Om die hulpbronne en befondsing bymekaar te kry om vyf bosreuse in die regte rigting te stuur, is makliker gesê as gedaan.
Maar dit is presies wat Dereck Milburn, direkteur van WeWild Africa, op 'n Saterdagoggend in Januarie vanjaar moes vermag.
WeWild Africa is 'n nieregeringsorganisasie wat in Januarie vanjaar amptelik inisiatiewe in Afrika bekend gestel het, maar sedert 2019 reeds werksaam is met natuurbewaring op die vasteland.
WeWild Africa skryf in 'n verklaring dat Sihle Mkhize, waarnemende hoof van die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste (Ezemvelo), op 20 Januarie dringend gerapporteer het dat vyf olifante die pad letterlik byster geraak het.
"Die olifante het 16 km suid van die Ndumo-wildreservaat se suidelike grens afgedwaal, weg van hul gewone migrasieroete deur die Tembe-olifantpark (TEP), en op gemeenskapsgrond beland," lui die verklaring.
Die Ndumo-wildreservaat is 'n Ramsar-gebied wat beteken dit word erken as 'n plek van ekologiese belang.
Die Ndumo-wildreservaat is in Maputaland in KwaZulu-Natal, naby die Mosambiekse grens geleë. 'n Besluit is glo geneem om 'n permit goed te keur wat sou beteken dat die vyf olifante geskiet sou word.
"Hierdie dodelike uitbreiding van konflik tussen mens en natuur het WeWild Africa aangespoor om op te tree en in te tree om die trop te red," lui die verklaring.
In 'n japtrap is 'n reddingspan georganiseer om die olifante op te spoor en terug na veiligheid te jaag.
'n Ander trop olifante was egter nie so gelukkig nie.
Volgens WeWild Africa is minstens 13 olifante in Desember 2023 in dieselfde gebied geskiet.
Juis hierom word die belangrikheid van samewerking tussen die gemeenskappe, natuurbewaringsorganisasies en die regering opnuut beklemtoon.
Volgens WeWild Africa is die oorbevolking van olifante in verskillende gebiede in Suidelike Afrika steeds problematies "met baie beskermde gebiede wat hul ekologiese dravermoë bereik".
Dringende ingryping is daarom nodig om te verseker dat olifante nie in die nabye toekoms hieroor uitgeroei word nie. Boonop word olifantbevolkings voortdurend blootgestel aan strikke, stropers en konflik met die mensdom."
WeWild Africa is een van die enigste organisasie in Suid-Afrika wat aktief ingryp om olifante te verskuif - van gebiede waar daar te veel olifante is na gebiede wat meer olifante kan akkommodeer.
Volgens WeWild Africa behels die ingryping ook om met reservate te onderhandel om vir olifante 'n tuiste te bied en hulle te help met die voorbereidings om olifante te verwelkom.
Sedert 2019 het die organisasie meer as 200 olifante gered - onder meer deur hulle te verskuif en strikke te verwyder.
Baanbrekerswerk is gedoen toe WeWild Africa (in samewerking met Sanparke en Conservation Solutions) daarin kon slaag om verlede jaar twee "familiegroepe" van olifante uit die Addo-olifant Nasionale Park te verskuif - eers na die Bellevue-bosreservaat in die Oos-Kaap en toe na die Babanango-wildreservaat in KwaZulu-Natal.
"Die sukses van hierdie projek beteken meer olifante kan uit die Addo-olifantpark geskuif word om bevolkingsdruk te verlig." - Beeld-redaksie




















