Buitelewe

Groot­vadersbosch is ’n onontdekte natuurjuweel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Dramatiese wolkestapel by Grootvadersbosch. Foto’s: Ilse Zietsman
’n Dramatiese wolkestapel by Grootvadersbosch. Foto’s: Ilse Zietsman

Na 'n eerste besoek aan Grootvadersbosch kan sy nie glo sy het nie vantevore van dié natuurjuweel geweet nie, skryf Ilse Zietsman.

Die Grootvadersbosch-natuurreservaat in die Langeberg beslaan 250 ha woud. Een oomblik bevind jy jou nog op die raserige N2 en die volgende oomblik hoor jy net die geritsel van blare wanneer 'n briesie opsteek. En jy besef jy is nou ver van waaruit jou gewone lewe bestaan.

Een oomblik bevind jy jou nog op die raserige N2 en die volgende oomblik hoor jy net die geritsel van blare wanneer 'n briesie opsteek. En jy besef jy is nou ver van waaruit jou gewone lewe bestaan.

Met 'n onlangse besoek was ek so aangenaam verras dat ek nie kon glo Grootvadersbosch was nie voorheen op my reisradar nie.

'n Glanskamp by Grootvadersbosch.
'n Glanskamp by Grootvadersbosch.

Gaan tog om vadersnaam

Die stuk grond waarop Grootvadersbosch geleë is, was oorspronklik bekend as Melkhoutskraal en is in 1723 aan Roelof Oelofse toegeken. Almal het hom die "Groot Vader" genoem en later het die daaropvolgende eienaars ook dié naam geërf; vandaar dan ook die naam van die natuurreservaat wat sedert 1986 deel van CapeNature uitmaak.

As jy Grootvadersbosch besoek, is daar meer as 35 woudboomspesies te sien; dit sluit in stinkhout-, geelhout-, rooiels- en ysterhoutbome wat baie volop is.

Vanaf 1896 tot 1913 is uitheemse bome soos die kamfer, Australiese swarthout, bloekom, eike en Kaliforniese rooihout aangeplant om die bome te vervang wat deur houtkappers afgemaai is. Cape­Nature is besig om dit geleidelik met inheemse woud te vervang.

Jy sal nie glo hoeveel bosbokke jy hier sien nie! As jy by enige venster van jou selfsorghuisie uitkyk, sien jy amper elke keer 'n bosbok of ses rustig wei. Hulle steur hulle nie veel aan jou nie, maar kyk dan en wan op en laat dan weer die kop sak om aan die grasspriete te knibbel. Daar is ook Kaapse grysbokke, maar ons het hulle nie te siene gekry nie.

Verder is daar uitgeslape bobbejane waarteen ons gewaarsku is, maar hulle het ons gelukkig ook nie gewaar nie. Hou egter maar jou deure en vensters toe as jy 'n entjie gaan stap. Hulle is slinkse skepsels wat jou koskas en koelboks graag wil plunder.

Luiperds kom ook voor. Gelukkig is hulle van nature skaam diere; nie een van ons wat gaan stap of fietsry het, het dié pragdiere teëgekom nie. Ons kla egter nie daaroor nie. Altesaam 196 voëlspesies is reeds opgeteken en dus wag 'n paradys op voëlkykers.

Op die brosjurekaart wat jy ontvang wanneer jy inteken en jou sleutel kry, lees ons dat 'n tipe spookpadda en 'n spesifieke soort keiserskoenlapper nét hier voorkom, hoewel jy gelukkig is as jy een van dié twee bespeur.

Wees vader-dankie-bly

Grootvadersbosch het verskeie selfsorg-verblyfopsies. Jy kan kies uit die Scolopia-houthuis waar vier mense kan slaap, asook selfsorghuisies met twee slaapkamers, 'n kuiergebied met 'n kaggel, en 'n binne- en buitebraaiplek elk. Scolopia het twee badkamers, ook 'n buite- en binnebraaiplek, asook 'n plonspoel.

Ons het in die baie gemak­like, ruim en goed ingerigte selfsorghuisies gebly, maar verlangend na die glanskampe gekyk. Daar is weliswaar minder plek, maar as jy al die seile oprol, leef jy na buitentoe. Die glanskampe is juis na aan die bos geleë.

As jy 'n voorliefde vir kampeer het, is daar nege gewone kampeerplekke en vyf woonwa-staanplekke. Daar is gedeelde ablusiegeriewe met warmwaterstorte, as­ook 'n omheinde swembad en 'n speelgebied vir kinders. Jy kan orals braai; bring net jou eie braairooster saam.

Dis goed om vooraf te weet as julle 'n groep vriende is en sommige selfsorg verkies en ander kampeer, dat die twee behuisingsopsies nogal 'n entjie van mekaar af is.

Aardjie na sy vaartjie

Ons was daar op 'n koue naweek; dus het ons die vuur gestook en meestal knus binne gekuier. Altans, dis nou die twee van ons wat boekwurms is.

Ons tweetjies het ons glase volgehou, ons heerlike peuselborde gereeld aangevul en die wêreld se probleme opgelos, of ons verbeel dis wat ons doen. 'n Skindersessie en 'n paar tydskrifte verslind is ook nie agterweë gelaat nie.

Die ander twee is fikse fietskerneelse; hulle het die grysbokroete (15 km), bosbokroete (10 km) en fietsroete (6 km) kafgedraf.

Omdat die wind die eerste aand opgesteek het, het ons die binnebraai benut. Sou jy wou kosmaak, is daar 'n stoof met 'n oond; ons het egter sommer macaroni-en-kaas en 'n gebakte groentegereg saamgepiekel wat ons kon opwarm. Grootvadersbosch is immers 'n plek waar jy wil ontspan en jou oorgee aan die saligheid van die natuur.

Op die laaste oggend voor ons vertrek het ons al vier vanaf ons huisie na die boonste uitkykpunt gedrentel. Dis net 'n paar minute se stap en die ongelooflike uitsig slaan jou asem weg - dis valleie net waar jy kyk tot teen die horison.

Die manne het met die meer uitdagende Grysboksirkel (daar is ook 'n Stinkhoutsirkel, Rooi- en Melkhoutpad) langs geloop en die waterval en Fonteintjiesbos gaan soek. Die vroue het oor 'n laaste koppie boeretroos die bosbokke betrag en na die voëlgeluide geluister.

Dié plek is 'n saligheid wat jou bybly.

As jy wil gaan

  • * Waar? Tye? Die hekke is oop van 07:00 tot 18:00; sorg dat jy betyds aankom om jou sleutel te ontvang.
  • * Koste: Scolopia-houthuis: Slaapplek vir vier mense per nag kos R1 560 (in die buiteseisoentyd) en R2 790 (hoogseisoen).
  • * Scolopia-kothuis: Slaapplek vir vier mense per nag kos R1 340 (buiteseisoentyd) en R2 630 (hoogseisoen).
  • * Selfsorghuise: Slaapplek vir vier of vyf mense per nag kos R1 310-R1 870 (buiteseisoentyd) en R1 870-R2 150 (hoogseisoen).
  • * Glanskamp: Koste beloop R970 (buiteseisoentyd) en R1 670 (hoogseisoen) per nag per kampeerplek.
  • * ‘Gewone' kampeerplekke: Koste beloop R370 (buiteseisoentyd) en R560-R740 (hoogseisoen) per nag per kampeerplek.
  • * Spesiale aanbiedinge: Ons het 'n paar maande vooraf bespreek en betaal. Toe Grootvadersbosch later 'n spesiale aanbod aankondig, het hulle ons verwittig en die verskil aan ons terugbetaal.
  • * Wat jy nog moet weet: Bring al jou eie kos en drinkgoed saam; daar is geen winkel op die perseel of naby nie. Geen vuurmaakhout van buite word tans toegelaat nie; hout is by ontvangs te koop.
  • * Bespreek by capenature.co.za/reserves/grootvadersbosch-nature-reserve
CTA