Buitelewe

Hokaai, hoekstut

Charles Viljoen van Kempton Park vertel hoe hy 'n hoekstut bou.

"Ek het opgemerk die grondvryhoogte van sommige nuwer woonwaens met 'n modulêre onderstel is só laag dat hulle hoekstutte geneig is om op die grond te sleep - veral as ek in my oprit of by 'n vultstasie inry waar daar 'n effense hoogte is.

Vervaardigers het die probleem opgelos deur die ou halfmaanvoetstuk met 'n 10 mm-dwarspypie te vervang waarin jy daardie plat ronde voetstukke van aluminium of plastiek kan heg. Ek het 'n 2009-model Jurgens Palma en moes 'n plan beraam omdat die een hoekstut al só gebuig was dat hy nie meer gewerk het nie.

Ek het vir my twee 80 mm-staalwiele gaan koop wat op veiligheidshekke gebruik word (R180 vir die twee) en dit saam met die koppelstuk vasgesweis waar die halfmaanvoetstuk aan die hoekstut was.

Ek het ook vir die wiel 'n "band" opgesit. Dit is sommer daardie standaard-rubberringe wat jou motor se uitlaatpyp vashou. Die gedagte is dat die wiel sal rol as hy iets vang en dit dan die skade beperk.

Ek het my plan al getoets en is heel tevrede, maar ek reken dit sal beter wees om kleiner wieletjies te gebruik. Dalk die 60 mm-wiel met 'n groot O-ring vir die "band".