.co.za

Afrika Joe-T-hemde

Dis 'n gesukkel om oorspronklike T-hemde te koop, maar Afrika Joe maak van die bestes. Jacques Coetzer se kunswerke vier ons vasteland met 'n egtheid wat nie sommer geëwenaar kan word nie.

Ek is gek oor die stuitige Tune in-vlakvark met sy lugdraad penorent, die retro-Skukuza (wie hou nou nie van 'n rondawel nie?) en die Keep Rolling-miskruier.

R310, afrikajoe.com

Scraptures deur Pilato Bulala

Pilato Bulala is 'n kunstenaar van Limpopo wat sy werke "scraptures" noem omdat hy hulle van skroot-metaal maak. Sy kuns vang aktuele gebeure vas - in 2020 was "die virus" die ooglopende onderwerp wat hom besig gehou het.

Ek hou van dié een, 'n ma wat 'n masker dra en met haar kind speel. "Man Affected by Coronavirus," waar die virus as 'n bal en ketting uitgebeeld word, tref ook diep. R700 vir Mother Playing with Child, R800 vir Man Affected by Coronavirus

@pilatobulala (Instagram); 072 343 1202 (WhatsApp)

KYK HOE MOOI!

Weg-legkaart
Weg-legkaart

Kies tussen 'n Karoo-toneel, die Vallei van Verlatenheid en 'n kokerboom in Duiwelsnek. Elke legkaart het 1 000 stukke. Dis 'n lekker projek vir die hele gesin. Bestel jou legkaart (R260 elk) aanlyn.

winkel.weg.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.

https://winkel.weg.co.za/produk/weg-1000-stuk-legkaart-kokerboom-in-duiwelsnek/

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM