Buitelewe

Jaguar Sabor: Die (groot) kat kom weer

Het jy al gehoor van die Inkwe, Kovu, Zazu en Zaki?

Dit is almal bestaande modelle van Jaguar-woonwaens, en al die name verwys na groot katte.

Maar dit is nie waar die ooreenkoms eindig nie: Al dié waens het ook dieselfde uitslaanbed (of twee).

Uitslaanbeddens het al kenmerkend geword van boswoonwaens, maar nie alle kampeerders is te vinde daarvoor nie, omdat jy dan net 'n seilpaneel tussen jou en die wilde diere het.

Een oplossing vir dié dilemma is om terug te keer na die konvensionele woonwa-ontwerp, met die bed gewoon binne die wa met sy vaste panele, maar jy het steeds die vermoë van 'n boswoonwa.

Jaguar se antwoord is die Sabor.

Van nader

Buiten dat jy veilig in die dop slaap, het die eienaar van Jaguar, Jacques Serfontein, aan 'n paar belangrike goed gedink.

Die Sabor - die naam van 'n luiperd in die animasiefliek Tarzan - pas byvoorbeeld in 'n standaardmotorhuis en die onderstel én romp word van vlekvrye staal gemaak.

Om die gewig in toom te hou word aluminium gebruik vir die opwipdak en deurpanele.

Die deur is op die linkeragterhoek met die bed dan links by die neus wanneer jy inklim.

Voor jou, teen die oorkantse paneel, is 'n gesigwasbak met die kragboks regs hiervan. (Die boks is dus teen die agterpaneel.)

Hier kan jy die wa se 12 V- en 230 V-stroombane beheer vir dinge soos die waterpomp, ys-vrieskas, ligte en sonpaneel.

Hier is ook 'n 230 V-prop, 'n skerm waar jy die battery se voltlesing kan sien, en die beheerknoppe vir die geiser onder die wasbak.

Heel onder is 'n glyraam waarop jou kassettoilet pas.

Teen die agterpaneel is die klerekaste (mét hangplek).

Uiteraard beslaan die bed, wat net-net groter as 'n dubbelbed is, 'n groot deel van die binneruim.

Maar jy kan die slaapplek ook opslaan om twee banke te vorm met 'n tafelblad tussenin.

Die opwipdak sorg vir meer as genoeg ruimte bo jou kroontjie, want die vloer-tot-plafonhoogte is 'n goeie 2 m.

Soos met die meeste boswoonwaens is die buitekombuis in die linkerpaneel.

Hier is drie deure: Een bo die wiel wat as werkblad platslaan en lei tot 'n kas in die romp, een by die neus waar die ys-vrieskas uittrek, en dan nóg een bo die ys-vrieskas met nóg bêreplek.

In die middelste kas is een 230 V-sok en 'n multiprop. Die ys-vrieskas kan tot 90 liter groot wees, en op die punt van dié se glyraam staan die tweeplaatgasstoof.

By die stert, skuins onder die noodwiel, slaan 'n los raam op met plek vir 'n skottelgoedbak en droograk.

Alles in een

Die wa is byna volledig toegerus en slaggereed vir die kampplek.

Standaarditems sluit in die op- slaantafel, wasbak, hangkas, kassettoiletkas, LED-ligte en 'n laaistelsel vir die sleepvoertuig, breekware vir 6, die 270°-afdak, noodwiel, geiser en opwasraam met sy skottel en droograk.

Afhangend van jou kamp-behoefte kan jy die ys-vrieskas, ekstra battery of sypanele vir die afdak ekstra aanskaf.

(Desiree Hartney)

Van die mededingers Metaalboswoonwaens vir 2 sonder 'n uitslaanbed met 'n BVM van 1 600 kg of minder wat in 'n standaardmotorhuis pas

Adventure Xtreme Warrior R215 000

Het 'n staalonderstel met 'n aluminiumromp.

Summit Karenga R295 953

Het 'n vlekvryestaalonderstel met 'n aluminiumromp.

Infanta Enkulu 1 R368 000

Het 'n staalonderstel met 'n aluminiumromp.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM